Die vyfde seisoen van Mal Kamper belowe om die grootste, mees ambisieuse en mees adrenalienbelaaide nóg te wees. Met Dewald Visser agter die stuur, neem die gewilde kampeer- en avontuurreeks kykers vanaf Saterdag 10 Januarie om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) saam op ’n reis wat veel verder strek as gewone kampterreine – deur die afgeleë en ongetemde landskappe van Suid-Afrika én oor internasionale grense.
Hierdie seisoen verruil Dewald die bekende vir die onbekende, toegerus met sy volledig ingerigte Suzuki Jimny en sleepwa. Mal Kamper seisoen 5 spog met 26 plaaslike kampeerplekke, 13 oorsese avonture, 13 unieke eendag-4x4-roetes en meer as 50 splinternuwe bestemmings in totaal. Van die uitgestrekte Tankwa en ruwwe Sederberge tot die Weskus, Namakwaland, Karoo, Suid-Kaap en Overberg – elke bestemming bring sy eie uitdagings, asemrowende natuurskoon en onvergeetlike oomblikke.
Wat Mal Kamper besonders maak, is die kreatiewe manier waarop kamp en reis benader word. In hierdie seisoen word daar gekamp met bykans enigiets wat wiele het: die 3-deur én 5-deur Suzuki Jimny, ’n boot, ’n vetfiets, ’n vierwielmotorfiets en selfs ’n elektriese bromponie. Die 13 eendag-4x4-roetes toets nie net mens en masjien nie, maar wys ook hoe veelsydig en robuust die Jimny is wanneer dit by tegniese hindernisse en uitdagende terrein kom – alles terwyl die soektog na die perfekte kampplek vir die nag voortduur.
Die avontuur duur voort wanneer Mal Kamper sy grense oorsteek na Zambië. In die hart van die Kafue Nasionale Park kamp Dewald tussen wilde diere, vaar per boot tussen seekoeie en krokodille, verken die park vanuit die lug en beleef selfs ’n nag sonder tente onder Afrika se sterrehemel. Hierdie internasionale segment bring ’n rou, eerlike kyk na kamp en oorlewing in een van Afrika se mees indrukwekkende wildernisgebiede.
Nog verder noord wag Turkye met ’n totaal ander, maar ewe betowerende avontuur. Hier verken Dewald historiese stede soos Antalya, Perge en Side, vaar die Koprulu-rivier met ’n raft, en ervaar die ikoniese landskappe van Cappadocia vanuit ’n microlight én ’n warmlugballon. Die kombinasie van kultuur, geskiedenis, avontuur en kampvure skep ’n ryk, dinamiese kykervaring.
Met vuur op die kole, stof op die wiele en avontuur om elke draai bewys Mal Kamper se vyfde seisoen dat die beste stories ontstaan wanneer jy die wildste paaie kies. Dit is ’n reeks vir almal wat droom van die oop pad, die natuur se stilte en die opwinding van ontdekking – een kampplek op ’n slag.
Mal Kamper begin Saterdag 10 Januarie 18:30 op kykNET (DStv-kanaal). Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.





