Met ’n ongelooflike 32 seisoene agter die rug, is die span van La’t wiel terug op die lug op 14 Oktober met ’n splinternuwe 33ste seisoen.
Hannes Visser, Waldo van der Waal en André Weideman is weer aan die stuur en beloof om oudergewoonte vir alle petrolkoppe iets te bied – van goedkoop tot duur, vinnig tot rustig, van Polo’s tot Porsches.
“Wanneer daar duur motors op die skerm is, sê kykers gereeld hulle wil eerder motors sien wat bekostigbaar en meer realisties is, maar wanneer daar goedkoper en meer bekostigbare motors gewys word, dan is dit die meerderheid kykers se gevoel dat hulle veel eerder duur en begeerlike motors op TV wil sien,” sê Hannes. “Die realiteit is dat alle motors deesdae duur is, maar in die nuwe seisoen het ons werklik ’n groot verskeidenheid motors onder hande geneem.”
Hy sê daar is ’n paar wat uitstaan.
“Die legendariese en ikoniese Porsche 911 sal altyd uitstaan, en ons het sy nuutste weergawe bestuur. Almal is nie noodwendig Land Rover-aanhangers nie, maar selfs die gehardste Cruiser-manne sal verlief kan raak op die Defender Octa,” sê hy. “Hulle is natuurlik albei aan die duur kant, en so ook is die Audi RSQ8, maar mens kan ten minste sien waarvoor jy betaal.”
Aan die anderkant van die skaal is daar meer bekostigbare wiele soos Suzuki se DZire, ’n Honda HR-V en ’n Tata Harrier wat bespreek word.
“Maar buiten net motors van alle groottes, kleure en pryse, kyk ons ook na ’n paar ander motorverwante stories,” sê Hannes. “Hoe veilig is drukvertone (touchscreens) in moderne motors? Waar kan jy met ’n Lexus heen ry? Wat maak van die Hilux ’n legende? En wie is ons land se beste veldrenjaer?”
- La’t wiel begin op 14 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.