Die woord wetenskap kan dikwels hoogdrawend klink. Dít is egter glad nie die geval met kykNET se opwindende nuwe reeks IdeeMakers nie. Dié geheim: om jong kinders in ’n verstaanbare manier oor die kwessies wat hul wetenskapsprojekte aanspreek, te gesels.
“Dit is vir my baie inspirerend om te sien dat kinders goeie idees kan uitdink en dan die toewyding het om ’n projek daarvan te maak,” vertel Charlene Stanley, senior vervaardiger by Storytown Productions, wat die program vervaardig.
Dié produksiemaatskappy het onlangs ’n SAFTA-toekenning vir beste kinderprogram ontvang, en dit maak Charlene opgewonde om kinders se stories te vertel.
“Die kinders is oulik en entoesiasties. Kinders sê wat op hul harte is. Jy kan sien hulle is passievol oor die konsep wat hulle aanbied. Dit gee ’n mens hoop vir die toekoms,” voeg sy by.
Ideemakers se agt episodes begin Vrydag, 3 April, om 17:30 op kykNET uitsaai, en volg jong tieners se deelname aan die unieke Tritech-wetenskapkompetisie in Limpopo. Elke episode volg twee of meer deelnemers terwyl hulle stoei met hul idees en die kwessies navors om van hul projekte ’n sukses te maak.
Vrywilligers wat deel is van die kompetisie vertel ook hoe dit hulle inspireer, ’n kollig word op vorige projekte geskyn en kenners van die Universiteit van die Vrystaat deel die nuutste ontwikkelinge en potensiële geleenthede in uiteenlopende wetenskapsvelde.
Hoe kan ons hitte-energie van oop vure in elektrisiteit omskakel, het ou lemoene dieselfde hoeveelheid vitamien C as vars lemoene, en watter lekkergoed is die beste vir jou tande? Dis alles vrae wat die intelligente jong wetenskaplikes ondersoek.
In die laaste episode sien die kyker die deelnemers in aksie terwyl hulle senuwees en struikelblokke oorkom om hul projekte aan die beoordelaars voor te lê. Die kategoriewenners en beste projek van 2025 se kompetisie word dat ook aangekondig.
“’n Groot aspek van die kompetisie noodsaak die leerder om ’n kwessie in húl omgewing aan te spreek,” verduidelik Charlene.
“Die deelnemers is kinders wat belangstel in wat om hulle aangaan, wat omgee, wat die wêreld wil verbeter en wat glo in hulle idees.”
Die idee vir die reeks het ontstaan toe die Universiteit van die Vrystaat, wat al ’n geruime tyd as borg van die kompetisie betrokke is, vir Storytown Productions genader het om die reeks te verfilm en bymekaar te sit.
“Dit is lekker om sulke stories te vertel wat kinders regtig op hul eie manier vertel: wat hulle doen en dink. Dis nie ingewikkelde wetenskaplike beginsels nie, dis hoe wetenskap in die daaglikse lewe ’n verskil kan maak,” vertel Charlene.
Ideemakers begin Vrydag, 3 April, om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) wys. Dit kan ook op DStv Stream gekyk word.





