kyknet channel logo

"Een keer om die son" terug vir ’n tweede omwenteling

Nuus11 Desember 2025
Die tweede seisoen van "Een keer om die son" begin op Dinsdag, 20 Januarie op kykNET.
Een keer om die son S2 Article Image

Die dramareeks Een keer om die son was in 2024 ’n reusetreffer. Die goeie nuus is dat die Van Wyks ons vir nog ’n omwenteling gaan neem wanneer die nuwe seisoen op 20 Januarie op kykNET begin.

Een keer om die son se tweede seisoen skop op Nuwejaar af, maar hierdie keer is die Van Wyks nie almal saam om dit te vier nie. Die lewe het sy pad geloop, en elkeen het hul eie uitdagings – nie net op die eerste dag van die jaar nie, maar ook in die twaalf maande daarna. Onder die uitdagings tel aanvaarding vind, tweede kanse aangryp, verslawing, lewensveranderende mediese probleme en elkeen se soeke na hulle plek in die familiekring.

Jacques Bessenger is weer te sien as dr. Ruan van Wyk, ’n neuroloog wat sy werk soms voor ander prioriteite plaas. Jana Kruger is Lani van Wyk, wat in die eerste seisoen oorlede is en wie se dood meer vrae as antwoorde gelos het. Lani is in terugblikke weer deel van seisoen 2.

Ruan en Lani se kinders is Markus (Liam Bosman), Leandri (Alma van Heerden) en Sophia (Klara van Zyl), en in seisoen 2 het elkeen ’n uitdaging wat in hulle pad staan.

Albert Maritz is te sien as Sebastian, die afgetrede professor in insektekunde, en Joanie Combrink is Elma, die matriarg van die Van Wyks wat in seisoen 1 met Alzheimer se siekte gediagnoseer is.

Amé (Donnalee Roberts), Ruan se jonger suster, se huwelik het in die eerste seisoen op die rotse beland. In seisoen 2 vind sy haar voete as onafhanklike en ambisieuse vrou, maar sal sy weer liefde vind?

’n Nuwe karakter in seisoen 2 is Erika du Randt, ’n maatskaplike werker wie se loopbaan haar eerste en enigste liefde is. Die rol word deur Cindy Swanepoel vertolk.

Ander karakters wat terugkeer, is Sebastian en Elma se goeie vriende Salie en Jan Wessels (Susanne Beyers en Pierre van Pletzen), Markus se dansmaat, Charlie (Simone Neethling), Leandri se kêrel, Xavier (Alex van Dyk), Lani se pa, Trevor de Kock (Deon Lotz), die verpleegsuster Karen (Isadora Verwey) en Charl Boshoff (Ivan Botha), Amé se baas. Die jong akteur Heinrich Wentzel, bekend vir sy rolle in Niggies en Die nuusmakers, is te sien as Elijah Smith, met wie Leandri se pad op ’n ongewone manier kruis.

Die reeks is deur Ivan Botha, Donnalee Roberts, Liani Jansen van Rensburg, Marista van Eeden en Almero Welgemoed geskryf. Ivan, Donnalee en Danie Bester is die vervaardigers, en Ivan is die regisseur. Hyuandai is ’n trotse borg van Een keer om die son.

“ ’n Belangrike beginpunt vir ons was beslis wat die hart van die tweede seisoen moet wees; wat daardie boodskap en gevoel is waarmee ons kykers ná elke episode en ná afloop van die reeks wil laat,” sê Donnalee oor hoe hulle die legkaart vir die tweede seisoen gebou het. “Dit het elke keer teruggekom na een woord: hoop. Mense moet besef dat in hierdie lewe – maak nie saak hoeveel keer jy struikel nie – daar altyd hoop is: hoop vir opstaan, hoop vir vernuwing, hoop op ’n tweede kans. Maak nie saak hoe donker tye voel nie, die son gaan altyd weer skyn.”

“Dit is altyd ’n uitdaging om ’n tweede seisoen aan te pak, veral as die eerste seisoen ’n sukses was,” sê Ivan. “Ons is uiteraard dankbaar vir die sukses en dat dit so geliefd was, maar ons het ook geweet dat die storie nog nie klaar vertel is nie. Dit was ’n fees om die karakters weer af te stof en as ’t ware weer ou wonde oop te krap. As jy gehou het van seisoen 1, gaan jy mal wees oor seisoen 2.” 

Hy sê daar is iets vir almal en storielyne vir alle generasies.

“Daar is ook ’n lekker spanningslyn wat deur hierdie seisoen loop,” sê Ivan.

“Ja, kykers kan alles verwag – spanning, liefde, hartseer, humor. Die balans van seisoen 2 is voller as die eerste seisoen,” sê Donnalee. “Daar word verskeie temas aangeraak: angs en depressie, om jou eie sterflikheid in die oë te kyk, wat ná die dood gebeur, verslawing en hoe maklik dit kan gebeur, generasies wat weer saam onder een dak moet woon en ja, tweede kanse. In die hart en kern kom ons egter terug na die feit dat familie die middelpunt van jou sonnestelsel moet wees.”

Sy sê families is geneig om dinge onder die mat te vee. “Soos die Van Wyks ook geneig is om te doen, maar hierdie keer werk hulle baie hard om die mat op te rol.”

Vir Ivan was dit belangrik om vernuwing na die tweede seisoen te bring. “Ons het ’n groot storiewêreld met verskeie plekke waar ons verfilm het. Dan is daar natuurlik ons ongelooflike akteurs en tegniese span wat net so hard gewerk het om self meer na die tweede seisoen toe te bring. Ná die partytjie op die laaste dag van ons verfilming, het ek ’n boodskap van een van die produksielede gekry wat gesê het dit het vir haar gevoel of sy weer lig sien. Ek hoop kykers sien daardie lig ook.

“Ons hoop hierdie seisoen gee vir mense die moed om gesprekke met hulle eie families oop te breek – om nie bang te wees hulle familie verstaan hulle nie of bang te wees vir oordeel nie. Ons moet begrip vir mekaar hê en besef ons is eintlik net hier om mekaar huis toe te loop.”

Vir Donnalee was dit ’n voorreg om weer saam met Ivan as regisseur te werk. “Hy is op dag een dieselfde as wat hy op dag 65 van verfilming is. As regisseur en produksieleier het hy ’n ongelooflike vermoë om vir almal hulle spasie te gun. En omdat hy so hard werk, inspireer hy ander om ewe hard te werk en net so diep te delf.”