web uni tv guide
Diepe waters S4 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Akteurs Izak Davel en Christel van den Bergh maak hart oop oor Diepe Waters se Viljoen Vyf

Nuus24 Februarie 2026
Lanklaas het ’n familie kykers van kykNET (DStv-kanaal 144) se telenovela Diepe Waters só warm onder die kraag gehad.
Diepe waters

Toe Die Viljoen Vyf verlede jaar Augustus in Boskruin opdaag, was hulle die nuwe gesigte wat met hul ambisie en werksetiek die ander swemmers kwaai kompetisie gebied het. En dit nog boonop as sosialemedia-sterre! 

Ja, Pa Schalk (Izak Davel) en Ma Leandri (Christel van den Bergh) was streng, maar dit alles was met die doel voor oë om hul drie kinders die heel beste swemmers te maak wat hulle moontlik kon wees.



Maar een vir een het Marco (Xander Venter), Danie (Chartyn van Heerden) en Hanneli (Carla Schönfeldt) onder die aanhoudende druk en skerp publieke blik begin struikel.

“As akteur het ek nogal lank gebid vir ’n rol wat my kan uitdaag tot op ’n volgende vlak. Toe kry ek hierdie rol en besef ek het nou my hande vol, ek het hiervoor gevra,” lag Izak Davel, wat voorheen in reekse soos Egoli en Reënboogrant te sien was.

Christel het ’n paar keer oor die jare vir rolle in Diepe Waters oudisie, maar die regte karakter het net nie oor haar pad gekom nie. Tot Leandri, al is hulle twee baie verskillend van mekaar.

“Leandri is heel moontlik die mees normale karakter wat ek ooit gespeel het. Sy is ’n baie plain jane, anders as ek,” lag Christel, wat deesdae meer agter die kamera as regisseur en vervaardiger doenig is.

“Hoe ek aanvanklik vir Leandri in my geestesoog gesien het, en wie sy is, is heeltemal verskillend,” verduidelik Christel. In daardie stadium was sy nog “salig onbewus” van haar karakter se geskiedenis en toekoms.


Toe Izak oor die karakter begin lees, het hy hom gehaat.

“Ek haat hom nogsteeds, want alles wat hy is, is ek nie. En alles wat ek is, is hy nie. Ek was verskriklik emosioneel moeg in die aande omdat ek so diep moes gaan in sy karakter op ’n plek wat ek nie kan wees nie.”

Stelselmatig het kykers se haat vir die individuele lede van Die Viljoen Vyf begin opdroog soos die strome van verandering onder die oppervalk begin draai het.


Eers het Hanneli teen haar ouers opgestaan, toe is dit Danie, wat ná ’n oordosis vitamienaanvullings in die hospitaal beland, wat sy rug op sy ouers draai.

Dié gesondheidskok het ook die oogklappe van Ma Leandri se oë laat afval: Só kon dinge eenvoudig net nie aangaan nie.

“Soos hulle sê: ‘A leopard never change its spots.’ Schalk het probeer, maar hy het net ongelukkig daardie element tot sy karakter dat hy enige oomblik kan ontplof,” verduidelik Izak.

Toe verander álles. Schalk lig sy hand teenoor Leandri en hul huwelik lei finaal skipbreuk. Dit sou egter nie die enigste keer wees nie.

“Ek was baie chuffed met Leandri wat ná een keer wat Schalk haar geslaan het, besluit het om te waai. Want ek sou dit ook gedoen het as ek in haar skoene was,” vertel Christel.

Marco, wat tot op daardie stadium sy pa verafgod het, kon net nie die feit verwerk dat sy pa hangemeen met sy ma kon raak nie.

Vir Izak was dit veral spesiaal om op die stel van Diepe Waters te stap, omdat hy weer met die regisseur Gert van Niekerk kon werk.

“Ek het Egoli begin by Gert. Hy is ’n pa vir my in die vermaakbedryf. Hy het ’n amazing manier om jou te guide en te push,” vertel Izak.

Dit is einste saam met Gert, en met die ondersteuning van die ander akteurs, wat Izak so lekker kon werkskaf aan Schalk se moeilike karakter.

“Ek en Gert het besef we had to play it real. Mense moet in sommige aspekte kan assosieer met die karakter, al is dit nie ’n lekker ding nie,” sê hy. “Christel en die kinders het my ook baie gehelp en ondersteun.‘

Schalk se publieke woede-uitbarstings, dreigemente teenoor Leandri en manipulasie van sy gesin, was later algemeen in Boskruin. Beloftes van verandering en vebetering was volop, maar Schalk se aksies wou net nie met sy verskonings strook nie.

En dít is wat kykers die harnas in gejaag het.

“Mense het my begin aanvat op sosiale media,” verduidelik Izak. “En toe dit gebeur, toe weet ek die karakter werk. Mense is nie veronderstel om van dié ou te hou nie. Hy is ’n narsis en psigopaat.”

Dis ’n wipwaentjierit, want hoe minder kykers van Schalk hou, hoe meer ondersteun hulle vir Leandri en die kinders.

“Ek is al lank in vermaakbedryf, daarom was dit baie lekker om ou vriende en mense wat soos familie is, te sien,” verduidelik Christel, wat saam met akteurs soos Altus Theart en Werner en Marijke Coetser in Getroud met rugby te sien was.

“Maar my gunstelingaspek om op stel te gaan, was om saam met Izak, Chartyn, Carla en Xander te werk. Hulle is incredible,” voeg sy by.

Izak beaam: “Al vyf van ons is lekker laf. Ons het ons eie WhatsApp-groepie.”

Hoewel Schalk nog ’n aanhoudende bedreiging vir die inwoners van Boskruin is, kry boontjie deesdae beslis sy loontjie.

En dit is ook maar goed so, meen Izak.

“Ons ouers het mos altyd gesê: ‘As jy nie wil hoor nie moet jy voel!’”

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dis ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.