web uni tv guide
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 VL

Hoogtepunte in Oktober op die kykNET-kanale

Nuus01 Oktober 2025
Spoorloos: Losprys se laaste twee episodes, ’n splinternuwe dramareeks, die boere wat hul finale keuses maak én ’n nuwe seisoen van Megaboere. Song vir Katryn sing ook weer saam, terwyl verskeie ander opwindende en leersame programme wys dat Oktober inderdaad die mooiste, mooiste maand is.
Oktober hoogtepunte article image

Hier is waarna kykers kan uitsien tydens Oktober op die kykNET- kanale: 

kykNET

Spoorloos: Losprys

7 Oktober

’n Geheim bars los oor Helderveld, en wanneer die Lourense uitmekaar geruk word, neem Lynette die leiding oor. Anita is verbaas wanneer Frank haar om hulp vra, en die polisie is op iemand se spoor.

14 Oktober

Die dag van die veiling breek aan, en Abraham wil die waarheid weet. Donker geheime word finaal ontbloot, en Lynette is in ’n wedloop teen tyd wanneer lewens op die spel geplaas word, maar wie gaan uiteindelik die prys betaal? 

  • Spoorloos is op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.

 Appels en tee

Diaan en Tinarie skitter in nuwe dramareeks vir kykNET

“Bloed is dikker, maar tee is sterker.” Dít is die lokreël van Appels en tee, kykNET se splinternuwe dramareeks wat op 21 Oktober begin.

In Paradysbos lyk Lisa Rossouw se lewe perfek. Sy bestuur ’n florerende teetuin saam met haar gerespekteerde man en voorbeeldige seun. Wanneer die De Klerks met hulle motor voor die teetuin in ’n ander kar vasry, verskyn haar langverlore vriendin Henriëtte weer ná 27 jaar. Is dit toeval, of die noodlot? Die De Klerks het hulle plaas verloor, en Lisa bied vir hulle ’n heenkome tot hulle weer op hulle voete is. Dit bring ou herinneringe terug en krap ou wonde oop.

Die dramareeks beweeg tussen die hede en die Langkloof in die negentigs waar Lisa en Henriëtte hulle hegte tienervriendskap en drome deel, maar ’n reeks donker geheime die twee uiteindelik uitmekaardryf.

Met die vriendinne se herontmoeting, moet Griet, Henriëtte se ma, en Jakkals, Lisa se pa, hulle eie wonde en wrokke in die gesig staar. Annie, Henriëtte se dogter, moet met haar doofheid vrede maak en vorm ’n ongewone vriendskap met Lisa se seun, Francois. Kraakvars appels simboliseer die onskuldige verlede, terwyl tee – nes ware vriendskap –  medisyne vir die hede bring. Dis ’n grootwordverhaal waarin verskillende generasies ’n nuwe lewensfase moet aandurf.

Diaan Lawrenson speel die rol van Lisa, en Tinarie van Wyk Loots is Henriëtte. Griet word vertolk deur Rika Sennett, en Bianca Langedyk is Annie. Lisa se man, Dawid Rossouw, word deur Ivan Zimmermann gespeel, en Neels van Jaarsveld is Henriëtte se man, Wessel de Klerk. Ian Roberts is Jakkals Boshoff, en Jacques Erasmus speel die rol van Lisa en Dawid se seun, Francois. Hannah Borthwick, Rika Sennett se aktrise-dogter, speel die jong Griet, en Hendrik Cronjé is die jong Jakkals. Anya Human is Lisa, en Nicola Nothnagel is Henriëtte in 1998. Ander spelers sluit Viljé Maritz, Moses Williams, Beata Bena en Marlo Minnaar in.

Tina Kruger is die hoofskrywer en uitvoerende vervaardiger met Berdene Burger en Gita Fourie as medeskrywers. Berdene is ook die regisseur en vervaardiger van die reeks en eienaar van Meerfout Films. Die reeks is in die Langkloof, Hoekwil en op die Tuinroete verfilm. Tasché en Janine Neethling is vir die temaliedjie verantwoordelik.

“Daar is iets vir elkeen in die reeks,” sê Berdene. “Ons vier vrouwees, maar kyk ook na die uitdagings van die hedendaagse pa en man. Hoe hou mens aan voorsien ten spyte van groeiende ekonomiese druk? Hoe bind geheime ons? Wat gebeur wanneer liefde taan? Vryheid is slegs moontlik wanneer die waarheid seëvier. Ouer word beteken nie dat daar nie tweede kanse is nie. Vergifnis hoef nie te laat te kom nie.”

Oor die rolverdeling sê Berdene: “Ons was op soek na twee sterk vrouens om die hoofrolle te vertolk, en Diaan en Tinarie het ontsagwekkend daarin geslaag om die verskillende fasette van vrouwees en ma-wees met soveel sensitiwiteit uit te beeld. Rika en Ian was voor die hand liggende keuses vir die ouer karakters, en ons het vars talent in Bianca en Jacques gevind. Neels en Ivan was ons twee ankers as die mans in Lisa en Henriëtte se lewens.” 

  • Appels en tee begin op Dinsdag 21 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Boer soek ’n vrou

2 Oktober

Daar is nou net twee pasmaats op die plaas oor. Die boere nooi ook vriende en familie oor vir ’n braai sodat hulle die pasmaats kan ontmoet en ook hulle opinie kan vorm.

9 Oktober

As mens deel raak van ’n boer se lewe, raak jy ook deel van die omgewing. Reandi besoek ’n paar organisasies sonder winsbejag en plekke in nood met die pasmaats. Kan hulle hulself hier sien aanpas?

16 Oktober

Dis tyd vir die boere om te besluit, maar is beide pasmaats nog gretig om die verhouding verder te voer? Vandag kies elke boer die pasmaat wat moontlik die liefde van sy lewe kan wees.

23 Oktober

Dit is tyd vir die boere om hul gekose pasmaats se familie en vriende te ontmoet. As die kennismaking met die skoonfamilie goed afloop, is daar dalk hoop vir ’n gelukkige toekoms saam.

30 Oktober

Die boere en hul pasmaats gaan hou vakansie. Tydens die vakansie kry hulle die kans om mekaar goed te leer ken, weg van die plaas en weg van familie en vriende.

  • Boer soek ’n vrou is op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.

Song vir Katryn II

Die tweede seisoen van Song vir Katryn word vanaf 19 Oktober uitgesaai. Dit het destyds op 15 Julie 2004 op kykNET begin en was, soos die eerste seisoen, ’n treffer onder kykers. In die rolverdeling is Therese Benade (deesdae Bam) as Katryn, Valiant Swart as die dokter-musikant Jinx, Milan Murray as die joernalis Jo Retief, Jacques Gombault as die skurk Robert Gouws, Francois Coertze as Ernst Hulbrand en Antoinette Kellermann as Hanna, Katryn se ma.

19 Oktober

Robert Gouws word gevonnis. Ná ’n traumatiese gebeurtenis in Londen pak Katryn haar tasse en vlug terug na Suid-Afrika. Jinx is verbete op soek na sy liefde wat so spoorloos verdwyn het, terwyl Hulbrand haar swartsmeer.

26 Oktober

Die koerantjoernalis Jo Retief vra uit oor Katryn se verdwyning in Londen. Jinx en Katryn se ma, Hanna, meld Katryn se verdwyning by die polisie aan. Robert Gouws maak “vriende” in die tronk. 

  • Song vir Katryn II begin Sondag 19 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

 Vetkoekpaleis

Dit is een van die mees ikoniese Afrikaanse komediereekse, en nou kan kykers weer die pret en plesier van Vetkoekpaleis beleef. Ja, die reeks wat die eerste keer in 1996 op lug was, kom maak ’n draai op kykNET.

Vetkoekpaleis vertel die verhaal van Frik Delport wat sy werk verloor het en dan ’n eetplek oopmaak wat vetkoeke verkoop. Frik, of Frikkadel soos sy vrou, Poppie, hom noem, besef egter vinnig dit is nie so maklik nie. Gelukkig is Worsie, Poppie se suster Ella se seun, daar om die vetkoeke te maak en is die kelnerin Boeboe altyd gewillig om te help. Die sekuriteitsmanne Sheridan en Fokile sorg dat dinge veilig bly.

In die rolverdeling is Zack du Plessis (Frik), Willie Esterhuizen (Worsie), Hélène Truter (Poppie), Liane Heyl (Boeboe), Alvin Bruinders (Sheridan), Marga van Rooy (Ella) en Hugh Masebenza (Fokile). Ander spelers is Tobie Cronjé as Spiros, Lizz Meiring as Sue-Ellen en Cobus Visser as Mnr. Lou. Die reeks is deur Willie geskryf, en die regisseur is Pieter Esterhuizen.

  • Vetkoekpaleis begin 6 Oktober om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

 Santam Megaboere

Die trefferreeks Megaboere keer terug met 13 splinternuwe stories van boere met durf, kreatiwiteit en visie. Van sitrusplase in Kirkwood tot varkboerderye in KwaZulu-Natal, en selfs plase anderkant ons grense – dié megaboere wys hoe uitdagings in geleenthede omskep kan word.

Die reeks vier die moed, vernuf en passie van mense vir wie boerdery nie net ’n werk is nie, maar ’n ingesteldheid en ’n lewenswyse. Met ’n nuwe aanbieder, Marco Botha, en asemrowende beeldmateriaal, vasgevang deur die produksiespan wat meer as 54 000 km afgelê het, beloof hierdie seisoen hoop, inspirasie en stories oor mense wat ’n verskil maak.

  • Santam Megaboere begin Maandag 13 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

 

Prontuit

Begin Woensdag 1 Oktober om 21:00

Prontuit se nuwe reeks delf in vier boeiende temas met die afskop: In Episode 1 kyk ons na die gevare én moontlikhede van kunsmatige intelligensie, waar selfs prokureurs al deur vals gevallestudies mislei is – kenners soos Dr Emarilda Dankaert en Arthur Goldstuk help ons sin maak van dit alles. Episode 2 neem ons op ’n fossielreis deur Suid-Afrika se paleontologiese skatkis, met besoeke aan nuwe toerismesentrums en insigte van Bruce Rubidge en Gideon Groenewald oor hoe hierdie veld ons ekonomie kan stoot. In Episode 3 word die lewenskoste-krisis ontleed – met miljarde wat reeds uit aftreefondse gehaal is, vra Prontuit hoe mense oorleef en wat ons met ons geld doen, saam met Divan Botha en Johan van Tonder. Episode 4 kyk na die psigedeliese revolusie, waar towersampioene en soortgelyke middels dalk ’n rol kan speel in geestesgesondheid en verslawing – met insig van kenners soos Dr Anthony Townsend en Prof Marieke Grysenhout.

Waar daar ’n wil is

Nuwe stories. Nuwe gesigte. Maar almal met ’n ysere wil. Ná die groot sukses van die eerste seisoen, keer die inspirerende geselsreeks Waar daar ’n wil is terug met ’n splinternuwe seisoen, verfilm by die AfriForum Teater in Pretoria gedurende Julie en Augustus vanjaar. Die tweede seisoen skop af op 7 Oktober 2025 om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onder die vaardige leiding van die aanbieder, Lee-Ann van Rooi, bring die program weer eerlike, intieme en verrassende gesprekke met uiteenlopende Suid-Afrikaanse gaste – mense wat almal deur uitdagings gewerk het, vasgebyt het en met hul lewensverhale bewys het: Waar daar ’n wil is, is daar inderdaad ’n weg.

In die tweede seisoen val die kollig op Suid-Afrikaners wat nie net hul eie pad na sukses gestap het nie, maar ook hul menslikheid, kwesbaarheid en geloof in ons land met Lee-Ann deel. Elke episode bied ’n vars perspektief op die persoon agter die titel – die pa, die ma, die vriend, die mens.

Lee-Ann, aanbieder van die reeks, sê: “Ek wil hê kykers moet leer dat ek hierdie mense eer – want ons verskil, maar dit is goed en reg.”

Die nuwe seisoen beloof kragtige en onvergeetlike stories. Rayno Nel, Suid-Afrika se sterkste man in die wêreld, neem kykers saam op sy ongelooflike reis. AfriForum-leier Kallie Kriel nooi Lee-Ann en kykers na ’n gesinsbraai waar daar gesels word oor familie, dad jokes en braaivleis. Professor Debra Meyer, gerespekteerde biochemikus en voormalige SABC-weeraanbieder, gesels passievol oor Afrikaans as akademiese taal. John Steenhuisen, leier van die opposisie en minister van landbou, deel sy politieke reis en uitdagings. Cedwyn Joel, ’n lewende teater- en TV-legende, vertel oor sy dekades lange loopbaan, terwyl die geliefde aktrise Susan Coetzer gesels oor hoe sy haar persoonlike en professionele lewe balanseer.

Kykers kan uitsien na ’n seisoen vol openhartige gesprekke en verrassende oomblikke – ’n herinnering dat elkeen van ons ’n storie het wat die moeite werd is om vertel te word.

Waar daar ’n wil is word vervaardig deur Green Planet Productions, wat ook verantwoordelik is vir programme soos Ommighellie, Trend en Varsity sing.

  • Waar daar ’n wil is begin op 7 Oktober 2025 om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Pootpraktyk      

Pootpraktyk volg die dapper diere wat by die Valley Farm-dierehospitaal deur kundiges en spesialisveeartse behandel word. Van honde en katte tot voëls, slange en eksotiese diere – elke dier se reis van behandeling tot herstel word van begin tot einde gevolg.

Hierdie reeks van 13 aflewerings wys die waarde van ons troeteldiere en die sorg wat hulle verdien, met humor, hart en ongelooflike stories.   

 

  

  • Pootpraktyk begin op 11 Oktober om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Tussen mure – Masculus

Die splinternuwe kykNET-reeks Tussen Mure – Masculus, gegrond op die koffietafelboek Masculus – The Male Domain deur Leoni Smit, neem kykers op ’n stylvolle toer vol insiggewende gesprekke deur Suid-Afrikaanse mans se interieurs. Elke episode bied unieke ruimtes en stories – van historiese erfenis tot moderne ontwerp. Die aanbieders, Leoni Smit en die ontwerper Eugene Coetzee, kombineer hul kreatiewe oog en unieke aanslag om kykers te inspireer met interieurs vol karakter, geskiedenis en verrassing.

  • Tussen mure – Masculus begin op 5 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Nuwe Voetspore val in Suid-Amerika

Bolivië en Peru, Ecuador en Colombië. Die grootste soutpan in die wêreld, Salar de Uyuni, en La Higuera, waar die rebellevegter Che Guevara gesterf het. Die bekende erfenisgebied Machu Picchu, Cali, die salsa-hoofstad van die wêreld, en die voëls van Mindo.

Dit is maar net ’n paar van die plekke wat die Voetspore-span besoek het en wat deel uitmaak van Voetspore: Suid-Amerika 2, wat op 19 Oktober op kykNET (DStv-kanaal 144) begin. Dis ’n onvergeetlike reis van dramatiese landskappe, geskiedkundige plekke, uitsonderlike natuurskoon en kulturele verskeidenheid.

Voetspore: Suid-Amerika 2 het vir my as die vervaardiger van die reeks die geleentheid gegee om te gaan delf in die onbekende,” sê Johan Badenhorst. “Van die streek – wat Bolivië, Peru, Ecuador en Colombië insluit – het ons bitter min geweet. Dis nou afgesien van Machu Picchu en dalk die dwelmkartelle van Colombië. Maar hierdie deel van die kontinent bied soveel meer, soos Salar de Uyuni, die grootste soutmeer in die wêreld, en San Vicente, waar Butch Cassidy en die Sundance Kid gesterf het. Ook die Nazca-lyne in Peru wat in 2 000 jaar se misterie gehul is en die uitsonderlike Ecuador met van die vriendelikste mense op aarde.”

Hierdie verkenningstog deur die noordweste van Suid-Amerika is een van die kleurvolste en kultureel mees diverse reise wat Johan en sy span nog ooit aangepak het. “Elke episode is ’n juweel met sy eie verskeidenheid van avontuur, kultuur en geografiese skoonheid.”

Die tweede reeks in Suid-Amerika begin waar die eerste een geëindig het – in Uruguay. Die span reis deur Uruguay en Argentinië na Bolivië. Dit is ’n blootstelling aan vreemde, nuwe landskappe en ’n lang en vermoeiende reis. By Tupiza vat die span die spoor van die voortvlugtende Butch Cassidy en die Sundance Kid en volg die roete tot by San Vicente, waar dié twee rampokkers deur die gereg ingehaal en doodgeskiet is.

Die reeks, wat uit 13 episodes bestaan en op 11 Januarie 2026 ten einde loop, sluit af in Medellín, eens bekend as die dwelmhoofstad van die wêreld waar Pablo Escobar ’n skrikbewind gevoer het. In die afgelope dekade het die stad egter ’n metamorfose ondergaan en is dit vandag een van die veiligste stede ter wêreld. Die span ontmoet ook ’n Suid-Afrikaner wat die Colombiane leer om biltong en boerewors te eet en besoek Westfalia se avokadoplase naby Sonsón.

  • Voetspore: Suid-Amerika 2 begin Sondag 19 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

 Nuwe seisoene van gewilde reekse

Ysters op die platteland      

Begin Saterdag 4 Oktober om 19:30

Na die sukses van Ysters op die landgoed is dit tyd vir ’n nuwe avontuur. In Ysters op die platteland reis Herman Watney, Johnny Davids en Alwyn Hollenbach deur dorpies soos Swellendam, Montagu en Jacobsdal om die mense, stories en beskeie gholfbane te ontdek saam met die aardse sjarme wat die platteland so na aan die hartklop van Suid-Afrika hou.

1 Spoor avonture       

Begin Maandag 6 Oktober om 17:30

 1 Spoor avonture keer terug met nog ’n epiese tog, aangebied deur André de Villiers, saam met Hans Strydom en Franswa Smit. Die span verken Suid-Afrika se mooiste grondpaaie en bergpasse – van die Oos-Vrystaat en Karoo tot by Kaap Agulhas. Kykers kan uitsien na asemrowende natuurtonele, praktiese wenke, kameraadskap en egte kampvuurstories wat die vryheid en bekoring van motorfietsry-avonture vier.

KoppieTeeFontein    

Begin Dinsdag 7 Oktober om 21:30

Jak de Priester kuier weer saam met van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars in KoppieTeeFontein. Hierdie seisoen het ’n vars formaat, en gaste gesels spontaan oor foto’s wat hul loopbane simboliseer – van hul beginjare tot vandag. Jak maak ’n draai by, onder andere, Bok van Blerk, Eloise Cupido, Jannie du Toit, Shimmy Isaacs, Tobie Cronjé en Rina Hugo. Die program bied insig, vermaak en ’n unieke blik op die mense agter die bekende gesigte.

Met ’n huppel in die stap     

Begin Woensdag 8 Oktober om 17:30

Wie sê ouer word, is vervelig? In Met ’n huppel in die stap ondersoek die aanbieders – Riaan Cruywagen, Bettie Kemp, Simon Bruinders en Jacqui January – temas soos ’n aktiewe leefstyl, lewenswysheid, herinneringe en betekenisvolle ervarings ná 50. Hierdie seisoen sluit in onderwysers wat hul leerders na oorsese uitreike neem en ’n besoek aan die Krugerhuis-museum ter ere van President Paul Kruger, en kyk ook na die oorsprong en wetgewing rondom jakarandabome.

 Vat jou goed en trek

Begin Vrydag 10 Oktober om 17:30

Die geliefde eiendom-opknapprogram Vat jou goed en trek keer terug – met nuwe vuur en vlam. Henck Conrey en sy span toer dwarsoor Suid-Afrika – van Polokwane tot Gansbaai – en help gesinne wat hul huise wil verkoop. Met indrukwekkende opknappings, vars dekor en praktiese wenke wys hy hoe om ’n eiendom se volle potensiaal te ontsluit en dit vir die beste moontlike prys te verkoop. Elke episode bied ’n nuwe familie, unieke stories en inspirasie vir almal wat daarvan droom om ’n huis suksesvol van die hand te sit.

Wanderlus     

Begin Saterdag 11 Oktober om 18:00

Hennie en Nicole Bosman neem kykers in die nuwe seisoen van Wanderlus op ’n onvergeetlike reis deur Namibië, Suid-Afrika, Lesotho en Madagaskar. Van woestyne tot oerwoude, berge tot die see – elke episode bied avontuur, plaaslike kultuur en heerlike kos. Ontdek geheime resepte, asemrowende natuurskoon en die unieke stories van die mense en plekke wat hulle besoek. Seisoen 4 van Wanderlus beloof meer avontuur, meer smaak en meer inspirasie as ooit tevore.

Sepies

Binnelanders
Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Anya is bekommerd oor Joe wanneer een van sy pasiënte sterf, en Tertius is gefrustreerd wanneer hy meer inligting oor die oorsaak van die dood bekom. Rudolf daag in Pretoria op, en Nicolette is geskok wanneer sy uitvind hy werk aan ’n Binneland-saak, veral aangesien dit haar in ’n baie moeilike situasie plaas. 

Elise is geskok wanneer sy Annetjie se woonstel van binne beskou, en sy oorreed Uys om haar te help opruim. Annetjie bereik, uiteindelik, ’n keerpunt wanneer sy haar hart teenoor haar vriendin oopmaak. Hannah gaan sien ’n sielkundige, en Louis se vermoedens oor haar word deur die skool bevestig. Nuus oor Delia se terugkeer versprei soos ’n veldbrand, en Amor is bekommerd dat sy ontbloot mag word. Johan maak sy opwagting, en LJ is terug. Nicolette deel groot nuus oor Tracy. 

 Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

In Oktober wag daar hope drama en versoenings en waai daar ook vars briesies in Suidooster. Brendan se skokkende gedrag ruk die Thuli-gesin. Gaan Siya hom kan vergewe? Intussen is daar groot wrywing tussen Angie en Tino, maar ná openhartige gesprekke ontwikkel ’n sterk vriendskap.  

By die Samsodiens is dit verhuistyd: Kaashifa en Rhafiek koop Mymoena se huis, maar dit veroorsaak gou spanning tussen skoondogter en skoonma. Wanneer ’n Samsodien-familielid onverwags opdaag, bring dit nuwe konflik en krap ou wonde oop.

Wade worstel met sy eie pad in die lewe en kry die kans om entrepreneur te speel, maar sy planne raak al hoe meer vol slaggate, veral met Nazeem se betrokkenheid. Terwyl Gary en Frankie eksperimenteer met “wonderpille” vir spierbou, lei dit tot allerhande snaakse (en gevaarlike) gevolge, maar dalk ook ’n nuwe liefde vir Gary.

 Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Oktober in Diepe waters bring nuwe uitdagings en verrassings vir baie van die karakters. Sanet se gedrag trek al hoe meer aandag, en dié wat die naaste aan haar is probeer op hul eie maniere om haar by te staan.

Intussen is Juvan se optrede ’n bron van kommer vir Nina en Gys. Sy onstuimige gedrag plaas druk op almal rondom hom. Vir Nina beteken dit om haar eie grense te toets en vir Gys om homself te vra hoe ver hy bereid is om te gaan om te help.

Zelda se teenwoordigheid op Gys se erf bring weer spanning, veral wanneer Frans onverwags in die prentjie verskyn. Dit skep ’n interessante nuwe dinamiek wat vir Pam en die Swarts-broers moeilik is om te ignoreer.

 

kykNET&kie 

Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Ronnie se lewe tuimel vinnig afdraand. Sy onstabiele toestand ruk nie net homself nie, maar ook almal rondom hom. Hazel se lojaliteit word op die proef gestel wanneer sy hom by Christine se huis betrap, terwyl sy self worstel met haar skuldgevoelens oor haar verbintenis met Fabian. Wat aanvanklik soos ’n ontsnapping uit haar realiteit gevoel het, begin al hoe meer na ’n onmoontlike situasie lyk – veral toe hulle verhouding byna aan die lig kom. Ronnie se swaarkry laat Hazel weer nader aan hom beweeg, maar die waarheid wat hy later deel, sny diep en dwing haar om keuses te maak wat sy nooit wou nie.

Die Louws leef intussen met konstante vrees. Intimidasie, aanvalle en onverklaarbare gebeure dwing hulle om moeilike besluite oor hul veiligheid te neem. Ruan se ondersoek bring skokkende deurbraak ná deurbraak, maar dit plaas die familie net in groter in gevaar. Die spanning bereik ’n kookpunt wanneer die Louws ’n onrusbarende ontdekking naby hul huis maak en Hazel in ’n oomblik van paniek JP se geweer afvuur – ’n daad wat alles kan verander.

Te midde van die gevaar en intrige probeer die dorp se inwoners steeds hul normale lewens balanseer. Die Bybel-vasvrakompetisie word ’n ligter, maar steeds gespanne newe-intrige: Wayne se pogings om die span saam te stel lei tot humor én konflik, terwyl Erica vasbeslote is om haar plek in die span te verseker.

Oktober bring dus nie net die intensiteit van ’n familiesage nie, maar ook die emosionele prys van geheime, liefde en oorlewing. Met Ronnie se broosheid, Hazel en Fabian se verbode verhouding, die Louws se vrees vir hul lewens en die dorp se Bybel-vasvrakompetisie wat vir ligter oomblikke sorg, is dit ’n maand wat kykers vasgenael gaan hou.

Sê jou sê

5 Oktober

Die dood van naasbestaandes en vriende is traumaties, maar as dinge dan nog skeefloop by die begrafnis, maak dit alles nog erger. Ons hoor van sulke gevalle.

12 Oktober

Ons gesels oor en met familielede wat vir jare wag dat geregtigheid geskied ná die grusame moorde van hulle geliefdes.

19 Oktober

’n Tehuis vir bejaardes is in die nuus oor swak hantering van die ou mense. Ons gesels met die personeel en inwoners.

26 Oktober

Die grootste slagoffers van bendegeweld is die kinders wat in die pad van hulle koeëls beland. Ons bespreek die teer en ontstellende saak.

  • Sê jou sê is op Sondagaande om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is ook op DStv Stream beskikbaar.  

 Dikker as water

Dit is sedert 2022 een van die gewildste reekse op Turkse TV, en vanaf 14 Oktober is dit in Afrikaans op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) te sien. Dié telenovela, in Turks bekend as Kızılcik Şerbeti (“bosbessie-sorbet”), se titel in Afrikaans is Dikker as water en is die boeiende verhaal van ’n jong vrou wat verlief raak op ’n sjarmante man uit ’n konserwatiewe familie. Die waardes van hierdie familie bots lynreg met dié van haar moderne ma, en dit veroorsaak groot struweling tussen almal betrokke.

Doğa, wat studeer om ’n tandarts te word, het ’n verhouding met die aantreklike Fatih, ’n sakeman wat in sy familie se suksesvolle onderneming werk. Doğa se ma, Kıvılcım, koester groot verwagtinge vir haar dogter, maar wanneer Doğa swanger raak, keer dit ’n paar lewens op die kop. Fatih glo die swangerskap is ’n geskenk van Bo, maar Kıvılcım dink dit gaan Doğa se lewe verwoes.

Doğa en Fatih besluit om te trou, en Kıvılcım moet vrede daarmee maak. Sy moet ook aanvaar dat haar dogter se nuwe skoonfamilie baie gelowig en erg konserwatief is –  alles wat sy nié is nie. Kıvılcım glo die huwelik is van die begin af gedoem, en Doğa en Fatih besef self dat liefde dalk nie genoeg is om diep kulturele klowe te oorbrug nie. ’n Komplekse liefdesverhaal volg met twee families wat mettertyd besef dat daar wel waardes is wat hulle deel.

Die hoofkarakters is:

Kıvılcım (Evrim Alaysa, met Sanli Jooste as haar stem) is die bestuurder by ’n hoërskool en is vyf jaar tevore geskei van die pa van haar dogters.

Doğa (Sila Türkoğlu, met Reze-Tiana Wessels as haar stem) is Kıvılcım se oudste dogter. Sy skop haar tandheelkunde-studies op wanneer sy swanger raak en met Fatih trou.

Fatih (Dogukan Güngör, met Roberto Kyle as sy stem) is die seun van Abdullah en Pembe en werk vir die suksesvolle familie-onderneming. Hy word respekteer en is hardwerkend.

Abdullah (Settar Tanrıöğen, met Jakkie Groenewald as sy stem) is hoof van die familiesaak en ’n toegewyde familieman. Hy en Pembe het benewens Fatih nog twee kinders, Mustafa en Nursema.

Pembe (Sibel Taşçioglu, met Ilse Klink as haar stem) se man en kinders is alles in haar lewe. Hoewel haar huwelik met Abdullah ’n gereëlde huwelik was, is sy gelukkig en tevrede met haar lewenspad.

Sönmez (Aliye Uzunatağan, met Mariëtte Engelen as haar stem) is Kıvılcım se ma en Doğa en Cimen se ouma. Sönmez woon by hulle in dieselfde huis.

Cimen (Selin Türkmen, met Anré Bouguenon as haar stem) is Kıvılcım se jongste dogter en Doğa se suster. Die twee susters het ’n hegte verhouding.

Ömer (Barış Kılıç, met Duncan Johnson as sy stem) is Abdullah se broer. Hy is ’n suksesvolle sakeman wat die internasionale been van die familie-onderneming bestuur. Hy het onder druk met Sema getrou, en hulle het ’n seun, Metehan. Ömer probeer al drie jaar van Sema skei, maar sy weier.

Metehan (Rahimcan Kapkap, met Reginald Hufkie as sy stem) is Ömer en Sema se seun en ’n leerling by die skool waar Kıvılcım die bestuurder is.

Die eerste seisoen van Kızılcik Şerbeti, wat in Istanbul verfilm word, is in 2022 in Turkye uitgesaai. Die vierde seisoen het 12 September vanjaar begin. Die Engelse titel is Cranberry Sorbet.

  • Dikker as water begin op Dinsdag 14 Oktober om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en sal weekliks van Maandae tot Donderdae uitgesaai word.

Bly ingeskakel op die kykNET- kanale vir die beste Afrikaanse vermaak. Gesels ook saam op Facebook, Instagram, X en TikTok.