web uni tv guide
web uni tv guide

Skemergrond

145Telenovela13 L

Keenan Arrison sluit by “Skemergrond” aan as PJ Louw – ’n nuwe Louw met ou bagasie

Nuus25 Februarie 2026
Keenan Arrison maak op 25 Februarie sy opwagting as PJ Louw – die broer van JP Louw en ’n man met meer as een geheim wat wag om onthul te word.
Skemergrond Article Image Keenan Arrison

Die wêreld van Skemergrond word nog meer interessant en ingewikkeld met die bekendstelling van ’n nuwe, gelaagde karakter. Keenan Arrison maak op 25 Februarie sy opwagting as PJ Louw – die broer van JP Louw en ’n man met meer as een geheim wat wag om onthul te word.

Keenan is reeds ’n bekende gesig op Suid-Afrikaanse skerms en het veral aandag getrek met sy vertolking van die hoofrol in die rolprent The Heart Is a Muscle, wat Suid-Afrika se inskrywing vir die 2026 Oscars was. Vir hierdie rol is hy vir ’n Silwerskermtoekenning benoem en het hy ’n National Film and Television Award vir beste akteur in ’n speelfilm ontvang. Hy was ook te sien in gewilde reekse soos Mince jou hare, Binnelanders, Sara se geheim en Trackers.

Met PJ se aankoms word die Louw-familie se dinamika skielik meer kompleks. Sy teenwoordigheid bring nie net nuwe vrae nie, maar laat ou spanning weer na die oppervlak borrel. In ’n wêreld waar lojaliteit en bloedbande swaar weeg, is dit duidelik dat PJ se verbintenis met sy familie die potensiaal het om gevestigde verhoudings te toets en magsbalanse te verskuif.

Vir Keenan was dit nie net opwindend nie, maar ook betekenisvol om die rol los te slaan en deel te word van die Louw-familie. 

“Dit was vir my ongelooflik opwindend en ook ’n groot voorreg. Die Louw-familie, met hulle sterk geskiedenis, is reeds so gevestig in die wêreld van Skemergrond. Toe ek hoor ek word deel daarvan as PJ, het ek dadelik besef die rol kom met verantwoordelikheid, maar ook met ’n ongelooflike geleentheid om iets nuuts na daardie familie-energie te bring.”

PJ se eerste verskyning in Gemoedsdrif is allesbehalwe onopsigtelik. Hoewel hy na ’n kalm ou met ’n sin vir humor lyk, lê daar duidelik meer onder sy sorgvuldig opgeboude fasade.

“PJ is ’n man met baie lae. Hy is kompleks. Op die oppervlak kan hy rustig en selfs snaaks voorkom, maar daar is baie wat onder die oppervlak aangaan. Kykers wat hom die eerste keer ontmoet, gaan waarskynlik voel daar is iets wat hy terughou – en dis presies waar sy kompleksiteit lê.”

Sy verskyning veroorsaak dadelik ’n gefladder in die duiwehok: “Wanneer PJ in Gemoedsdrif aankom, bring hy ’n gespanne, amper elektriese energie saam. Sy teenwoordigheid alleen begin verhoudings en situasies skuif,” sê Keenan.

Sentraal tot PJ se storie is sy verhouding met sy broer, JP Louw – ’n band wat gelyktydig deur lojaliteit en konflik gekenmerk word.

“Daar is broederlike liefde, maar ook onuitgesproke spanning en moontlik ou wonde wat nog nie heeltemal genees is nie. Dis ’n verhouding wat baie van sy innerlike konflik dryf.”

Keenan se benadering tot die rol is doelbewus introspektief en fyn ingestel op wat nie altyd hardop gesê word nie.

“Ek bou ’n innerlike biografie waarvan dalk nie alles op die skerm gesien word nie, maar wat my help om elke keuse eerlik te maak – om die stilte tussen die woorde net so betekenisvol te maak soos die dialoog self.”

Dis juis hierdie morele kompleksiteit wat hom na die rol aangetrek het: “PJ is nie bloot ’n ‘held’ of ’n ‘skurk’ nie. Hy is menslik, met foute en motiewe wat soms bots.”

Wat kykers kan verwag, is ’n karakter wie se pad allesbehalwe eenvoudig sal wees.

“PJ se reis gaan nie staties wees nie. Daar is besluite wat hy neem wat verreikende gevolge kan hê – vir homself en vir die Louw-familie.”

En vir dié wat dink hulle het hom vinnig deurskou?

“Hulle mag hom dalk as koud of berekenend ervaar, maar soos die storie ontvou, gaan dit duidelik word dat daar emosionele diepte en selfs ’n desperasie onder daardie beheersde buitekant lê.”

Uiteindelik hoop Keenan dat PJ se storie kykers sal noop om twee keer te dink oor mense en hulle motiewe: “Ek hoop kykers voel uitgedaag om nie te vinnig te oordeel nie en dat hulle begin vra: ‘Wat dryf hierdie man regtig?’ ”

PJ se aankoms maak dit duidelik: Die Louw-familie se verlede is nog duister – en Gemoedsdrif staan op die drumpel van nuwe drama, onsekerheid en onthullings.

Skemergrond word Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream beskikbaar.