kyknet channel logo

Hoogtepunte in November op die kykNET-kanale

Nuus31 Oktober 2025
In November is daar geen tekort aan opwinding op die kassie nie.
November highlights

Ons vind uit watter van die tien boere van vanjaar se Boer soek ’n vrou liefde gevind het. Die storielyne in Appels en tee delf al dieper, en die bekroonde fliek Som van twee maak sy buiging op kykNET. Die deelnemers van Kokkedoor: Son & see word ook bekend gemaak. En dis maar net ’n paar van die maand se hoogtepunte. 

kykNET

Appels en tee

4 November

Henriëtte en Lisa maak uiteindelik weer oop teenoor mekaar, terwyl Annie vir Francois uitdaag om uit sy gemaksone te tree. Griet vertel Jakkals ’n geheim wat sy al te lank vir haarself hou.

11 November

Lisa en Henriëtte reël ’n damesgeleentheid, terwyl Griet en Jakkals ou koeie uitgrawe. Annie kry ’n oudisie. Lisa se soektog tref ’n struikelblok, en iemand nuuts trek Henriëtte se aandag.

18 November

Annie se oudisie knak haar selfvertroue, terwyl Griet herinneringe aanmekaar begin werk deur ’n lappieskombers te maak. Lisa vermoed hulle is onder toenemende finansiële druk danksy Dawid, en Henriëtte raak halsoorkop verlief.

25 November

Henriëtte en Lisa moet ou geheime konfronteer om saam te werk, terwyl Jakkals iets met Lisa deel wat alles kan verander. Onverwagse chaos bars los wanneer Wessel na die partytjie toe kom.

Appels en tee is Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

 

Boer soek ’n vrou

6 November

Al tien boere kom vir ’n eerste en laaste keer bymekaar, en ons vind uit wie van die tien in hierdie seisoen van Boer soek ’n vrou liefde gevind het.

13 November

Seisoen 17 se laaste episode is uitgesaai, en nou is dit tyd om uit te vind wie die tien boere is wat in seisoen 18 liefde gaan soek. Is daar weer ’n verrassing of twee? Die inskrywings vir mense wat vir die boere wil skryf, is ná die uitsending van hierdie episode oop. Hou dus pen en papier reg. Wie weet, dalk is jy die een wat ’n boer se hart gaan steel.

Boer soek ’n vrou is op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Kokkedoor: Son & see

Vir die tiende seisoen van Kokkedoor, trek die program nie net ’n ander voorskoot aan nie, maar kry dit ook twee nuwe beoordelaars, die gerekende koskenners Herman Lensing en Yolani Abrahams. Beide is gekwalifiseerde sjefs en het al diep spore in die Suid-Afrikaanse koslandskap getrap.

In Kokkedoor: Son & see val die kollig op die nostalgiese rol wat kosmaak in ’n familieverband speel en die manier waarop dit soos ’n goue draad tussen die verskillende generasies loop.

Die deelnemers is:

Anton (64) en Stefvan Stemmet (37) is pa en seun. Anton is ’n oud-onderwyser en afgetrede kommersiële visserman van Yzerfontein in die Wes-Kaap. Stefvan is betrokke by bemarking en besigheidsregistrasies en kom van De Tijger in die Wes-Kaap.

Yvette Malan (60) en Francisca Momberg (35) is ma en dogter. Yvette kom van ’n plaas 45 km noord van Lephalale (Ellisras) in Limpopo en is ’n eiendomsagent. Francisca bly saam met haar gesin op dieselfde plaas as haar ouers en is die bestuurder by ’n winkelsentrum. 

Frans (51) en Una-belle van Wyk (18) is pa en dogter. Frans, wat oorspronklik van Namibië kom, is die eienaar van ’n koffie- en blommewinkel in die Paarl en is ook ’n geleentheidsbeplanner. Una-belle is ’n matriekleerling aan die Hoër Meisieskool Paarl.

Marianne du Plessis (64) en Ronelle de Klerk (39) is tannie en susterskind. Marianne is ’n afgetrede verpleegster van Kuilsrivier in die Wes-Kaap en bestuur ook ’n veldkombuis by die AfrikaBurn-fees. Ronelle is ’n argitek van Ballito, waar sy die afgelope 12 jaar haar eie praktyk het: RANFT Architects.

Shireen (50) en Reuven-Jon Kadalie (21) is ma en seun. Shireen is ’n bedryfsbestuurder en woon in Burgundy Estate in die noordelike voorstede van Kaapstad. Reuven-Jon, oftewel RJ, is ’n programmeerder en voltydse model en bly saam met sy ouers.

Andrew Anderson (57) en Leoné Smit (30) is pa en dogter. Andrew is ’n pastoor by AGS Lig & Lewe in Ballito in KwaZulu-Natal. Leoné is ’n tuisteskepper en boervrou, wat op ’n plaas in die distrik van Vryheid in KwaZulu-Natal woon.

Caroline Linde (55) en Anél van Niekerk (32) is ma en dogter. Caroline is ’n “snoepietannie” by die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) en gekwalifiseerde somatoloog van Pretoria in Gauteng. Anél is, soos haar ma, ’n “snoepietannie”, maar by Laerskool Tygerpoort.

Hanna (58) en Dirk van der Westhuizen (29) is ma en seun. Hanna is die eienaar van die kenmerkende goudgeel Kamdebo Padstal by Aberdeen in die Oos-Kaap. Dirk bestuur die afgelope jaar die padstal, en hy is die mede-eienaar van Kamdebo Padstal | Bistro | Negosie.

Kokkedoor: Son & see bestaan uit agt episodes en begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. 

 

Op pad met my potjie

Ná ’n geurige eerste seisoen is Op pad met my potjie terug vir nog heerlike avonture vanaf Vrydag 28 November 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) – en dié keer verken Joalette de Villiers ander dele van Namibië. Sy reis verder en dieper die land in om nog meer unieke gemeenskappe, plekke en potjies te ontdek.

Van wildreservate tot kusdorpe, van plaaslewe tot dorpsmarkte – met dié ekspedisie het Joalette opnuut op Namibië se mense, kos en kultuur verlief geraak.

“My nommereenrede om terug te keer bly altyd die mense en my land,” sê Joalette. “Daar’s soveel wonderlike afgeleë plekke en mense wat my laat tuis voel sodra ek daar aankom. Die unieke potjies wat gemaak word, is die kersie op die koek.”

In die tweede seisoen besoek Joalette dertien uiteenlopende dorpe en gemeenskappe, wat die volgende insluit:

  • by N/a’an ku sê ontmoet sy Marlice en Rudie van Vuuren van die kykNET-progam Groen: Namibië en laat prut ’n beesvleispotjie;
  • in Rehoboth leer sy meer oor die Basters se geskiedenis en maak ’n lamskenkelpotjie;
  • in Otjiwarongo berei sy en Christian ’n eksotiese krokodilvleispotjie voor;
  • in Hentiesbaai probeer sy visvang en maak daarna ’n steenbraspotjie,
  • en by Noordoewer sluit sy haar avontuur af met ’n pampoenpotjie.


Op pad met my potjie begin Vrydag 28 November om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Fanaties

Oudhede, geheime en stories uit vervloë tye kry nuwe lewe in kykNET se splinternuwe dokumentêre realiteitsreeks Fanaties, wat op Dinsdag 5 November om 20:00 begin. Die reeks, wat uit agt episodes bestaan, volg die passievolle en charismatiese Natie Ferreira deur sy wêreld van antieke skatte, versamelaars en geskiedenis, en onthul die mense en verhale agter die ou mooigoed en interessante dinge wat ons verlede lewend hou.

By Fanaties gaan dit nie net oor wat iets werd is nie, maar oor wie en watter geskiedenis daaragter staan. Natie ontdek waardevolle, vergete en soms ongewone skatte, maar die ware waarde lê in die stories wat hy onderweg raakloop. Van besoeke aan versamelaars en kenners tot die druk bedrywighede in sy winkel – Die Sinkhuisie in Riviera, Pretoria – bied elke episode ’n unieke kykie in ’n omgewing waar stof, spinnerakke en herinneringe hand aan hand gaan.

“Die geleentheid om my stories en dié van medeversamelaars met kykers te deel was vir my ongelooflik opwindend,” sê die aanbieder, Natie Ferreira. “Ek hoop om mense ’n nuwe liefde vir oudhede te gee; om nuwe versamelaars te kweek en te wys dat agter elke item ’n storie en ’n stuk geskiedenis skuil. Dis vir my belangrik om mense te inspireer met die ryk geskiedenis van ons land en sy mense.”

Met Fanaties kry kykers ’n nostalgiese maar ook verrassend opwindende blik op die kultuur van versamelaars, restourasie en die geskiedenis. “Ek dink Fanaties bring iets vir almal in die huis,” sê die vervaardiger, Elmi de Pauw, van Walla Films. “Jy kan sit en jou verstom aan die mense en hul stories – en dalk besef dat iets in jou kas miskien meer werd is as wat jy gedink het.”

Fanaties begin Woensdag 5 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Som van twee

By die Silwerskermfees in 2024 was Som van twee die groot wenner by die toekenningsaand. Dié speelfilm het met sewe Silwerskermtoekennings weggestap – onder meer in die kategorieë vir beste draaiboek, beste regie en beste speelfilm, en op 8 November maak dit sy kykNET-debuut.

Som van twee vertel die verhaal van Henk Opperman, ’n sielkundige wat op sy vrou, Nicolene, se begrafnis bieg dat hy destyds die matriekvraestel vir wiskunde uitgelek het. Wanneer die onderwysdepartement dan besluit die hele klas van 1990 moet dié eksamen herskryf, vra Henk sy seun, Renier, om sy tutor te wees, maar dit sukkel. Dié pa-seun-verhouding is immers al hulle hele lewe lank gespanne en plofbaar. Henk se pa, Gert, meng ook kort-kort in, en dis nie lank nie of dinge ruk handuit.



Die rol van Henk word deur Louw Venter gespeel, en James Borthwick is Gert. James het die Silwerskermtoekenning vir beste akteur gewen, en Pierre Breytenbach, wat te sien is as Petrus, is as beste manlike byspeler aangewys. Die rol van Renier word deur Adriaan Havenga vertolk. Ook in die rolverdeling is Greteli de Swardt, Righard van Jaarsveld, Reginald Hufkie, Deon Coetzee, Leandie du Randt en Kim Cloete. 

Som van twee is Simoné Pretorius se debuut as speelfilmregisseur, en sy het twee Silwerskermtoekennings gewen – een vir beste regisseur en nog een vir die draaiboek. Dries Scholtz se redigering en die klankbaan deur Snoozefest en Hunter Kennedy is ook bekroon. 



“Dis amper onwerklik om te glo, maar Som van twee is gegrond op ware gebeure,” sê Simoné. “Liani Jansen van Rensburg het op ’n artikel afgekom en my daarvan vertel. ’n Vrou in Nederland, Melissa Kelderhoff, het tydens ’n skoolreünie erken dat sy haar matriekbiologievraestel vooraf gesien het. Die storie het by die minister van onderwys, kultuur en wetenskap uitgekom, en dié het beslis dat die hele land se 1992-matriekgroep hul biologievraestel weer moes skryf.”

Die rolverdeling was vir Simoné die belangrikste aspek van die film. “Ons het akteurs gesoek wat sterk in drama én komedie is, veral vir Louw en James se karakters. Louw het baie kleur na sy karakter gebring. Daardie charisma was nie iets wat ek kon skryf nie – Louw het dit verpersoonlik. En James is seker een van die talentvolste akteurs saam met wie ek al gewerk het. Sy sin vir humor en toewyding is ongelooflik om te aanskou.”

Som van twee is Saterdag 8 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
                

Sepies

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Die waarheid oor Ella en Johan se misterieuse geskiedenis word onthul, en Garage Pie kry ’n nuwe lid by – Le Roux. Al is Tracy wakker, is heelwat van haar geliefdes, en veral Rentia, bekommerd oor haar geestelike toestand. Delia besluit sy sal alles in haar vermoë doen om Amor te vernietig. Thalia vervies haar wanneer spanning tussen LJ en Le Roux al meer opbou.

Laetitia se gesondheid gaan vinnig agteruit, en At is uiters bekommerd. Leah gee vir Tertius ’n harde tyd. Conrad deel groot nuus met At, en Naomi is bekommerd dat Thalia op die rand van uitbranding is. Die Binnelanders is keelvol vir Henry se bombastiese gedrag, en Delia neem afskeid van Binneland.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Wade se droom om sy kroeg in ’n stylvolle klub te omskep, ontaard in ’n nagmerrie wanneer die gevaarlike Selwyn sy merk daar wil maak. Wade besef te laat dat nie elke vennootskap op goeie bedoelings gebou is nie. Die spanning tussen hom en Zoë bereik ook breekpunt, en wanneer ’n gewelddadige voorval plaasvind, word hulle verhouding tot op die randjie van die afgrond gedryf.

By die Samsodiens word ou wonde oopgekrap. Maryam probeer haar lewe herbou ná jare van skuld en selftwyfel, maar haar strewe na onafhanklikheid lei tot ’n rampspoedige besluit wat die hele familie skud. Mymoena se geloof en vergifnis word ernstig beproef, en sy moet die moeilikste besluit van haar lewe neem.

Intussen verander ’n fietsryprojek Riaan se lewe onherroeplik. ’n Noodlottige ongeluk lei tot skuldgevoelens wat hom verteer, en vriendskappe word getoets. Frankie en Gary probeer elk op hul eie manier vrede maak, maar dis makliker gesê as gedaan. En terwyl Nazeem tussen lig en donker moet kies, besluit Aiden om ’n geheimsinnige poetsbakker vas te trek – met verrassende gevolge.

 

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


In November word die inwoners van Boskruin gekonfronteer met keuses wat hulle lewens onherroeplik kan verander. Sanet worstel met besluite oor haar toekoms, terwyl Danie se vasberadenheid hom – en dié rondom hom – soms tot die uiterste dryf.

Verhoudings word beproef, met Karla en Arno wat onverwags spanning ervaar, terwyl iemand se aankoms meer as net ’n paar komplikasies laat ontstaan. Geheime en mededinging broei onder die oppervlakte en dreig om selfs die kleinste meningsverskil in iets baie groters te verander

Soos wat geheime na vore begin kom en onverwagte geleenthede opduik, is daar een groot vraag: Wie sal die storm trotseer en staande bly, en wie gaan weggespoel word?

 

kykNET&kie



Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Die Louws kry uiteindelik antwoorde oor wie geskiet is, maar dit bring min vrede. Bobby dra nuus aan Christine oor wat haar met gemengde gevoelens laat. Tyler neem ’n finale besluit oor hul verhouding en verdwyn uit haar lewe. Christine is heel gegooi wanneer sy uitvind hy’s weg. Ruan se ondersoek na die plaasaanvalle lei hom na Christine, en sy voel al hoe meer in ’n hoek gedruk. Intussen vind Tyler ’n nuwe veilige hawe in Gemoedsdrif, maar raak later betrokke by ’n gevaarlike missie met ’n onverwagse medepligtige.

Hazel sukkel om haar skuldgevoelens te oorkom en verlang steeds na Junior, maar Fabian sien haar broosheid as ’n geleentheid. Hy begin vir Junior beïnvloed en betrek hom by sy eie planne. Hazel probeer haar seun beskerm, maar Fabian gebruik hom om haar af te takel. Sy manipulasie dryf Hazel tot breekpunt, en die verhouding tussen haar en Junior versleg onherstelbaar.

Te midde van chaos in Gemoedsdrif, vind Patty onverwags ’n nuwe begin. Ons ontmoet vir Lukas, en hy neem Patty uit. Sy stem later in tot ’n tweede uitstappie. Met Manny se aanmoediging raak die twee nuuskierig oor mekaar en begin ’n sagte band tussen hulle vorm – ’n verhouding wat stadig groei te midde van onsekerheid. Is hierdie die groot liefde waarop Patty al so lank wag?



Dikker as water

Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Pembe verdink vir Alev terwyl sy werk vir die familiemaatskappy doen. Alev gesels openhartig met Abdullah en nooi hom uit vir middagete. Alev is steeds ongelukkig oor hoe haar ma haar uitgetrap het, maar Kıvılcım probeer vrede tussen die twee maak. Pembe voel skuldig oor wat sy teenoor Kıvılcım kwytgeraak het.

Doğa bring ’n straathond huis toe, en die hele familie is baie ontsteld daaroor. Pembe wil Doğa na haar ginekoloog toe neem omdat dit vir hulle onaanvaarbaar is dat sy ’n man as dokter het. Kivilcim moet met ’n prokureur praat om sake uit die hof te hou.

Kıvılcım se eksman, Kayhan, probeer ’n vervalle ou hotel aan Abdullah se maatskappy verkoop. Abdullah praat met Nilay en Mustafa oor die ongemagtigde onttrekking uit die maatskappy se bankrekening. Can gaan soek raad by Omer oor die teenklag wat Kıvılcım aanhangig wil maak. Kivilcim gaan uit haar pad uit om ’n ander vrou by te staan.

Pembe wil haar kop in ’n gat druk. Doğa neem ’n groot besluit, en Alev sien deur haar suster. Terwyl Pembe by Alev is, daag Abdullah daar op met blomme in die hand, en dit lei tot ’n misverstand.

Dikker as water is van Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

 

Koortjies met Elwira Standili

2 November

Koortjies is terug en dié week kry ons inspirasie by Skemergrond se Khadija Heeger en The Jesus Collective se stigter, Hilton Petersen. Dan vermaak The Jesus Collective ons met hulle musiek.

9 November

Met Geestesgesondheidsmaand so pas verby, deel Alistair Izobell sy stryd met depressie. Ons kry ook raad by die sielkundige Charl Davids. Remalia Esau is ons gaskunstenaar.

16 November

Suidooster word 10, en ons vier dit saam met Denise Newman, Theresa Sedras, Jill Levenberg en Simone Biscombe. Die gospelsanger Alton Zakay sit die kersie op die koek met sy optrede.

23 November

Dis 16 Dae  van Aktivisme vir geen Geweld teen Vroue en Kinders, en in die ateljee kuier die aktivis Caroline Peters, asook die vermiste Joslin Smith se ouma Rita Yon. Leandra Basie is die gaskunstenaar.

30 November

Dié week inspireer die atleet Kyle Zinn en sy ma ons. Dean Balie en Keegan Williams vertel meer oor hulself. Plus, ’n lekker bederf met twee optredes uit die Jonathan Butler Tribute Show.

Koortjies met Elwira Standili se nuwe seisoen begin op 2 November om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

 

kykNET NOU!

In November kry kykNET NOU! ’n musiekblok op Woensdae wat van 19:30 tot 20:30 op koormusiek gaan fokus. Van die wêreldbekende Ndlovu-jeugkoor tot die Universiteitskoor Stellenbosch – in hierdie uur gaan jy kore hoor wat jou hoendervleis gee.

kykNET NOU! – die kanaal wat fokus op Suid-Afrikaanse en Afrikaanse musiek – is op DStv-kanaal 146.

DStv vier 30-jaar van vermaak en vanaf 7 tot 9 November 2025 kry alle DStv-kliënte met 'n dekodeerder-intekening volle toegang tot DStv Premium. Besoek gerus https://www.dstv.com/en-za/news/132306/dstvcom30years/ -of DStv vir meer inligting en deel jou gunsteling DStv-herinneringe op sosiale media met die hutsmerk #DStvCelebrates30.