Hierdie keer is dit die voormalige rugbyspeler Ruan Smith wat sy hart op die spel plaas in die hoop om iemand te ontmoet met wie hy ’n toekoms kan bou. Kykers kan regskuif vir ’n seisoen vol verrassings, egte interaksies en onvergeetlike oomblikke.
Hier’s ’n paar interessante feite oor die vierde seisoen van Op my eish!:
Die 16 dames wat vir Ruan se liefde veg
Ná honderde inskrywings om vir Ruan se hart mee te ding, het hy 16 vroue gekies om hom in persoon te ontmoet. Uiteindelik kan hy net 12 dames saam met hom op die reis neem, wat vir nog meer spanning, emosie en onverwagte oomblikke sorg.
Die wildcards se aankoms…
In vorige seisoene het die twee wildcards altyd in dieselfde episode hul opwagting gemaak, maar hierdie keer verskyn hulle uit die bloute – presies wanneer Ruan dit die minste verwag. Dit het nie net spanning onder die dames laat opvlam nie, maar ook tot ’n paar uitdagende besluite gelei wat die verloop van dié seisoen beslis beïnvloed het.
Die vonke spat
Dié seisoen, of dalk liewer “sy-soen”, sorg nie net vir opwindende aktiwiteite en romantiese afsprake nie, maar ook vir ’n klomp soene – en die eerste een word sommer al in episode twee geplant. Die vroeë vonke voorspel ’n onstuimige liefdesreis waar emosies vinnig opvlam en bande onverwags vorm.
Propvol aktiwiteite en drama
Dié seisoen is propvol opwindende aktiwiteite en uitdagings, met twee aktiwiteite in elke episode wat die dames én Ruan op hulle tone hou. Van die hoogtepunte sluit in foefieslaaidry (ziplining), Spot the Difference tussen Ruan en JP, ’n vrolike touch rugby-sessie, ’n bosveldsafari as ’n romantiese afspraak, e-fietsry en selfs ’n soektog deur ’n doolhof waar die dames vir Ruan moes opspoor.
Daar was ook ’n lekker partytjie in die swembad, emoji-speletjies, pret met ’n Sip ’N Slide – waar drankies nie mag mors nie – en Whisper or Dare, waar die dames geheime in Ruan se oor fluister of ’n waagmoedige opdrag uitvoer. Verder het die vroue ook die kans gekry om met die lewensafrigter Liezl Thom te gesels vir raad oor hoe om die senutergende, emosionele kant van die avontuur te hanteer. En dit is maar net ’n voorsmakie van die wipwarit van ’n seisoen wat op pad is.
Die manne sê:
Vir Ruan was dit ’n emosionele reis vol verrassings en waardevolle lesse: “Ek’s ongelooflik opgewonde oor hierdie nuwe seisoen. Om weer die kans te kry om liefde met ’n oop hart te soek, is iets wat ek nie ligtelik opneem nie. Tydens hierdie proses het ek baie van myself geleer en ek’s reg om te wys wie ek is. Hopelik vind ek iemand wat saam met my die pad wil stap.”
Sy tweelingbroer en wingman, JP, voeg by: “As Ruan se wingman is ek so gereed vir die chaos, die lag en die oomblikke wat jy net eenvoudig nie kan opmaak nie. Ek ken my broer – as sy hart regtig oop is, gaan hierdie seisoen iets besonders wees.
Ek’s hier om hom te ondersteun, hom uit te daag en seker te maak hy sien die regte dinge in die regte vroue. Dis ’n nuwe avontuur vir ons albei, en ek kan nie wag dat almal dit saam met ons beleef nie.”
- Op my eish! begin op 15 Januarie 2026 om 20:00, net op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
