Bettie Kemp is ’n gebore Kapenaar. Sy is ’n televisie- en radio-aanbieder met verskeie toekennings agter haar naam. Die jongste is ’n 2016-ATKV-mediaveertjie vir Beste Regisseur: Radiodrama.
Weeksaande is sy voor die kameras as TV-aanbieder van kykNET se aktualiteitsprogram kykNET Verslag. Bedags is sy ’n RSG-omroeper, aktrise en regisseur. Haar dokumentêre reeks Daar’s ink in ons are is verskeie kere op radio uitgesaai en bekroon met ’n Via Afrika M-Net-toekenning.
In 2011 is haar radiodrama Een somersdag ’n naaswenner in die RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie.
As verhoogaktrise het sy gehore op kunstefeeste landwyd vermaak met haar bekroonde solo-vertoning Tant Miem, ’n dokumentêre verhoogdrama oor die lewe en werk van die skrywer en joernalis M.E.R.
Bettie het haar kykNET Fiësta-toekenning in 2011 gaan haal vir haar rol in Arthur Miller se klassieke verhoogdrama, Dood van ’n verkoopsman.
Bettie is ook ’n ma. Sy en haar man, André, het ’n seun, Jacques.