#DieBrug_Elsje
Elsje Kok (38), ’n boer se vrou van Hanover, Noord-Kaap, sluit aan by Suidhuis.
Elsje woon op ’n plaas net buite Hanover, waar sy as boervrou en ma van twee haar lewe wy aan haar gesin se geluk en welstand. Maar sy het besef dit is tyd om ook weer haarself eerste te plaas – al is dit net vir ’n kort rukkie. Sy is op ’n plek in haar lewe waar selfontdekking vir haar belangrik is. Elsje is ’n aktiewe vrou, wat al aan marathons deelgeneem het en daagliks hand aan hand, en skouer aan skouer met haar gesin op hul historiese skaapplaas werk. Die uitdagings van die Karoo – veral met die afgelope paar jaar se droogtes – het haar getoets, maar nooit gebreek nie. Sy glo alles kan oorkom word deur terug te staan, jou seëninge te tel en dan weer vorentoe te beweeg. Hierdie is haar kans om uit haar gemaksone te tree, die onvoorspelbare te omhels en iets net vir haarself te doen. Vir haar is dit nie net ’n avontuur nie – dit is ’n geleentheid om weer te leer glo in haar eie krag en om te wys sy het beslis wat dit verg om te wen.