web uni tv guide
web uni tv guide

Koortjies Met Elwira Standili

145GeselsprogramPG

"Koortjies" skop binnekort weer af met ’n baie spesiale Paasfees-aanbod!

Nuus26 Maart 2026
"Koortjies" word vanaf Sondagaand 5 April om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)  uitgesaai.
Koortjies S3 Article Image

Kry jou Sondagaand-skedule weer uitgesorteer want jou gunsteling TV-kerk onder die bekwame leiding van Elwira Standili gaan soos gewoonlik vir wonderlike saamkuier en -sing met vriende en familie sorg. En dit sommer in jou eie voorkamer!

Maar hou vas, want die volgende aflewering van Koortjies se derde seisoen kom met ekstra skop.

Eers is daar die spesiale Paasboodskap deur profetes Gunaide Samuels en pastoor Monray Adams. Boonop gaan The Jesus Collective ook sorg vir lekker musiek, soos net hulle kan.

Nog iets om na uit te sien is in diepte- gesprekke om die ronde tafel waar kenners saamgesels oor uiteenlopende, dog relevante onderwerpe. Daar gaan nie net gesels word nie, maar ook na oplossings gesoek word.

Dink byvoorbeeld aan onderwerpe soos ons kwesbare jeug wat op straat gevind word: Bendes, dwelms en misdaad staar hulle daagliks in die gesig. Jeugdiges word self betrek om saam te kom gesels en daar word gekyk na hoe die gemeenskap beter na hulle kan omsien.

Een van die aktuele knelpunte in die samelewing is geweld teen vroue, en hoe talle vroue in hierdie kringloop van mishandeling vasgevang word, en vasgevang bly. Kykers al onthou dat hierdie kwessie onlangs in Suidooster aangeraak is met die storielyn wat oor Tristan (Arno Greeff) en Angie (Char Carrie) se verhouding gehandel het.

Die Koortjies-sirkel word ook al hoe groter met die viering van spesiale dae, waaronder Vadersdag, Moedersdag en Jeugdag.

Die regisseurs Mikayla Joy Brown en haar broer Jesse Brown kom kuier ook saam en vertel meer oor hul eerste groot fliek-projek, Finding Optel. Dié fliek het groot opspraak gewek en het by 2025 se Silwerskermfees die toekenning vir beste produksieontwerp gewen.

Die lysie bekendes wat saam met Elwira gaan kuier, is soos ’n droomlysie wat waar geword het. Dink net: Christo Davids, Robin Pieters, Jessica Daniels (Kuier-tydskrif se inspirasiemens 2025 tydens Netwerk24 se Smaakmaker-toekennings), Schaney van Wyngaard (Huisgenoot se eerste TikTokker in 2024), rymkletser Shaundion en vioolspeler Matthew du Toit. 

“Hou aan kyk, hou aan om ons te ondersteun want daar sal nie ’n Koortjies wees sonder kykers nie. Ons gaan aanhou om elke Sondagaand vir julle pragtige kykstof te bied. Laat die musiek aanhou kom, laat weet vir ons wie en wat julle graag wil sien.

“Ons gaan saam met julle Koortjies nog verder bou tot waar dit wêreldwyd ’n verandering maak,” was Elwira se boodskap tydens die vorige seisoen. En dis vandag net so ’n waardevolle boodskap vir die nuwe seisoen.

Kom, laat ons bou!

Koortjies word vanaf Sondagaand 5 April om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai.