Logo
kykNET_Kokkedoor_Slim_Billboard

Kokkedoor: Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Nuus
01 Mei 2024
kykNET steek alreeds die vure aan vir die volgende seisoen van die gewilde Afrikaanse koswerklikheidsreeks “Kokkedoor Vuur & Vlam” en jy kan nou inskryf vir hierdie opwindende reis!
Kokkedoor Vuur & Vlam

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar weer die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha met hul braai-vaardighede beïndruk.

Die oorkoepelende Kokkedoor-tafel is vir die eerste keer in 2013 vir kykers gedek en oor die jare het familielede van die reeks, waaronder Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie geurryke vermaak en inspirasie aan oud en jonk verskaf.

Verlede jaar het hierdie koswerlikheidsreeks vir die eerste keer ’n braaivoorskoot aangetrek en Karen Els van Malmesbury en Gert Joubert van Jeffreysbaai is as die eerste wenspan van Kokkedoor Vuur & Vlam gekroon.



Nou is kykNET weer opsoek na die perfekte span-kombinasie van ’n onthoubraaier en ’n kinkelbraaier wat vurig daaroor voel om kos oor die kole gaar te maak.

Wat is die verskil tussen hierdie braaiers? ’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vanweë hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.



Daarenteen word Kinkelkbraaiers gekies juis vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 15 Junie 2024 en die reeks sal van Januarie 2025 op kykNET uitgesaai word.

Skryf só in:

Besoek www.kyknet.tv of stuur ’n e-pos na [email protected]

Elke deelnemer se inskrywingsvideo, maksimum drie minute lank, moet die volgende inligting bevat:

  • Stel jouself bekend;
  • Vertel wie jy is;
  • Waar kom jy vandaan;
  • Skryf jy in as ’n onthoubraaier of ’n kinkelbraaier?
  • Wat maak van jou ’n onthoubraaier of ’n kinkelbraaier?
  • Hoekom wil jy deelneem

Reëls:

Hoe oud moet iemand wees om deel te neem?
Jy moet ten minste 18 jaar oud wees op die dag van die oudisie.

Kan enigiemand inskryf? Enige Suid-Afrikaanse of Namibiese burger wat ’n geldige identiteitsdokument het, kan inskryf.

Wanneer vind die oudisies plaas? Oudisies sal in Junie 2024 plaasvind.

Wanneer en waar gebeur verfilming? Spanne wat deurdring om deel te neem, moet van 18 Julie tot 14 Augustus in Struisbaai in die Suid-Kaap beskikbaar wees.

Klik hier om in te skryf!