Hier is ‘n paar wenke om jou profile op te kikker.
Begin met volledige deursigtigheid en eerlikheid. Van jou foto’s tot jou voor- en afkeure, as jy van die begin af ‘n oop boek is, sal jy ‘n persoon met soortgelyke waardes en belangstellings makliker vind.
Kom ons begin met die eerste ding wat mense sien, jou profielfoto: Eerste indrukke maak beslis saak en in hierdie geval meer as ooit. Maak altyd seker dat jou profielfoto wys wat mense kan verwag wanneer hulle jou in persoon ontmoet.
Vermy foto’s waar jy jou hare en grimering laat doen het, ‘n hoed of selfs ‘n sonbril dra. Hoe meer van jou natuurlike gesig en glimlag, hoe beter.
Volgende, jou biografie: Stel jouself voor op ‘n manier wat jou maklik sal maak om te onthou. Byvoorbeeld, Jannie die skaap boer wat graag draf of Stella die onderwyseres wat hou van musiek.
Wees oop en eerlik oor jou waardes en die waardes waarna jy soek. Dink by jouself waarna jy sal kyk op die ander profiele en probeer om al die ongemaklike vrae te beantwoord wat mense altyd in die eerste vyf WhatsApp-boodskappe vra.
Maak ‘n grap om die ys te breek. As jy iets unieks op jou profile vertoon, sal jy makliker raakgesien word en vir langer onthou word.
As jy ‘n foto van jou saam met ‘n hond het kan jou byskrif lees: “Hierdie hond is moontlik by my buurman geleen om my meer aantreklik te maak, het dit gewerk?”.
Laastens, en een van ons gunsteling wenke. Maak dit so maklik as moontlik vir potensiële pasmaats om ‘n gesprek met jou te begin. Doen dit deur ‘n vraag op jou profile te vra. As jy van musiek hou, vra hulle om te antwoord met hul gunsteling liedjie of kunstenaar, of as jy die buitelewe geniet, kan jy vra wat hulle geniet om te doen oor naweke. Hulle sal onmiddellik gemakliker voel om ‘n vraag te beantwoord as om die gesprek met ‘n ongemaklike hallo te begin.
Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en vertel vir ons van julle dating gelukskote of teleurstellings deur die hutsmerk #MaandVanLiefde te gebruik.
