kyknet channel logo

“Kompleks”, ’n debuutroman deur Louis Pretorius, wat gebasseer is op die kykNET-reeks word bekendgestel

Nuus25 Julie 2023
Louis Pretorius se debuutroman "Kompleks" is beskikbaar in boekwinkels, aanlyn en op Kindle.
kompleks debuutroman

Om 'n jong volwassene te wees is kompleks...

Jy probeer jou plek in die wêreld vind, kom agter jou ouers is nie perfek nie, jy bevraagteken alles, en voel boonop onseker van jouself. Vir Sean en Mika is dit presies dieselfde. Hierdie verhaal is skerp, humoristies, eksistensieel met 'n tikkie melancholie. Dit is 'n persoonlike ontdekking van wat dit is om verlief te wees wanneer jy op die punt van volwassenheid staan.

Kompleks, is Louis Pretorius se debuutroman vir jong volwassenes. Pretorius, ’n bekende TV-draaiboek skrywer, het al verskeie suksesvolle TV-reekse soos Die Boekklub, Fynskrif en Fraksie geskryf. Kompleks, die roman wat uitgegee word deur Lapa Uitgewers, is ’n verwerking van dieselfde TV-reeks wat op Showmax te sien is.

Die boek gaan oor daardie tyd in jou lewe waar jy probeer om jou plek in die wêreld vind, agter kom jou ouers is nie perfek nie, alles bevraagteken, en boonop onseker van jouself voel. Bo-op dit alles raak jy dan ook nog verlief... Altans, dis wat met Sean en Mika gebeur.

Kompleks bevat temas waarmee jong volwassenes sal kan identifiseer.

Maar 'n boek is ook nie meer net 'n boek nie. Kompleks het 'n AR voorblad ontwerp deur Casper Schutte by @spookdesignco. Daar is ook 'n @spotify playlist met 2h39m se musiek uit die boek. Van The Beatles tot Bach tot Bowie tot Koos Kombuis en Nick Cave & The Bad Seeds.

Hier is 'n uittreksel in die boek:

“In hierdie heelal, op hierdie aarde, in 'n oninteressante middelklaskompleks woon Sean en Mika. Hulle is albei in matriek. En albei sit sonder vriende vir die wintervakansie. Sean is 'n geniale ruimtenerd wat tjello speel en planete soek. Hy het sy eie onwettige huiswerkbesigheid. Sy ouers vermy mekaar en hy voel asof niemand hom raaksien nie. Mika is verslaaf aan rockmusiek en die Griekse mitologie. Sy hou van 'n double vodka oor naweke. Sy dink sy’s dom en nie goed genoeg nie. Haar ouers drink en baklei baie. 'n Ongewone sameloop van omstandighede, wat ’n hondeleiband en 'n by behels, veroorsaak dat hulle wêrelde op ’n sonnige wintersoggend bots. En so begin ’n vakansie wat hul lewens onherroeplik verander. Deur planete, Ferris wheel-ritte en ’90’s-musiek ontdek hulle mekaar en wat dit beteken om werklik na die sterre te kyk.”

Kompleks is tans beskikbaar in boekwinkels, aanlyn en op Kindle. Gesels saam en volg die hutsmerke aanlyn #ekleeslapa#kompleksdieboek en #LouisPretorius.