Wat is jou beroep?
Ek is ’n gekwalifiseerde sjef, maar is tans die operasionele bestuurder van ons familierestaurant, Adler’s, in Heidelberg, Gauteng.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het nog nooit deelgeneem aan enige TV-kompetisie nie en het letterlik die dag voor die sluiting van die aansoeke, my aansoek ingedien.
Ek was nogal nuuskierig oor wat werklik agter die kameras gebeur, en ek was lus vir ’n nuwe uitdaging wat ’n bietjie buite my gemaksone was. Om eerlik te wees, ek het nooit in my wildste drome kon dink dat ek gekeur sou word as een van die finaliste nie.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek het ’n baie goeie (soms stoute) sin vir humor en lag dikwels vir myself, maar ek het ook ’n baie ernstige kant en hou nie van oneerlike mense en onregverdigheid nie.
My gesin is vir my baie belangrik, en ek probeer soveel moontlik kwaliteit-tyd saam met hulle deurbring. My dryf in die lewe is my gesin, en daarom probeer ek elke dag om die beste weergawe van myself te wees en om daagliks te groei as mens.
Iets interessants oor jou?
Ek is Duitssprekend. My pa is van Oostenryk, en my ma is Suid-Afrikaans. Ek is mal oor skoene en armhorlosies, en dit irriteer my vreeslik wanneer iemand lelike skoene dra of as iemand se skoene vuil is.
My geliefkoosde stokperdjie is om gedigte te skryf (vir my vrou of sommer maar net).
Op hoërskool het ek twee keer Gauteng Noord-kleure verwerf vir rugby, en ons het ook die Stadsbeker gewen – iets waarop ek vir altyd trots sal wees. Ek het steeds ’n groot passie vir rugby, en my gunstelingtydverdryf is om met rugbywedstryde in te haal wat ek as gevolg van my werk misgeloop het.
Wat is jou lewensmotto?
Wanneer een deur agter jou toegaan, gaan daar altyd ’n nuwe deur vir jou oop. Moet nooit opgee nie – you are the creator of your own destiny.
Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?
My kookkuns het oor die jare bietjie verroes geraak, aangesien ek deesdae grootliks betrokke is by die bestuur van ons familierestaurant in Heidelberg, Gauteng.
Kokkedoor Vuur & Vlam het my geleer om weer in myself te glo en dat mens elke geleentheid wat oor jou pad kom, met albei hande moet aangryp.
Ek het sommer van vooraf weer verlief geraak op kosmaak, en die hele ervaring is iets wat ek nooit sal vergeet nie.
Jou nommereen-braaiwenk?
Wees versigtig met ’n jaffle-pan. Moenie ’n French Toast Breakfast Jaffle op vuurwarm kole probeer maak nie – die eier brand vas. Ek het dit op die harde manier geleer.