
Wat is jou beroep?
Ek doen op die oomblik vryskutwerk in die filmbedryf. Ek werk in die kunsdepartement as set dresser, art department assistant, props master.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Nadat ek die eerste seisoen van Kokkedoor Vuur & Vlam gekyk het, het ek eers gewik en geweeg om in te skryf. Die idee het wel by my bly spook vir ’n paar weke en op die dag voor die inskrywings sou sluit, het ek besluit om in te skryf.
Ek was van twee goed seker: dat lekker kos, braai en onthaal my happy place is én dat hierdie ’n groot en heerlike avontuur gaan wees, een waarvan ek deel wou wees.
Hoe sal jy jouself beskryf?
As ’n sterk vrou, alhoewel party mense dalk sal sê hardkoppig. Ek dink as ek my kop op iets sit, sal ek alles in my vermoë doen om dit te bereik.
Ek hou van uitdagings, en dis vir my altyd lekker om myself of enigiemand verkeerd te bewys as hulle vir my sê dit kan nie. Soos my oupa altyd gesê het: Kannie is dood van kruiwa stoot.
Ek glo regtig diep binne my ek kan enigiets doen. Ek hoop dit is die een ding wat ek vir my twee seuns kan leer: dat jy enigiets kan doen as jy regtig jou kop neersit en werk. Ek dink solank jy ’n droom en ’n visie vir die toekoms het, sal jy altyd dryf hê.
Soms vat dit net bietjie langer vir sommige van ons om die visie en die droom duidelik te sien.
Iets interessants oor jou?
Ek doen enige iets van naaldwerk tot houtwerk en verfwerk. Noem dit, ek sal dit aanpak. Verder het ek al aan ’n paar 4x4-kompetisies deelgeneem.
Wat is jou lewensmotto?
Hou op kerm en kla oor die situasie – staan op en doen iets. Deur te sit en almal en alles om jou te blameer vir jou situasie gaan geen verskil maak of jou nader aan jou doel bring nie.
Fokus op die mooi en die goeie en werk hard. Harde werk word altyd beloon. Soms vat dit dalk net langer, en dis oukei. En dan natuurlik: wees dankbaar. Stop net soms vir ’n minuut en kyk om jou en besef net weer dit maak nie saak hoe sleg dinge gaan nie – daar is altyd iets om voor dankbaar te wees.
Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?
Ek het geleer dat dit beslis moontlik is om enige iets wat ek op die stoof of in die oond kan gaarmaak, ook op die vuur te maak. Ook dat mens nie moet bang wees om nuwe dinge te probeer en te eksperimenteer nie.
Daar het ’n hele nuwe wêreld vir my oopgegaan oor die manier waarop ek nou kosmaak op die vuur benader. Ek het beslis ’n meer verfynde aanvoeling vir temperatuurbeheer oor die kole ontwikkel.
Jou nommereen-braaiwenk?
Beslis ’n goeie vuur. Goeie, harde hout maak goeie, warm kole. Ek maak altyd meer vuur as wat ek dink ek gaan nodig hê en het altyd ekstra warm kole aan die kant.