Wat is jou beroep?
Ek is ’n dominee.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Vir die braai. Hierdie is so deel van ons kultuur, maar tog ’n nuwe soort uitdaging. Iets wat my buite my gemaksone sou vat.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is iemand wat hou van uitdagings. Ek probeer onderskeidend leef en is ’n persoon wat waarneem wat rondom my aangaan. En ’n dromer.
Iets interessants oor jou?
Ek het talle stokperdjies en is lief daarvoor om met my hande te werk. Ek is lief vir die see en alles wat daarmee saamgaan – visvang van die rotse af, surf en bodysurf.
Ek doen ook houtwerk en maak my eie handplanes vir bodysurf. Ek neem graag Polaroid-foto’s en gee dit weg vir mense. Ek hou ook daarvan om met my Vespa uit te ry na ’n onbeplande bestemming om êrens nuuts op te eindig.
Wat is jou lewensmotto?
Leef in die oomblik. Wees nou die beste persoon wat jy kan wees, ongeag wat al oor jou pad gekom het. Leer daaruit en gebruik dit in die nou. Ons kan almal elke dag iets nuuts leer en dit weer toepas.
Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?
Wees oop vir nuwe ervaringe. As jy net jou grense so ’n bietjie skuif en gewillig is om iets nuuts aan te pak, kan jy soveel ryker anderkant uitkom.
Jou nommereen-braaiwenk?
Moet nie jou oë van die kos op die vuur afhaal nie. En as jy ’n ervare braaier is, vertrou jou instink as dit kom by wanneer jy moet afhaal. Jy het nie verniet al daai ure agter die vlamme deurgebring nie.