Wat is jou beroep?
Vryskutsjef.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Ek het gevoel dis die regte tyd om aan myself te bewys dat ek “nog kan” en dat ek “meer is as net dit”.
As student het ek aan baie kookkompetisies deelgeneem, en dit was vir my so lekker om dit te doen.
Ek hou van die tydsdruk wat met so ’n kompetisie gepaard gaan. Ek werk op my beste as daar so ’n bietjie druk in die mix is.
Ek was nog altyd ’n baie kompeterende mens, en dit het my gedryf om elke dag beter te wees as gister en die lat hoër te stel vir môre. Ek het gevoel Kokkedoor Vuur & Vlam sal die platform wees waar ek weer kan kompeteer.
Wat is nou beter as ’n braaikompetisie? Dis mos in ons Suid-Afrikaners se bloed om te braai. Min het ek geweet Kokkedoor Vuur & Vlam is baie meer as dit.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is eintlik ’n lekker rustige ou. Maar sit my in ’n kombuis, dan is ek baie meer ernstig. Dit gaan egter alles oor die liefde vir kos en die proses om dit so lekker en mooi as moontlik te maak.
Ek is ook ’n persoon wat nooit terugdeins vir ’n bietjie ekstra moeite nie. En ek hou ook daarvan om ander mense om my te help. Dan geniet ek ook die natuur en avontuur.
Iets interessants oor jou?
Op skool het ek en ’n paar vriende huishoudkunde as vak geneem, want ons het gedink dis ’n grap, en ons was nie lus om houtwerk te doen nie.
Min het ek geweet ek gaan dit so baie geniet (die kosmaakgedeelte) en dat dit die rigting sou wees wat ek na skool gaan swot.
Ek is ook ’n natuurliefhebber wat versot is op vlieghengel. Op die lysie van inheemse geelvisse (Genus Labeobarbus) van Suid-Afrika het ek al vyf van die ses verskillende spesies gevang.
Wat is jou lewensmotto?
As jy ’n goeie dag wil hê, moet jy jou dag begin deur jou bed ordentlik op te maak. Daarna doen jy alles wat jy aanpak uit liefde en met oorgawe.
Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?
Dat ek nie so hard op myself moet wees nie en dat ek altyd in myself en in my kosvernuf moet glo.
Jou nommereen-braaiwenk?
Maak gebruik van ’n toeknyprooster om jou lewe makliker te maak