
Wat is jou beroep?
Ek is die operasionele bestuurder van ons familieplaas, Klein Roosboom, net buite Durbanville.
Hoekom het jy vir Kokkedoor Vuur & Vlam ingeskryf?
Dit was vir my ’n geleentheid om my vaardighede te toets, nuwe tegnieke te leer en natuurlik blootstelling vir ons plaas te kry. Boonop het ek die kans gekry om kos langs die see te maak en nuwe mense te ontmoet – wat beter kan ’n mens voor vra?
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is ’n familiegeoriënteerde mens met ’n liefde vir kos, wyn en die natuur. Ek streef daarna om altyd kreatief te wees en nuwe dinge aan te pak, veral as dit by kosmaak en die bestuur van ons plaas kom.
Dit dryf my om Klein Roosboom as ’n unieke wyn- en kosbestemming uit te bou en vir mense onvergeetlike ervarings te bied.
Iets interessants oor jou?
Ek hou van jag en visvang. Ek gebruik hierdie geleenthede om my eie vleis te verwerk. Ek geniet dit om wors, droëwors en biltong te maak vir familie en vriende. Dis vir my ’n manier om kreatiwiteit en tradisie te kombineer. Die hele proses – van die jag tot die finale produk – is iets wat ek as ’n kuns sien en waarop ek trots is.
Wat is jou lewensmotto?
As jy twyfel, gooi nog hout op. Hierdie slagspreuk weerspieël nie net my benadering tot kosmaak nie, maar ook my lewensfilosofie: Gee altyd jou beste en moenie bang wees om ekstra moeite in te sit nie.
Wat het jy van jouself tydens jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam geleer?
Dit het gewys dat ek goed in ’n span kan werk saam met ’n verskeidenheid mense en dat ek beter onder druk kan funksioneer as wat ek verwag het.
Jou nommereen-braaiwenk?
As jy twyfel, gooi nog hout op.