web uni tv guide
HP BB wies nuus
web uni tv guide

Wie's Nuus

144NuusPG13

Wie’s nuus? – Wicus staan in vir mamma Mia

Nuus13 Januarie 2026
Op 14 Januarie 2026 is Wie’s nuus? terug op kykNET, maar die aanbieder, Mia Spies, is nie in hierdie seisoen voor die kamera nie. En met goeie rede: Mia word vir die eerste keer mamma in Februarie.
Wie's nuus

Die ervare joernalis Wicus Pretorius, ook bekend as een van Fiësta se veldaanbieders, gaan vir Mia instaan. Wicus se loopbaan in die media het al verskeie draaie geloop. Hy was, onder meer, nuusredakteur van Die Burger in die Oos-Kaap, redakteur van TV Plus, adjunkredakteur van Huisgenoot en You, en sedert 2014 is hy redakteur van Tuis/Home.



Watter stempel sal hy graag op Wie’s nuus wil afdruk?

“In my jare by Huisgenoot het ek geleer mense wil die wêreld om hulle beter verstaan: of dit nou SARS se nuutste belastings is, of die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering, of die komende munisipale verkiesings, of wat werklik gebeur het met Kleuterzone – en wie wanneer aan die pen gaan ry vir wat ook al die skandaal van die oomblik is. Ek sal graag daardie waardevolle les met my wil saamvat ateljee toe en die kykers help om sin te maak van die lewe en die gebeure wat ons elke dag raak en ons lewenskwaliteit beïnvloed. Almal moet met gesag kan saampraat by die braaivleisvuur as hulle klaar Wie’s nuus? gekyk het.”

Om voor te berei, gaan hy voortgaan om plaaslike én internasionale nuus te volg.

Wie's nuus? word gemaak deur ’n span mense wat meedoen om die program en inhoud bymekaar te sit,” sê Wicus. “Die beste wat ek kan doen, is om soomloos in te val by daardie proses, my stem in te gooi in die gesprek en seker te maak ek is voorbereid op wat ook al die onderwerp van die episode is. Maar onthou: Die program gaan nie oor my nie. Ek is net die fasiliteerder wat die vrae vra en die gesprek aan die gang moet hou en moet uitkom by antwoorde wat my en die kyker sal bevredig. Ek moet maar net seker maak ek vra die regte vrae! Veral die regte opvolgvrae. Die waarheid lê soms in wat nie gesê word nie, eerder as wat gesê word. Dan moet dit wat nie gesê is nie, ontgin word.”

Dit is volgende jaar munisipale verkiesings in Suid-Afrika. Is sy politieke tande geslyp?

“Ek hou die politiek dop as burger van die land – een wat hoop vir ’n beter lewe vir almal. Ek vind die sirkus-element van hedendaagse Suid-Afrikaanse politiek so strydig met ubuntu: die ewige binnegevegte, dienslewering, veiligheid en werkskepping en praktiese krisisse soos verkeer (tans in Kaapstad) en paaie in plekke soos die Oos-Kaap. Die munisipale verkiesings is belangrik, want dit dek die tafel vir die volgende nasionale verkiesing. En tussenin moet die ANC ’n nuwe leier kies. Faksies en koalisies – is dit ons toekoms?  So, ja, my tande is geslyp: vir elke politikus wat net punte wil score, maar nie die werk doen nie!”

Wie’s nuus? se nuwe seisoen begin op Woensdag 14 Januarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.