Van stowwerige bokse op die solder tot vergete erfstukke – Suid-Afrikaners sit dalk op meer skatte as wat hulle besef. In Fanaties, wat elke Woensdagaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word, deel Natie Ferreira, aanbieder en oudhede-kenner, sy praktiese raad met kykers oor hoe om moontlike antieke stukke in jou eie huis raak te sien, hoe om dit reg te hanteer en watter foute om te vermy.
Vir enige iemand wat al gewonder het of daar dalk ’n verborge skat in hul kas, motorhuis of erfstuk skuil, is hierdie raad goud werd.
1. Na watter eerste tekens kan mense kyk om te bepaal of ’n item in hul huis dalk antiek en waardevol is?
Die eerste tekens is ouderdom, maar nie alles wat antiek lyk, is regtig oud nie. Die eerste vraag wat jy jouself moet vra, is of dit ’n ou item is, en mense moet eerlik met hulself wees daaroor. Vir jou kan ’n stuk 20 of 30 jaar oud wees, maar dit is nie noodwendig ’n oudheid nie. Nog ’n aanduiding is natuurlik of jy dit al voorheen gesien het by ander mense se huise. Dan moet jy jouself vra of die item in jou huis regtig iets raars is. So, dis iets wat jy self kan bepaal: of jou item raar is of nie. Jy kan ook gebruik maak van tegnologie deur ’n foto te neem van jou item en dan sagteware op die internet inspan om vas te stel of daar iets soortgelyks in die wêreld is.
2. As iemand vermoed hulle het iets waardevols, watter praktiese stappe moet hulle neem voordat hulle dit verkoop, skoonmaak of laat restoureer?
Jy moet eers kyk of daar iets soortgelyks is daarbuite. Jy sal, byvoorbeeld, sien mense adverteer dieselfde item teen goedkoop pryse. Dan weet jy dit is nie waardevol nie. As jy sien mense adverteer die item teen duur pryse, huiwer en wag voordat jy die artikel begin restoureer. Onthou, jy kan dit altyd skoonmaak en weer restoureer. As jy dink dis rêrig waardevol kan jy ’n veilinghuis besoek. Daar is baie antiekhandelaars in Suid-Afrika, en jy kan selfs na universiteite gaan. Universiteite is baie lekker neutrale plekke, want hulle wil nie noodwendig geld uit jou maak nie, en hulle sal vir jou ’n eerlike opinie gee.
3. Watter “verborge skatte” kom jy die meeste in Suid-Afrikaanse huise teë – items waarvan mense nie besef dit kan waarde hê nie?
Ek dink baie mense kyk mis wat in hulle juwelekissies is. Ek praat nie noodwendig van jou ouma se diamantring of ’n halssnoer nie – ek praat van die kleiner goedjies soos, byvoorbeeld, medaljetjies. Partykeer is daar rêrig waarde in die klein medaljes en klein voorwerpe soos knipmesse, mansjetknopies en selfs horlosies. Ek vind ook baie Boereoorlog-memorabilia, soos gekerfde items, wat mense nie altyd weet baie waardevol is nie. Ek dink dit is goed wat behou moet word.
4. Watter algemene foute maak beginners wanneer hulle ou items hanteer of probeer waardeer, en hoe kan hulle dit vermy?
As jy ’n antieke item het, dink twee keer voor jy dit verkoop en een keer voor jy iets koop. Wanneer ’n mens goed koop, moet jy relatief vinnig ’n besluit neem, want jy moet dit dadelik koop anders verpas jy die geleentheid. Dit plaas dikwels druk op versamelaars ook. So, as jy iets sien waarvan jy hou, is die belangrikste rede om dit te koop omdat jy daarvan hou. Enige versamelaar koop die item en doen die navorsing daarna. En as jy wil verkoop, maak seker dat jy die regte prys kry voordat jy dit verkoop. Begin vertroue bou met ’n antiekhandelaar in jou omgewing of gaan na veilinghuise dat hulle vir jou kan help om stukke te waardeer. Maar vat jou tyd, gebruik jou internet, gebruik jou boeke, en jy sal leer met tyd. Enige goeie handelaar sal vir jou sê om jou tyd te neem en te verkoop wanneer jy reg is.
5. Vir iemand wat wil begin versamel: Waar begin ’n mens, en wat moet jy in gedagte hou wanneer jy oudhede koop of evalueer?
Ek dink die belangrikste ding is om net te begin. Moenie bang wees nie. Identifiseer iets wat vir jou mooi is, kyk waarin jy belangstel en begin daardie items versamel. Gaan na ’n mark of antiekwinkel toe. Jy gaan iets sien waarvan jy hou en dan koop jy dit en waardeer die stuk vir wat dit is. Moenie jou bekommer oor die geldwaarde nie. Sien dit as ’n leefstyl-aankoop. As jy begin versamel, gaan na antiekwinkels toe of gebruik die internet om jou navorsing te doen of word selfs deel van versamelklubs. ’n Mens maak vriende en bou ’n hele netwerk op. As daai gogga jou gebyt het, gaan jy vir die res van jou lewe oudhede wil versamel.
Skakel elke Woensdagaand om 20:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144) en reis saam met Natie Ferreira deur ’n wêreld vol geskiedenis, passie en verborge skatte – dalk lê jou volgende groot ontdekking sommer reeds in jou eie huis. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
