kyknet channel logo

'n Desember propvol vermaak op die kykNET-kanale

Nuus29 November 2024
Die laaste twee episodes van Nêrens, Noord-Kaap Deel II, ses splinternuwe feesseisoenflieks, konserte, inspirerende dokumentêre programme, musiek en fliekNET – dit alles en veel meer is op die kykNET-kanale se Desember-spyskaart.
Desember



Nêrens, Noord-Kaap Deel II

3 Desember

Frans en Maggie probeer vir Ronnie moed inpraat. Andries en Pa Lourens gaan op reis en Frans reik uiteindelik uit na Lorrie.

10 November

Ná dekades se seer en miskommunikasie, breek nuwe hoop oop vir die Adendorff-broers en hulle gesinne.

Nêrens, Noord-Kaap Deel II is op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) asook DStv Catch Up en DStv Stream.



Klubhuis

Klubhuis, ’n nuwe dokumentêre reeks oor klubrugby wat op 13 Desember op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, wys dat provinsiale en nasionale rugby nie die enigste been van die sport is wat aanhangers hulle kele laat hees skreeu nie. Klubhuis neem kykers op reis na die hartkamers van die Suid-Afrikaanse rugbylandskap waar kameras selde, indien ooit, uitkom en grasvelde ’n luukse is; waar die waardes van rugby – spanwerk, dissipline en respek – gemeenskappe op en veral van die veld af saamsnoer en moed vir nog ’n moeilike môre gee.

Die vervaardigers van Klubhuis het die land vol gereis agter klubrugbystories aan – van Saldanha tot Hawston, van Thabazimbi tot Vanwyksvlei. Die reeks van ses episodes is oor die bestek van meer as ’n jaar verfilm en neem jou saam na derby-Saterdae en skemeroefensessies waar die trane afgedroog word en die oorwinnings gevier word – in die klubhuis.

Klubhuis begin op 13 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Splinternuwe flieks onder die kykNET-Kersboom

Ses splinternuwe speelfilms première hierdie feesseisoen op kykNET en bied perfekte vermaak vir die hele familie, van jonk tot oud. Vier van die flieks word op Dinsdagaande om 20:00 uitgesaai en twee op Saterdae, ook om 20:00.



Headspace

14 Desember om 20:00


’n Opwindende Suid-Afrikaanse animasieprent oor ruimtewesens wat vir die eerste keer in Afrikaans oorgeklank is. ’n Groep ruimtewesens is vasgevang in die brein van ’n tienerseun. Hulle span sy hulp in om die aarde te red van Zolthard, ’n interplanetêre skurk wat die skoolhoof se brein gyselaar hou. 



Alleen vir Kersfees

17 Desember om 20:00


’n Werkverslaafde vrou wat haar Kersgees verloor het, word vasgekeer saam met ’n man wat heel Kersfeesbedot is. Sy moet haar verlede konfronteer om weer die magic van Kersfees – en die lewe – te vind. Met Amalia Uys en David Viviers.



Kersfees by Molly en Wors

21 Desember om 20:00


Molly en Wors sukkel met hulle leë nes, maar kort voor Kersfees kom kuier Blapsie met haar man en kind. Vaatjie, wat die vorige jaar geskei is, besluit om ook by sy ouers te kom afpak. Skielik is die Visagie-huis vol mense, en die voorbereiding vir Kersfees word ’n riller. Om alles erger te maak word Molly en Blapsie die dag voor Kersfees vir winkeldiefstal in hegtenis geneem. Met Lizz Meiring, Willie Esterhuizen, Karen Retief, Carien Botha, Gerhard Odendaal en Hannelie Warren.



Skaapboud of potjie

24 Desember om 20:00


Dis die Swanepoel-gesin se laaste Kersfees in Suid-Afrika voor hulle na Kanada emigreer. Elma, die oudste dogter, het hoë verwagtinge vir die familievakansie. Hendré, haar jonger broer, sien uit om sy nuwe meisie aan almal voor te stel. Groot is die kinders se skok toe hulle egter uitvind hulle ouers is van bed en tafel geskei. Met Erica Wessels, David Louw, Hélène Truter, Albert Maritz en Viljé Maritz. 



Miskien, ja

31 Desember om 20:00


Wian beplan ’n geheime Oujaarsaand-verlowing vir Anja by die plek waar hulle ontmoet het, maar dinge loop lelik skeef. Kan hulle die aand én hul liefde red? Met Izel Bezuidenhout en Dwayne Vorster.



Sprokie in die platteland

7 Januarie om 20:00


Lienke se ma wou altyd gehad het sy moet terugkom platteland toe, en ná ’n verhouding wat nêrens gegaan het nie en ’n kruispad in haar loopbaan, stem sy in om tydelik kuns te gee by dieselfde laerskool waar sy self op die skoolbanke was. Sy kry egter ’n onaangename verrassing toe sy uitvind dat Ruan, die bure se seun wat haar hart op hoërskool gebreek het, nou een van haar nuwe kollegas is. Met Marguerite van Eeden, Sean-Marco Vorster, Marciel Hopkins en Zak Hendriks. 

Desember op kykNET propvol spesiale vermaak

Jy is dalk met vakansie, maar dit beteken nie kykNET rus ook nie. Inteendeel! Desember se skedule gaan kykers bederf met alles van sielvolle dokumentêre programme tot musiek deur groot name in die vermaakbedryf. 



Net mens: Jan Bloukaas

Op 4 Desember om 20:00 kry kykNET-kykers ’n intieme kykie op hoe dit nou met Jan Bloukaas en sy stryd teen kanker gaan in ’n spesiale aflewering van Net mens, die program waar bekendes dikwels ’n ander, meer weerlose en feilbare sy van hulself wys. Daar word met van Jan se vriende en kollegas in die musiekbedryf gepraat en ook met sy ouers, Daan en Ronelle du Plessis, wat hulle seun deurentyd met soveel liefde ondersteun. Sy broers, Johan en Stephan, gesels ook oor hulle kleinboet. Moenie hierdie eksklusiewe en sielvolle program misloop nie.

Net mens: Jan Bloukaas word op 4 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Nuwe noord: Live by die Atterbury

Danie 'Reënwolf' du Toit van die gewilde groep Spoegwolf betree die verhoog om songs te sing, stories te vertel en gedigte te lees. Alles gebeur op die magiese verhoog van die Atterbury Teater in Pretoria waar sy nuwe bundel bekendgestel is. Nuwe noord is ’n storie van soek. Dis songs oor ’n plek waar jy nog nie is nie. Dis gedigte oor verdwaal en uiteindelik 'n oomblik van sing en dans in die ligte vind. 

Nuwe noord: Live by die Attebury word op 11 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Daai keer toe Robbie Wessels en drie vriende probeer het om as straatmusikante in Europa te oorleef

Stel jou voor: Een van Afrikaanse musiek se gewildste sangers gaan Europa toe saam met ’n paar vriende, en hulle probeer dan daar as straatmusikante oorleef. Dit is presies wat Robbie Wessels en drie van sy vriende – Leza Liversage, Daniël Rademeyer en Jannes Erasmus – gedoen het.

In dié reeks van ses episodes reis die vier vriende na Nederland en België met ’n kamera en ’n kitaar, vol moed dat hulle hulself op straat sal kan onderhou. Hulle ontpop gou in wafferse straatmusikante, of “buskers” soos dit in Engels genoem word. 

Van die plekke waar die vier “busketeers” aandoen, is Amsterdam in Nederland, Antwerp, Gent, Brugge en Turnhout in België.

Robbie Wessels en die oorsese busketeers begin op 13 Desember om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Die shackbouer

Hierdie merkwaardige dokumentêre program gaan oor die lewensveranderende werk van Quinton Adams, ’n voormalige sielkundige van Kaapstad wat ’n kampvegter vir maatskaplike en sosiale geregtigheid geword het. Dit speel af teen die beeldskone agtergrond van Namakwaland en sy sout-van-die-aarde, dikwels vergete mense wat daagliks alles in die stryd werp om ’n waardige bestaan te voer.

Quinton het Shackbuilder, ’n nie-winsgewende organisasie, op die been gebring om mense te probeer help wat met behuisings- en ander maatskaplike en sosiale krisisse sukkel. Só het hy en sy hoogs bekwame projekleier, Jessica Lottering, saam met ’n span jong bouers uit agtergeblewe gemeenskappe (wat deur sy Backyard Varsity opgelei word) talle Suid-Afrikaanse behoeftiges se lewens handomkeer verander.

Kort voor Kersfees laasjaar het hulle besluit om nog drie hulpbehoewende gesinne uit dié gemeenskap met splinternuwe gemeubileerde strukture te verras. Dis een van die roerende stories wat in dié dokkie vertel word.

Die shackbouer is nie net ’n viering van die mensdom se onblusbare veggees en deursettingsvermoë in die moeilikste omstandighede nie, maar ook ’n bewys van wat kan gebeur wanneer medemenslikheid en samewerking ingespan word om lewens te verander.

Die shackbouer word op 18 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Kersfees Skouspel 2023

Kersfees Skouspel 2023 spog met die room van Suid-Afrikaanse sangers. Anna Davel, André Schwartz, Arina de Witt, Bobby van Jaarsveld, Cindy Alter van Clout-faam, Corlea Botha, Granville Michaels, Jak de Priester, Karin Hougaard, Louis Loock, Ruhan du Toit en Ernie Bates deel almal ’n verhoog in die feestelike konsert. Die musikale regisseur is Jaconell Mouton.

Kersfees Skouspel 2023 word op 25 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Gé sing: Hoor my lied

Gé Korsten was een van die grootste vroeë suksesverhale in Afrikaanse musiek. Hy het in sy loopbaan van meer as 40 jaar ’n allemintige 58 albums opgeneem en het verskeie toekennings gewen en eerbewyse ontvang. In die dokumentêr Gé sing: Hoor my lied kry kykers deur oudiovisuele argiefmateriaal ’n oorsig oor sy werk en insigte oor hom as kunstenaar, mens en vader. Sy musikale nalatenskap word op ’n vars manier herinterpreteer deur vier van die land se voorste kunstenaars: André Schwartz, Arina de Witt, Louis Loock en Stephanie Baartman. ’n Volle orkes, onder leiding van Chanie Jonker, begelei die sangers. Die regie en teks is deur Frans Swart.

Gé sing: Hoor my lied word op 30 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Krone 2024

Dit was ’n moewiese jol toe van die grootste name in Afrikaanse musiek vanjaar weer Loftus met die immergewilde Krone-konsert laat dreun het. Met ’n 360-grade-verhoog en lirieke op groot skerms om saam te sing, het Appel, Barto, Bernice West, Brendan Peyper, Droomsindroom, Early B, Elandré, Eloff, Irene-Louise van Wyk, Jan Jan Jan, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Leah, Liezel Pieters, Refentse, Ricus Nel en Snotkop die skare op hulle voete gehad. Die konsert is opgeneem en nou kan jy die Oujaar op ’n hoë noot afsluit deur deel te wees van hierdie plesier op note.

Krone 2024 word op 31 Desember om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Kry die springmielies gereed – fliekNET is terug in Desember!

kykNET se gewilde opwipkanaal fliekNET maak vanjaar nogmaals op 13 Desember sy tuisbioskoop se deure oop, en fliekvlooie gaan weer op van die beste Afrikaanse speelfilms, kortfilms en dokumentêre trakteer word. 

fliekNET gaan, soos nou al tradisie is, ’n allegaartjie van treffers, bekroonde flieks en ook ’n paar klassieke ouer rolprente wys.

Die beste kortfilms en dokumentêre wat by die Silwerskermfees te sien was, is ook op die spyskaart. ’n Móét is ’n Gids vir Louzanne, oor die Paralimpiese medaljewenner Louzanne Coetzee, asook twee van die dokumentêre wat mense vanjaar by die Silwerskermfees aan die gons gehad het nie – Maak stil die geblaf en Tussen die draad en die dropper.



Kortfilms wat vanjaar by die Silwerskermfees gedebuteer het en op jou moetkyklys hoort, is Marie se laaste dag, Noise & Neighbours en Baas se honne.

Jy is my liefling, Die geheim van Nantes en Hoor my lied is van die klassieke flieks op die program, en dan is daar nog ’n rits uitstekende speelfilms soos Hans steek die Rubicon oor, Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom, Dominee Tienie, Meerkat Maantuig en Barakat, wat vir ure se vermaak hierdie vakansietyd gaan sorg.



fliekNET is van 13 Desember 2024 tot 12 Januarie 2025 op DStv-kanaal 149. Die uitsaaitye is van 12:00 tot 00:00. Dit is dus twaalf ure se daaglikse fliekgenot – alles op een plek.

Sepies



Binnelanders


Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Joe kry nuwe insigte oor die keuses wat sy pa in die verlede gemaak het. Ella blameer haarself wanneer ’n pasiënt onverwags sterf, en toe Binneland se teaters amper oorstroom, is Ongevalle ’n miernes. Nicolette en Joe maak uiteindelik vrede. Henry en Delia stamp weer koppe oor Riekie, en Nina kom kuier vir Kersfees.

Tertius is woedend wanneer hy besef Esra is terug, en uiteindelik werk dinge nie goed uit vir Jonas nie. Henry nooi Ella vir drankies by sy huis, en Louis besluit om Kersfees ekstra spesiaal vir Naomi te maak. Kersfees is ’n groot gedoente by die Kosterhuis, en Delia voel oorweldig. Cecile en Bonnie gaan ’n weddenskap net voor Oujaar aan, en Uys is bekommerd dat Elise dalk vermis is.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Lee-Ann en Debbie se wraakplanne met Clayton raak al hoe gevaarliker, en dit is duidelik hulle speel met vuur. Is dit ’n kwessie van ’n oog vir ’n oog? ’n Jakkals verander van haar, maar nie van snaar nie, en Nazeem neem drastiese stappe om sy, Emir en Kaashifa se spogrestaurant se deure oop te hou. In die proses laat hy die pap op die grond val, wat Kaashifa se reputasie op die spel sit.

’n Groot apteekgroep het hul oog op die Aalwyn-apteek, en dit is ’n bitter pil vir Ruiterbosch se inwoners om te sluk. Aiden moet dus ’n belangrike besluit oor die apteek se toekoms neem, en dit begin lyk na Dawid teen Goliat. Iemand uit Riaan se verlede in Australië maak kontak, en dit blyk daar is tog ’n geraamte in Kate se seun se kas.

Bridgette het groot planne vir Kersfees en maak gereed vir ’n spoggerige affêre. Haar pad na die perfekte Kersfees is egter vol duwweltjies. Terwyl Ruiterbosch se inwoners regmaak om 2024 te groet, land daar olie op die vuur op die liefdesfront. Dit lyk veral of Siya se liefdeslewe in 2025 ’n saak van gebed gaan wees.



Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Rossouw se gewete word getoets, en hy staar ’n moeilike besluit in die gesig wat verhoudings kan vernietig. Zelda probeer ’n nuwe koers inslaan, terwyl Theresa uitdagende oomblikke beleef wat haar emosies en krag beproef. Tommie bevind hom in ingewikkelde situasies waar die waarheid uitkom, en spanning binne families bereik breekpunt. In hierdie feesseisoen gaan die karakters van Diepe waters groot veranderinge, opofferings en uitdagende waarhede in die gesig staar wat hul lewens ingrypend kan verander.

kykNET&kie



Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Hazel se wêreld is besig om in duie te stort, en met die verloop van tyd word meer en meer geheime ontbloot. Die Louws staan bankvas agter Hazel terwyl Ronnie sy bes probeer om dinge reg te maak. Erica begin al hoe meer agterdogtig raak oor Christine, en wanneer sy ’n item in Christine se hotelkamer vind, word haar voete onder haar uitgeslaan. Sy besluit om die nuus met Ragel te deel, maar Ragel het in ruil daarvoor nóg groter nuus wat epidemiese proporsies aanneem.

Die gort is gaar wanneer JP aanhou om Willem se boerderystyl te kritiseer. Dinge raak so warm tussen dié twee boere dat Jasmine en Tillie moet ingryp. Maar dis Tillie wat aan die kortste end trek – Williem verbied haar selfs om kontak met die Louws te maak. Dirk kom eindelik huis toe, maar sal hy betyds wees om sy ma te red?



Elwira is opgewonde oor Koortjies se nuwe seisoen

Die gewilde gospelprogram Koortjies keer op Sondag 15 Desember vir ’n sesde seisoen terug na kykNET&kie. 

Vroeër vanjaar het die Pinkstersanger en Idols-deelnemer Elwira Standili die aanbiederleisels by Jonathan Rubain oorgeneem en gou haar stempel op die program afgedruk.

Onder haar gaste vir die komende seisoen tel Marc Lottering, Lester Kiewit, Chanelle Davids-Abrahams en Juandré Davids.

Vir Koortjies se Kersfeesskouspel verwelkom Elwira vir Robin Pieters, Paxton Fielies en Kinders van Sion as gaskunstenaars.

In die nuwe jaar kom kuier Skemergrond se Marunzo Thomas en Ashley Riddles by Elwira, terwyl Suidooster se Richard September en Melissa Willering, wat onderskeidelik Bennie en Linda in die sepie speel, oor verdraagsaamheid kom gesels.

Koortjies begin op 15 Desember om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

kykNET NOU!

Vakansietyd is hier van 10 Desember 2024 tot 5 Januarie 2025! Dis tyd vir son, see en Bosveld. Dis tyd vir familie en kuier en dans, en kykNET NOU! verskaf die speellys vir jou vakansie met Die Heuwels Fantasties, Len Muller, Margot, Eloff, Brendan Peyper, Die Piesangskille, Irene-Louise van Wyk, Kurt Darren, Christia Visser, Elandré, Leah, Snotkop, Barto, Jack Parow, Loki Rothman, Elvis Blue, Jan Jan Jan, Bernice West, Rooksein, Nolene, Liezel Pieters, Ricus Nel, Jakkie Louw, BlackByrd, Tamlyn Wessels, Rowan Zerf, RAAF en nog vele meer.

kykNET NOU! is op DStv-kanaal 146.