web uni tv guide
web uni tv guide

Kokkedoor: Son & See

144RealiteitPG13 L

Kokkedoor: Son & see: Die son sak vir oulaas op Struisbaai – maar wat ’n uitsonderlike affêre was dit nie!

Nuus09 Januarie 2026
Lees meer!
Kokkedoor

Dit was net die anderdag dat kykNET se koswerklikheidsreeks, Kokkedoor: Son & see se vrolike klankbaan en baldadige kleure vir die eerste keer op skerm verskyn het. Sedertien elkeen van die deelnemers diep in kykers se harte gekruip – veral omdat hulle so eerlik was oor hul reis tot hier by die Kokkedoor-stoor in Struisbaai. Hulle het familie geword . . . nie net vir die ander spanne nie, maar ook van huis tot huis.



Ongelukkig het die uurglas nou leeggeloop vir die eerste seisoen van ’n lieflike kosreis met glassjef en resepboekskrywer Herman Lensing en sy ewe bekende en bewame mede-aanbieder en beoordelaar, Yolani Abrahams. Dié twee het die Kokkedoor-kombuis behoorlik in Afrikaans laat kóók en die spanne met soveel deernis deur hierdie reis geneem.



In die laaste episode was dit Andrew Anderson (57), die self-erkende “mal kamper” van Mtunzini, en sy dogter, Leoné Smit (30), wat hul koskragte teen Hanna van der Westhuizen (58) en haar seun, Dirk (29) van Aberdeen moes meet.

Al vier se nerwe was behoorlik flenters, maar aan moed en geesdrif het daar niks geskort nie – ook nie toe hulle besef elke span moet vir 25 gaste bederfkos voorsit nie. Sleutelwoorde soos “Crimplene Cuisine”, fondue, cocktail-frikkadelletjies en les bes – daardie suuruintjie-en-kaasstokkies wat in ’n pynappel gesteek is, het die twee spanne op hul pad gehelp. O ja, en die veerligte mousse van die 90’s wat Herman as “the little black dress” beskryf wat helder en luid partytjie-chic verteenwoordig het.

Die Kokkedoor-resep het deur al die seisoene heen veral een besondere bestanddeel opgedis: ’n verrassingselement wat geen een van die spanne kon voorspel nie. Met Kokkedoor: Son & see was dit natuurlik ook ingesluit.



En toe beide Yolani en Herman die spanne verder vertel het dat hulle seker moet maak dat hul disse ook in die kraal van hul “eende van ’n eenderse dam” sal pas, het nie een van die viertal verwag wat volgende sou gebeur nie.

Die “eende” was daar! Dit was hul geliefdes wat genooi is om hulle te kom ondersteun. Vir Andrew het sy vrou, Leonie (ma van Leoné) opgedaag, asook Leoné se niggie en strooimeisie, Ciske. Hanna se tannie van vaderskant, Taya, en Dirk se kêrel, CJ, was weer daar vir hulle twee. Die “eende’ se verskyning die trane behoorlik laat vloei.



En toe is die vet in die spreekwoordelike vuur – want nou was daar meer as net die prysgeld op die spel. Dit was ook hul kans om hulle geliefdes te wys waartoe hulle in staat is.

Dit was Hanna en Dirk wat die Goue (en pienk) Haan omhoog gehou het. Maar, soos Hanna dit gestel het, hierdie was veel meer as net kook.



“Voor die tyd het ek gedink dit gaan hoofsaaklik oor kook. Ná die tyd besef ek dit gaan net soveel oor menswees. Jy leer jouself ken onder druk, jy leer hoe diep jy kan delf, en jy leer om te vertrou – op jouself en op mekaar.”

Dan is daar ook die wonderlike uitvloeisel van nuwe vriende wat gemaak is. ’nWhatsApp-groepie wat tot stand gekom het waar al die spanne gereeld by mekaar inloer – soms vir ’n geselsie, soms oor ’n resep. Nes familie dit sou doen!



Hanna en Dirk het R500 000 ontvang, geborg deur World Sports Betting. En elkeen het ook ’n Mervyn Gers-eetstel ontvang. Andrew en Leoné het R180 000, geborg deur Spekko, ontvang.

 

Die volle seisoen van Kokkedoor: Son & see, nou beskikbaar op DStv Stream en DStv Catch-Up.