Logo
kykNET_Juffrou_X_Slim_billboard
web uni tv guide

Juffrou X

144Drama16 VL

Juffrou X: Grinterige nuwe kykNET-dramareeks wys die snykant van skole en die onderwysers en gemeenskap wat ’n verskil probeer maak

Nuus
12 April 2024
Lees meer oor die Suid-Afrikaanse reeks wat op Dinsdag 30 April om 20:00 op kykNET begin.
Juffrou X

Dink terug aan jou skooldae, en daar is altyd ’n paar dinge wat uitstaan. Die hoogtepunte. Die tawwe tye. Daardie een meneer of juffrou wat uit hulle pad gegaan het om vir jóú die pad oop te maak. Die opsigter wat van vroegoggend tot laataand op sy pos was. Die mense – of dit nou ’n kantoortannie of ’n berader was – wat altyd daar was vir jou. Die goeie dae van skooldanse, vriendskappe, eksamens, mislukkings en suksesse. In kort: ’n Skool wat jou voorberei vir alles wat wag in die lewe. 

Sommige skole het al hierdie kwaliteite, maar ook ’n growwe kant wat vir leerders die lewe ekstra moeilik maak. Armoede. Bendes. Misdaad. Dwelms. Dit is maar net ’n paar van die rotse wat voor die leerlinge van Victory Heights Sekondêre Skool in die Suid-Kaap staan, in kykNET se nuwe dramareeks Juffrou X – rotse wat hulle toekoms kan maak of breek. Maar met ’n handjie vol mense wat alles sal doen om die kaf van die koring te skei en daardie klippe vir hulle uit die pad te rol, het hierdie leerlinge dalk net ’n kans op sukses.

Juffrou X wys ’n outentieke kant van die onderwys wat in min Suid-Afrikaanse stories gesien word. Die reeks, met draaiboek en regie deur Hertzogpryswenner Tertius Kapp, bestaan uit agt episodes. Dit begin op Dinsdag 30 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

DIE SINOPSIS

By Victory Heights Sekondêre Skool is die eindeksamen net één van die uitdagings wat kinders in die gesig staar. Wanneer ’n nuwe, dodelike dwelm die plattelandse dorp tref, word dit ’n saak van lewe en dood. Juffrou X, die wiskunde-onderwyseres, bevind haarself in die middel van ’n oorlog, met die skool as prys. Al dieper begeef sy haarself in die wêreld en rol van ’n vigilante, totdat sy sélf moet veg vir haar lewe. Wie kan vertrou word? En wie gaan uiteindelik oorwin?

DIE KARAKTERS

Inge Bester (Trix Vivier) is die hardekwas wiskunde-onderwyseres, volledig toegewyd aan haar werk en haar kinders. Sy kom sinies en outoritêr voor, maar in haar hart is sy ’n idealis wat potensiaal in elke kind sien. 

Jerome Smith (Clayton Evertson) is ’n sekuriteitskonsultant met ’n paar skaduwees in sy verlede en die pa van een van Inge se matrieks. Ná ’n tragiese insident onderneem hy om die skool te help beskerm.

Archie Samuels (Gershwin Mias) is ’n slim en hardwerkende matriekseun wat bang is vir alles. Mettertyd ontgroei hy die verwarde tienerjare en laat homself geld as ’n jong leier.

Shanice Strydom (Anja Taljaard) is ook in matriek, ’n gekweste meisie wat aan desperate drome klou. Haar moeilike omstandighede lei tot opvlieënde en gevaarlike gedragspatrone.

Lionel Snyders (Charlton George) is die opsigter, die oë en die ore van die skool. Hy het egter ’n verlede waarvan hy graag wil vergeet.

Viola Barends (Bianca Flanders) is die berader by die skool en Inge se huismaat. Sy vrees nie gesag nie en sal vinnig opstaan vir dit wat sy glo reg is.

Cameron le Roux (De Klerk Oelofse) is die nuwe, idealistiese Afrikaans-onderwyser. Hy was voorheen by ’n privaatskool in diens, maar besef vinnig daar is twee wêrelde wanneer dit by skole kom. 

Kapt. Hermias Kriel (André Jacobs) is verbonde aan die SAPD, maar bitter min kom ooit van sy ondersoeke. Sy verlede is dalk nie donker nie, maar sy hede wel.

LaMont Jackson (Marlon Swarts) is ’n bendeleier met ’n wrok teen die skool. Hy is intelligent, en as sy omstandighede anders was, sou hy meer van sy lewe kon maak.

Ralph Willemse (Brendon Daniels) is die skoolhoof van Victory Heights – ’n jabroer wat rus op sy status en blink das.

Adjudant-offisier Didi Dlamini (Shalima Mkongi) is ’n enkelma en werk saam met Kapt. Kriel. Sy het sterk beginsels, maar word ook ’n waardevolle skakel in Inge se wêreld.

Ruben Barnard (Francois Retief) is ’n graad 10-leerling wat in die bos buite die dorp woon. Die verbeeldingryke stories wat hy skryf, blyk spore van die waarheid te dra.

Cassandra Smith (Simone Neethling) is die ster van Inge se matriekklas. Sy is hardwerkend, slim en ’n riem onder almal se harte. Haar plan is om medies te studeer.

Trish Kennedy (Jennifer Steyn) is op die oog af in beheer van ’n rehabilitasiesentrum in die bos, maar is sy alles wat sy voorgee om te wees?

Fransie Bester (Wilhelm van der Walt) is Inge se broer wat al jare vermis is. Hy was met dwelms deurmekaar, maar het ’n geniale slag met chemie.

Jason Gouws (Sean-Marco Vorster) is ook ’n onderwyser by die skool en Inge se geheime minnaar. Hy neem homself ’n tikkie meer ernstig op as die res van die personeel.

DIE MUSIEK

Die klankbaan is geskryf deur Pierre-Henri Wicomb, en die temalied “X” word uitgevoer deur Yoma, met lirieke deur Yoma en Tertius Kapp.

AGTER DIE SKERMS

Juffrou X is vervaardig deur Meerfout Films. Berdene Burger is die vervaardiger, en Janhendrik Burger is die kinematograaf. Die reeks is in George, Hoekwil en Touwsranten verfilm.

VRAE AAN DIE SKRYWER EN REGISSEUR, TERTIUS KAPP 

Waar het die idee vir Juffrou X vandaan gekom? 

Die oorspronklike vonk was my suster, ’n onderwyseres wat soos Juffrou X ongelooflik baie doen vir haar kinders – alles van beursaansoeke tot matriekafskeidrokke. Die storie is egter daarvandaan as fiksie ontwikkel.

Hoekom het julle besluit om in George te skiet? 

Verskeie redes, onder meer omdat ons stereotipes wat mens tipies in ’n stad soos Kaapstad kry, wou vermy, en ook omdat ons ’n nuwe omgewing wou uitbeeld. Dis natuurlik ook ’n pragtige landskap, en die tema van hout en die bos loop deur die storie. Verder kom die oorspronklike inspirasie nie so ver daarvandaan nie.

Hoe is daar op die spelers besluit? Het julle sekere akteurs in gedagte gehad? 

Ons het oudisies gehou. Ek het natuurlik sekere akteurs in gedagte gehad, maar ons het redelik wyd gekyk en ’n paar van die groot rolle het gegaan aan mense wie se werk ek nog nie voorheen geken het nie. Dit was ’n baie interessante legkaart om te bou en uiteindelik ’n ongelooflike rolverdeling. 

Verder het ons ook oudisies in George gehou, waar ons van die byspelers gevind het, sommige van hulle self nog op skool: akteurs soos Brutney Singrew, Xavier Veale, Dwayne Gelderbloem en dan ook die klasgroepe wat ons in die reeks sien.

Juffrou X begin op Dinsdagaand 30 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.