kyknet channel logo

Hoogtepunte in April op die kykNET-kanale

Nuus01 April 2026
Hier is wat in April voorlê op kykNET en kykNET&kie!
April HLs

DRAMA, REALITEIT EN KOMEDIE



Die oord

Vanaf Dinsdag 14 April op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.


’n Vakansiedorp aan die kus. Families wat al vir geslagte by dieselfde karavaanpark uitspan. Kinders wat op die strand speel. Braaivleis onder die bome. Alles is idillies – tot daar ’n lyk op die strand uitspoel.

Die oord, ’n splinternuwe dramareeks van tien episodes, begin 14 April op kykNET. Dit het ’n sterbelaaide rolverdeling wat groot name soos Jana Kruger, Erica Wessels, Melissa de Vries, Dawid Minnaar, Jacques Bessenger, Nicole Holm, Zane Meas, Antoinette Kellermann, Laudo Liebenberg, Liam Bosman, Clayton Evertson en Amalia Uys insluit.

In Die oord is Martie Pretorius (Jana Kruger) ’n kriminoloog wat vir die eerste keer in jare met vakansie gaan. Haar seun, Paul (Liam Bosman), is op universiteit, en hulle sien mekaar min. Martie is oortuig hierdie vakansie by die Seerust-kampterrein in die fiktiewe Kalfiebaai by haar suster, Elsabé (Erica Wessels), en haar gesin kan hulle net goed doen.

Die vakansie ontaard egter wanneer ’n tienerseun se liggaam op die strand gevind word. Skielik is almal ’n verdagte.

Brandi Jacobs (Melissa de Vries) van die plaaslike polisie dink dit is die bendes van die Kaap wat hulle kloue in die klein gemeenskap begin inslaan, maar Martie het ’n ander teorie. Die wonde. Die plastieksak. Die Bybelvers. Sy het dit al gesien. Vyftien jaar gelede. ’n Reeksmoordenaar wat Prediker heet.

Martie word teen haar sin in die ondersoek ingetrek terwyl sy probeer om ’n verpletterende geheim vir haar seun, Paul, weg te steek.

Die vervaardigers is Wolflight Films, onder leiding van Roelof Storm, wat ook vir die Safta-benoemde dramareeks Niggies verantwoordelik was.



Mevrou Fourie & Kie

Mevrou Fourie & Kie begin op Sondag 19 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Anita Fourie het genoeg gehad. Sy is in haar middeljare en vasgevang in ’n saai huwelik. Wanneer sy besluit om van haar man te skei, rafel alles uit – en nie net oor die egskeiding nie.

Mevrou Fourie & Kie is ’n splinternuwe komedie, wat op Sondag 19 April om 20:00 op kykNET begin.

Anita Fourie (Henriëtta Gryffenberg) besluit ná jare van roetine sy wil van haar man, die tandarts Barend (Deon Coetzee), skei. Haar tydsberekening is egter katastrofaal: Hulle dogter, Melissa (Luandri Reynders), los haar man, Quintin (Arno Greeff), nadat sy uitgevind het hy was ontrou. Op soek na stabiliteit trek sy terug huis toe – net toe Anita self probeer om haar lewe weer op koers te kry.

Dan daag Anita se ma, Tina (Elzabé Zietsman), ook onverwags op, want sy’s uit haar ouetehuis gesit. Skielik is daar drie sterk vroue, ’n bedorwe seun in sy laat twintigs, Barry (Luan Jacobs), en ’n oorblufte Barend onder een dak in Randburg. Dit gee chaos, botsings en skreeusnaakse oomblikke af, en ’n paar geheime kom aan die lig.

In die rolverdeling is ook Ilse van Niekerk as Phyllis Steyn, ’n sakevrou en Anita se vriendin, Neels Clasen as die nutsman Hardus de Ridder, en Liza du Plessis as Barry se meisie, Sherrie.

Henriëtta Gryffenberg keer terug na die kassie in die titelrol van die reeks. Sy is bekend vir Sonkring, Dominee Tienie, Swartwater en Binnelanders en is ook ’n bekroonde draaiboekskrywer met, onder meer, die TV-reeks Dinge van ’n kind en die speelfilm Die dekonstruksie van Retta Blom op haar kerfstok.

Mevrou Fourie & Kie is vervaardig deur Duan Wanty, Ingrid Engelbrecht en Philip Nolte van Show/Tell Pictures. Dié span het onlangs die reeks Op skou gemaak, wat op Showmax te sien is. Philip Nolte is die regisseur van Mevrou Fourie & Kie en het die draaiboek saam met Hélène Truter en Augusta Zietsman geskryf.

Die programkonsep is oorspronklik in 2023 by die heel eerste Silwermark tydens die Silwerskermfees voorgelê.



In die sop: Gastehuisrevolusie


In die sop: Gastehuisrevolusie begin Donderdag 23 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Verlede jaar het kykNET aangekondig dat die gewilde werklikheidsreeks In die sop ’n nuwe baadjie aantrek. Die fokus verskuif in die vierde seisoen van restaurante na gastehuise. In die sop: Gastehuisrevolusie, wat op 23 April begin, wys hoe 13 gastehuise gehelp word – van Bethulie tot Worcester, en verder noord, verder suid en sommer ook op allerhande lekker plekke tussenin.

Die aanbieder van die reeks is Janie du Plessis, wat in die 80’s behoorlik naam gemaak het. As aanbieder van gewilde joernaalprogramme vir jong mense, soos Teletien en Graffiti, was sy ’n baie gewilde voorbladgesig. Sy was destyds ook saam met Arnold Vosloo te sien in die trefferrolprente Boetie gaan border toe (1984) en Boetie op manoeuvres (1985).

Die gedugte taakspan bestaan uit ’n ou bekende lid van die In die sop-span, Misi Overturf, en twee ander binnenshuise ontwerpers, Griki Lubbe en Willus Bosch. Dié drie maak beurte om hulp aan die gastehuise te verleen, terwyl ander kenners deur die loop van die reeks sake- of bemarkingsadvies deel.

Hoe voel Janie uiteindelik oor die proses wat hulle aangepak het?

“Die verskil wat ons in mense se lewens gemaak het, het my diep getref. Dit was ’n besonderse ervaring, en ek voel baie bevoorreg om deel te kon wees van hierdie program.” 

LEEFSTYL



Lekker & goed


Lekker & goed word vanaf Donderdag 15 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Kykers was gaande oor die heerlike, eg Afrikaanse saamkook-en-geselsreeks wat Carmen Niehaus met die liplek-lekkerste kombinasies in die eerste seisoen van Lekker & goed op kykNET voorgesit het. Met haar jarelange ervaring as kosredakteur van Huisgenoot en meer as 25 kookboeke uit haar pen, was ’n tweede seisoen van Lekker & goed eenvoudig ’n moet.

Lekker & goed gaan oor lekker en goeie ervaringe. Die mooi van die Langebaanmeer skep net die regte atmosfeer vir aansit om ’n keurig gedekte tafel met goeie kos en wyn en saamkuier met lekker gaste. Daar word saam gekook in ’n pragtige kombuis gebaai in kleur en blomme met geselsies oor velerlei, maar veral oor gesonder (en lekker) eet terwyl die potte prut en daar geteug word aan Carmien Tea se geurige rooibostee en selfs ’n rooibosdrankie,” vertel Carmen.

Vir 13 weke gaan Carmen saam met bekendes – waaronder Mila Guy, Danie du Toit (van Spoegwolf), Ewan Strydom, Ricky Schroeder en Rolanda Marais – die een watertanddis ná die ander voorberei. ’n Paar bobaaskokke van Kokkedoor-faam gaan ook gesig aan die Weskus kom wys. Dis nou mense soos Yolani Abrahams en Mari-Louis Guy, asook Klein Roosboom-wynplaas se Lorianne Heyns en Johan de Villiers, wat vir hulself naam gemaak het in Kokkedoor: Vuur & vlam.

Die kersie op die koek vir hierdie kosreeks is dat daar ook ’n gedugte span agter die skerms woeker, met Kokkedoor-regisseur Sanet Olivier wat die leisels vashou en Herman Lensing wat die kosvervaardiger en produksie-ontwerper is.

“Ek hoop kykers sal besef dat om gesonder te kook nie saai, vervelig of geurloos hoef te wees nie, maar inderdaad baie lekker, pragmooi en prettig kan wees,” sê Carmen. “ ’n Mens kan die reëls na goeddunke breek, en ek gee raad en wenke oor hoe om ’n heerlike, geurige bord kos te skep wat die komplimente laat inrol.”



Laataand by Rian


Laataand by Rian begin 7 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.

Die vyfde seisoen van Laataand by Rian skop op Dinsdagaand 7 April om 21:00 af, en saam met Rian van Heerden gaan kykers weer die ander kant van ’n wye verskeidenheid bekendes leer ken.

“Ons gooi die net wyd hierdie seisoen,” sê Rian. “Almal van Rensche Bougas, Anthonie se ma, tot Rachel Kolisi, eksvrou van die Springbokkaptein Siya Kolisi. Dan is daar ons eie Michelin-bekroonde sjef Jan Hendrik van der Westhuizen, Ruben Lambrechts van Namibië en die politikus en digter Mathews Phosa.”

Wat maak van iemand die ideale gas?

“ ’n Goeie gas het al die verskillende seisoene van die lewe beleef,” sê Rian. “Hulle staan uit binne hulle spesifieke veld omdat hulle vir goeie, of slegte, redes die nuus gehaal het.”

Hy sê hy lok nie gaste uit om omstrede dinge kwyt te raak of ooremosioneel te word nie.

“ ’n Gas moet besluit waarheen hy of sy die gesprek wil neem. Die rol van die onderhoudvoerder is dan bloot om hulle met waardigheid na ander onderwerpe te bring waaroor hulle binne die beskikbare tyd gesels. Die doel van ons tweede gas is juis om die gesprek na ’n volgende vlak te neem, of ’n nuwe dinamiek daaraan te gee. Dit is natuurlik ook altyd ’n verrassing vir die hoofgas wie hierdie persoon gaan wees.”

As hy enige drie gaste op Laataand by Rian kon hê, wie sou dit wees?

“Dit is altyd ’n moeilike vraag, maar op die oomblik is dit oudpresident Jacob Zuma, Donald Trump en koning Charles.”



Bewonder & bewaar met Bonné de Bod


Bewonder & bewaar met Bonné de Bod begin op 19 April om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Catch Up en Stream beskikbaar wees. Die reeks het Engelse onderskrifte.

Bonné de Bod keer terug na kykNET vir die derde seisoen van Bewonder & bewaar met Bonné de Bod, wat op 19 April begin. Die nuwe seisoen neem kykers op ’n reis na van die mees afgeleë en skouspelagtige plekke op aarde – van Suid-Afrika se Krugerwildtuin en die Namib-woestyn tot sneeubedekte berge in Noord-Amerika en die kristalblou waters van die Karibiese See.

Saam met vooraanstaande navorsers, wetenskaplikes en veeartse onthul Bonné die geheime van wilde diere en ontmoet sy die mense wat hul roeping uitleef deur elke dag in die natuur te werk.

Gepantser met Bonné se opregte warmte en intieme vertelstyl, word kykers op ’n inspirerende en hoopvolle reis geneem wat nie net die diere en hul habitats wys nie, maar ook die menslike passie en toewyding agter elke bewaringspoging.

“Daar is soveel slegte nuus daar buite. Hierdie is goedvoel-TV wat inspireer en hoop gee in ’n tyd waar ons dit broodnodig het,” sê Bonné.

Bewonder & bewaar met Bonné de Bod word vervaardig deur Scott & de Bod Films, ook bekend vir dokumentêre soos STROOP, Kingdoms of Fire, Ice and Fairy Tales en reekse soos Africa’s Wild Wonders. Die tweede seisoen van Bewonder & bewaar is benoem vir ’n Safta in die kategorie vir die beste natuurgeskiedenis- en omgewingsprogram.



Koortjies met Elwira Standili


Koortjies met Elwira Standili word vanaf Sondagaand 5 April om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Jou gunsteling-TV-kerk gaan weer Sondagaande met lig en hoop vul. Onder die bekwame leiding van Elwira Standili gaan Koortjies oudergewoonte vir wonderlike saamkuier en -sing met vriende en familie sorg – in jou eie voorkamer.

Die nuwe derde seisoen van Koortjies kom met ekstra skop.

Eers is daar die spesiale Paasboodskap deur die profetes Gunaida Samuels en pastoor Monray Adams. Luister na Skemergrond se inspirerende Khadija Heeger, wat die rol van Jasmine Louw vertolk, en The Jesus Collective se stigter, Hilton Petersen. The Jesus Collective gaan ook sorg vir heerlike musiek.

Nog iets om na uit te sien is indiepte-gesprekke om die ronde tafel waar kenners saamgesels oor verskeie relevante onderwerpe. Daar gaan nie net gepraat word nie, maar ook na oplossings gesoek word.

Koortjies gaan in dié seisoen ook verskeie spesiale dae vier, waaronder Vadersdag, Moedersdag en Jeugdag.

Die lysie bekendes wat saam met Elwira gaan kuier, is ’n uiteenlopende groep van merkwaardige mense: Christo Davids, Robin Pieters, Jessica Daniels, wat by Netwerk24 se Smaakmaker-toekennings as Kuier-tydskrif se inspirasiemens van 2025 aangewys is, Schaney van Wyngaard (Huisgenoot se eerste TikTokker in 2024), die rymkletser Shaundeon en vioolspeler Matthew du Toit. 

“Hou aan kyk, en hou aan om ons te ondersteun, want daar sal nie ’n Koortjies wees sonder kykers nie,” sê Elwira. “Ons gaan aanhou om elke Sondagaand vir julle pragtige kykstof te bied. Laat die musiek aanhou kom, en laat weet vir ons wie en wat julle graag wil sien.”



Ideemakers

Begin Vrydag 3 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Die nuwe kykNET-reeks Ideemakers laat die kollig val op die vindingrykheid van jong tieners wat deur die Tritech-wetenskapkompetisie in Limpopo oplossings vir alledaagse kwessies soek. Oor agt episodes volg ons hierdie entoesiastiese deelnemers terwyl hulle praktiese vrae ondersoek, soos hoe om hitte-energie in elektrisiteit om te skakel of watter lekkers die beste vir jou tande is. Die reeks, vervaardig deur die Safta-bekroonde Storytown Productions, fokus daarop om wetenskap toeganklik en onderhoudend aan te bied deur primêr op die kinders se passie en toewyding te fokus.

Benewens die jong uitvinders se stories, betrek die reeks ook kenners van die Universiteit van die Vrystaat wat insig gee in die nuutste verwikkelinge binne verskeie velde van die natuurwetenskappe. Die seisoen bou op na ’n opwindende klimaks waar die deelnemers hul finale projekte aan beoordelaars voorlê en die wenners van die 2025-kompetisie gekroon word. Uiteindelik gaan hierdie projekte nie net oor ingewikkelde teorieë nie, maar oor hoe jongmense met deernis en kreatiwiteit ’n werklike verskil in hul onmiddellike omgewing kan maak.



Leef jou reis

Begin Saterdag 4 April om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Die nuwe seisoen neem die Leef jou reis-span op ’n merkwaardige verkenningstog vanaf Roemenië en Transsilvanië, waar die geheime van Boekarest se marmerpaleise en die legendes van Dracula ontrafel word, tot by die neonverligte strate van Japan. In die Ooste verken die span eeue oue Shinto-tempels, die kuns van sushi en die diep simboliek van Japannese tuine. Hulle ervaar ook die rustigheid van Kyoto se bamboeswoude en tradisionele teeseremonies, wat in fassinerende kontras staan tot die vinnige sneltreine en besige kosmarkte van Osaka.

Die avontuur gaan voort in Londen met besoeke aan geskiedkundige kroegies en koninklike kastele, gevolg deur ’n yskoue tog na die verre noorde van Noorweë om die noorderligte en die antieke kultuur van die Sami-mense te beleef. Terug op eie bodem kuier die span in die hartjie van die Karoo op die plaas Theefontein. Hier word die krag van veldkruie en die bewaring van die skaars oewerkonyn gevier, wat só die seisoen afsluit met ’n intieme kykie na die natuurskoon en deernisvolle stories van Suid-Afrika.



Fiësta

Begin Sondag 5 April om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Fiësta vang reeds meer as twee dekades al wat fees is vas, en dié program is terug op die lug om kykers weer weekliks na Suid-Afrika se uiteenlopende feeste weg te voer. Die nuwe seisoen skop op ’n hoë noot af met ’n besoek aan die Cape Town 10s-spansportkompetisie in Groenpunt, waar die aanbieder, Wicus Pretorius, self sy slag op die sportveld wys. Rumacques Gelderbloem verken die kulturele rykdom van die Ramadaanfees in Kaapstad, ’n inklusiewe geleentheid wat dien as voorbereiding op die heilige maand. En dis maar net die begin van ’n hele seisoen van feestelikhede waarna kykers kan uitsien.



Met ’n huppel in die stap

Begin Woensdag 8 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Die lewe ná 50 hoef glad nie vervelig te wees nie. Inteendeel, dit kan die opwindendste tyd van ’n mens se lewe wees. Met ’n huppel in die stap wys hoe seniors nuwe betekenis aan hul lewens kan gee deur verskeie moontlikhede en leefstyle te verken. Die span besoek, onder meer, verskillende gholflandgoedere om vas te stel watter aftree-opsies daar beskikbaar is. Daar word ook gekyk na onlangse musiekkompetisies vir seniors wat onder leiding van Cor Uys by ATKV-Buffelspoort aangebied is.

Die nuwe seisoen fokus ook op die praktiese aspekte van ouer word deur te gesels met verskaffers van hulpmiddels wat onafhanklikheid kan ondersteun. Daar word indringend ondersoek ingestel na die rol van nuwe tegnologie, en kundiges verduidelik presies wat kunsmatige intelligensie is en hoe dit ’n positiewe impak op die lewens van seniors kan hê. Dit is ’n omvattende kyk na maniere waarop moderne seniors uitdagings en geleenthede kan aanpak.



La’t Wiel

Begin Dinsdag 14 April 17:30

La’t Wiel is terug vir ’n nuwe seisoen te midde van ’n besige motorjaar gevul met opwindende bekendstellings. Die span bekyk die opgekikkerde Toyota GR Yaris om te sien of sy hoër prys die verbeterde verrigting regverdig, terwyl die voortgesette instroming van voertuie uit die Ooste ook verken word. Van nuwelinge soos die Omoda C7 tot die buitengewone Changan Deepal, die mark verskuif duidelik sy fokus na innoverende Chinese handelsmerke.

Hierdie seisoen takel die span ook die unieke Changan Hunter REEV, ’n elektriese bakkie wat ’n petrolenjin as kragopwekker gebruik, en vergelyk ou staatmakers soos die VW Golf 8.5 en Honda CR-V met moderne uitdaers. Elektriese luuksheid kry ook aandag met die Lexus RZ en die stylvolle Alfa Romeo Junior Veloce. Of dit nou gaan oor gevestigde erfenis of splinternuwe tegnologie, die span dek die hele spektrum van die huidige Suid-Afrikaanse motormark.



KoppieTeefontein

Begin Woensdag 15 April 21:00

Die gewilde kykNET-geselsprogram KoppieTeefontein is terug vir ’n splinternuwe seisoen, en soos altyd beloof aanbieder Jak de Priester om kykers diep in die harte van Suid-Afrika se mees geliefde persoonlikhede in te neem. Die nuwe reeks skop af op Woensdag 15 April om 20:00, waar die ritueel van tee drink weer die weg baan vir sielvolle, ongejaagde gesprekke. In ’n wêreld wat dikwels te vinnig beweeg, bied hierdie program ’n noodsaaklike oomblik van stilstaan, waarin Jak sy gaste met deernis en opregte nuuskierigheid pols oor hul lewenspad, suksesse en die stories wat hulle gevorm het.

Hierdie seisoen spog met ’n gastelys wat oor die spektrum van kuns, vermaak en media strek. Kykers kan uitsien na kuiers met die legendariese Nederlands-Afrikaanse sanger Stef Bos, die veelsydige vermaaklikheidster Pedro Kruger, en die baskitaarspeler Schalk Joubert. Die sprankelende radio- en TV-persoonlikheid Success Lekabe bring haar eiesoortige energie na die tafel, terwyl die mediabaas en veteraan-uitgewer Ton Vosloo seldsame insigte in sy merkwaardige loopbaan deel.

SEPIES EN TELENOVELAS



Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Tracy maak ’n moeilike bekentenis aan Tertius, en dan neem Tertius ’n groot besluit. Rudolf en LJ is terug in Pretoria, en Annetjie probeer ’n plan beraam om meer ondersteuning vir haar en Naomi by Binneland te kry. Bonnie word voor ’n moeilike keuse gestel, en Naomi vind uit waarmee Elise besig is.

Nicolette ervaar vreemde simptome en is bekommerd oor haar gesondheid, en Uys probeer alles in sy vermoë om uit te vind wat fout is met haar. Ella en Henry wil hê LJ moet werk soek, maar hy bevind homself op ’n donker plek. Thalia neem ’n besluit wat Tracy ontstel, en Nicolette kry slegte nuus.



Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


’n Dood na aan die gesin laat ’n massiewe leemte in Jacques se lewe. Dit laat hom in ’n hele nuwe magstryd met Gys gewikkel raak, maar hierdie keer gaan dit oor die Swarts-woning. Arno kry uiteindelik hulp by Helder Hoop en stel ’n nuwe assistent-bestuurder, Wian, aan. Maar Wian moet nog eers sy voete vind en sy plek by Helder Hoop verdien, en dít te midde van al die familie se interne storms wat woed.

Frans se wêreld stort in duie wanneer hy uitvind iemand naby aan hom het hom finansieel bedrieg. Zelda vind bewyse dat dit sy eie kinders, Nella en Abel, was, maar hulle beweer Zelda is die skuldige.

Die swemmers is omtrent in rep en roer oor die Glasgow-kompetisie, maar wie gaan uiteindelik gekies word om die klub oorsee te gaan verteenwoordig? Boonop is daar opnuut wrywing tussen Danie en Marco weens die liefdesdriehoek wat tussen hulle en die beeldskone Selena ontstaan het.



Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


April is geen grap in Ruiterbosch nie, want dit is ’n maand vol emosie, geheime en onverwagse wendings. Terwyl die inwoners saamkom vir spesiale oomblikke, soos Bella se doop en Paasfeesvieringe, begin nuwe verhoudings kop uitsteek en ander verkeer weer onder druk.

Riaan bevind hom in ’n ingewikkelde liefdesdriehoek, terwyl ou gevoelens kop uitsteek wanneer bekende gesigte weer hul opwagting maak. Intussen raak Gary en sy vriende betrokke by ’n riskante avontuur wat hulle morele kompas toets. Spanning bou op rondom ’n omstrede projek wat die hele gemeenskap verdeel.



Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Ice se terugkeer stuur skokgolwe deur die dorp. Met planne om permanent te bly en moontlik by die Louws aan te sluit, word verhoudings onder druk geplaas – veral wanneer hy probeer om Louis te betrek en ou wonde oopgekrap word. Ragel word onkant gevang deur ’n verrassende belydenis, terwyl Erica ’n nuwe ooreenkoms met Ice sluit.

Intussen raak Christine betrokke by ’n gevaarlike speletjie wanneer sy kontak maak met Fabian en op die spoor van ’n ontstellende video kom. Wat as ’n poging begin om beheer oor die situasie te herwin, verander vinnig in ’n riskante stryd om oorlewing. Saam met Fabian en Beeno word sy ingetrek in ’n web van manipulasie, dreigemente en afpersing wat haar dwing om roekelose planne te beraam – insluitend ’n onverskillige poging om ’n belangrike foon in die hande te kry.

Kirby se waaghalsige terugkeer na Gemoedsdrif laat nuwe vrae oor Tyler se geheimsinnige verdwyning ontstaan. ’n Verdagte lêer dryf haar om antwoorde te soek by mense wat dalk meer weet as wat hulle wil toegee. Terwyl sy probeer om Junior se vertroue te wen en stukkies van die waarheid by Patty en Ruan uit te pluis, word dit al hoe duideliker dat Tyler se storie nog lank nie verby is nie.



Dikker as water

Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Fatih daag by Kivilcim se huis op om die baba te sien en word weggejaag. Kivilcim gaan na Fatih se huis en konfronteer hom oor sy optrede. Doga gaan dokter toe met die baba vir die eerste roetinebesoek, en Fatih daag daar op. Omer kry baie slegte nuus van sy dokter, maar hy besluit om dit vir niemand te vertel nie.

Pembe konfronteer Alev en beledig haar so erg dat Alev besluit om dit nie daar te laat nie. Ertugrul versoek Nursema om ’n spesiale kunswerk vir sy dogter se verlowing te skep. Leman vra Metehan om by haar en Kayhan in te trek. Nilay ontvang ’n laatnagoproep van ’n familielid af.

Nilay en Mustafa kuier by Nursema en Umut. Nilay beskadig die badkamer, maar teen die tyd dat Umut en Nursema die skade ontdek, is sy lankal weg. Doha en Fatih is in die skeihof, maar omdat Fatih nie wil skei nie, word die saak uitgestel. Nursema laat Fatih toe om Cemre te besoek in Doha se afwesigheid, wat tot onmin lei.