web uni tv guide
web uni tv guide

Hannes Aan Huis

144LeefstylPG13 L

"Hannes aan huis" keer terug vir die 13de seisoen vol hart en onvergeetlike stories

Nuus05 Januarie 2026
Begin Dinsdag 6 Januarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Hannes aan huis S13 Article Image

Een van kykNET se mees geliefde leefstylprogramme, Hannes aan huis, skop 2026 af met ’n splinternuwe seisoen waarin Hannes van Wyk by ’n verskeindenheid van gaste kuier wat kykers se Dinsdagaande gaan ophelder.

Die seisoen skop af met Lize Beekman, wat soos altyd met haar sagte stem en roerende wysheid die hartsnare aanraak. Daarna volg ’n intense, eerlike en inspirerende gesprek met akteur David Reese, wat sy pad van herstel, sy uitdagings en die nuwe perspektief wat daaruit gegroei het, met Hannes deel.

Van daar af pak Hannes sy tasse en ry Bloemfontein toe vir ’n warm, laggevulde kuier by die geliefde kinderboek-fenomeen Jaco Jacobs, waar stories, kreatiwiteit en kinderlike verwondering volop vloei.

Daar is ook ’n verskeidenheid van kragtige figure uit die sport-, kultuur- en mediawêreld. Rugbylegende Kobus Wiese neem kykers agter die skerms van sy lewe op en van die veld, terwyl die ‘diva van die draadloos’, Martelize Brink, haar unieke loopbaan- en lewensreis deel soos net sy kan.

Hannes gesels ook met Prof Michael le Cordeur  oor die hart van onderwys, die bou van identiteit en die pad vorentoe vir Suid-Afrikaanse leerders — ’n gesprek vol wysheid, perspektief en inspirasie. Daarna skuif die gesprek na die kombuis, waar Hannes saam met ikoniese sjef Reuben Riffel die geur en siel van Suid-Afrikaanse kos vier.

Kultuurliefhebbers word bederf met besoeke aan drie groot name: die dinamiese uitvoerende hoof van Kunstekaap, Marlene le Roux; legendariese digter Antjie Krog; en die sprankelende opera-ster Zanne Stapelberg.

Hannes reis ook na Caledon om by Heindrich Wyngaard — nuushond, mediapersoonlikheid en voorsitter van die Kaapse Forum — te gaan kuier vir ’n gesprek oor gemeenskap, media en inspirasie.

En dan, vir die groot finale, word die rooi tapyt uitgerol vir die glansryke Anita Lloyd van Real Housewives van die Wynlande. Berei jou voor vir styl, stories en ’n huis wat jou asem gaan wegslaan.

Die 13de seisoen van Hannes aan huis is propvol hart, humor, refleksie, inspirasie en ongelooflike mensestories. Dit is die perfekte kuierplek vir almal wat hou van eerlike gesprekke, groot geeste en groot lewenslesse.

Hannes aan huis begin Dinsdag 6 Januarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.