Die debuut film van regisseurs Jason Jacobs en Devon Delmar, het sy wêreldpremière gehad by die Venesiese Filmfees in 2024 in die gesogte Orizzonti-afdeling. Daarna is dit vertoon by die Santa Barbara Internasionale Filmfees in Kalifornië, die BlackStar Filmfees in Philadelphia, en het ander internasionale vertonings gehad.
Carissa speel af in die majestueuse Cederberge en vertel die verhaal van ’n jong vrou wat saam met haar ouma in die afgeleë dorpie Wupperthal woon. Onder druk van haar familie én ’n korporatiewe ontwikkelingsprojek, vlug sy die berge in en begin weer verbind met haar wortels.
Die omgewing is sentraal tot die film. Wupperthal en die breër Cederberg dra ’n unieke kultuur, gevorm deur taal en tradisie. Die Afrikaans wat daar gepraat word, is ryk en is ‘n seldsame verskynsel op die silwerdoek. Rooibos – wat slegs in die Cederberg en dele van die Noord-Kaap groei – is ’n sleutelkomponent van die streek se identiteit en bestaansmiddele. In Carissa vorm dit deel van die verhaal oor grond en gemeenskappe onder druk.
Die landskap het ook ’n invloed op Suid-Afrikaanse letterkunde en kuns. Wupperthal huisves die oudste skoenfabriek en is trots op sy geskiedenis van skoene maak vir figure soos Nelson Mandela. Gemeenskapsleiers soos Barend Salomo en Edgar Valentyn is sleutelfigure in die rooibosbedryf wat wêreldwyd versprei. Die rotse en grotte dra die kuns van inheemse volke – antieke stemme wat deur Carissa se reis eggo.
Internasionale kritici het die film geloof vir sy emosionele diepte. Variety het dit beskryf as “tegelykertyd stil en vervoerend... ryk aan gevoel vir die eelte hande en harte van ’n dikwels oor die hoof gesiene, maar harde werkende plattelandse bevolking.”
Loud and Clear Reviews noem dit “visueel en tematies asemrowend, en eerlik in sy omhelsing van plek en mense.” Obviously Reviews beskryf dit as “’n visueel pragtige en emosioneel aangrypende film wat insig bied in die plattelandse Suid-Afrikaanse kultuur, inheemse gronde, en die bedreiging van kapitalistiese projekte.”
Carissa is in Wupperthal verfilm met ’n ensemble van professionele akteurs en plaaslike gemeenskapslede. Gretchen Ramsden (bekend vir Toorbos, Bergie en Skemergrond) betower in die titelrol, saam met Wilhelmiena Hesselman en Hendrik Kriel as haar grootouers. Elton Landrew vertolk haar pa, en Gladwin van Niekerk speel haar enigste vriend.
“Ons wou ’n storie vertel wat eg is aan die plek en mense waarmee ons gewerk het,” sê mede-regisseur Jason Jacobs. “Die maak van Carissa was ’n samewerking met die Wupperthal-gemeenskap wie se ervarings en perspektiewe sentraal is tot die narratief.”
“Die film ondersoek vrae oor identiteit, verbondenheid en doel,” voeg Delmar by. “Dis nie net plattelandse temas nie – dit spreek tot jong Suid-Afrikaners oral wat hul pad probeer vind.”
Die visuele styl van Carissa is wyd geloof, met Gray Kotzé se kinematografie wat beide die uitgestrekte landskappe en intieme dorpslewe vasvang. Die musiek, gekomponeer deur Frazer Barry, Mikhaila Alyssa Smith en Delmar, meng tradisionele invloede met kontemporêre klanke.
Die film is oor ses jaar ontwikkel, met ondersteuning van programme soos Durban FilmMart en die Oxbelly Screenwriters & Directors Lab in Griekeland. ’n Vroeë weergawe is by die Venesiese Filmfees se “Final Cut”-werkswinkel aangebied, waar dit verskeie toekennings gewen het, insluitend die Venice Biennale-prys vir na-produksie.
By die 2025 Silwerskerm-toekennings in Kaapstad het Carissa benoemings ontvang vir Beste Aktrise (Ramsden), Beste Ondersteunende Aktrise (Hesselman), Beste Ondersteunende Akteur (Landrew), Beste Kinematografie, Beste Redigering, en Beste Oorspronklike Musiek.
“Carissa bewys dat Suid-Afrikaanse rolprente internasionaal kan meeding,” sê vervaardiger Deidré Jantjies. Ons stories is net so kragtig en relevant soos enige ander – en wys terselfdertyd die rykdom van ons eie geskiedenis en kultuur.
Carissa is tans by die volgende rolprentteaters in Suid-Afrika te sien:
STER KINEKOR
Rosebank Nouveau
Brooklyn Mall Pretoria
Garden Route George
V&A Waterfront Cape Town
Somerset Mall Western Cape
Blue Route Tokai Cape Town
NUMETRO
Canal Walk, Cape Town
Boardwalk Casino Port Elizabeth
Woodlands Pretoria
Clearwater Mall Roodepoort
The Pavilion Durban
INDIE
The Bioscope Johannesburg
Epic North Ridge Bloemfontein
Alpha Cinemas Welkom
- Carissa word plaaslik versprei deur Indigenous Film Distribution and Development.