Een konsert in Pretoria en een in Kaapstad; beide voor reuse-uitverkoopte gehore. Met drie legendariese kunstenaars was Afrikaans in styl volgens almal wat dit bygewoon het ’n sonderlike gebeurtenis. Hoe dan nou ook anders as jy Nataniël, Karen Zoid en Stef Bos op een verhoog sit?
Elkeen van die drie het ’n skatkis van hulle eie materiaal gebring en is deur van die land se talentvolste musikante begelei. Die musikale leiding was deur die wêrelderkende Steinway-ambassadeur en pianis en jarelange Nataniël-medewerker Charl du Plessis. Juan Oosthuizen en Henry Steel (kitaar), Brendan Ross (klawer en stem), Werner Spies en Rixi Roman (kontrabas en baskitaar), Peter Auret en Marlon Green (tromme), ’n strykorkes en die sangers Nicolaas Swart en Dihan Slabbert het vir die begeleiding gesorg.
Die musiekwêrelde van Stef Bos, Karen Zoid en Nataniël het unieke vertonings tot volg gehad. Van die liedjies was bekend, ander eksperimenteel, maar alle pole is sonder twyfel verken. Met al hierdie kreatiewe elemente wat saamgesnoer is, was dit ’n glansviering van taal, musiek en ikone.
Stef Bos, wat in Nederland gebore is en lank reeds in Kaapstad woon, het in ’n onderhoud gesê hy het geweet hy, Nataniël en Karen sou die hele spektrum van erns, humor, liedjieskryf, rock en operas kon saamvoeg in een organiese geheel. Ná die konsert in Pretoria het hy gesê: “Dit was vir my bo verwagting wonderlik”.
Die opname is by die konsert in die Sun Arena in Pretoria gemaak. Die Akustika-koor onder leiding van Christo Burger het by dié konsert opgetree.
Afrikaans is elegant. Afrikaans is tydloos.
Afrikaans in styl word Saterdagaand, 18 Maart om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144 uitgesaai.
