Logo

Samoesas

20 porsies

Probeer dié samoesa-resep van Mymoena.
 

SAMOESAS
Bestanddele

Deeg

320 ml Koekmeel

3 ml Sout

15 ml Olie / Ghee

100 ml Warm water

Vulsel

20 ml Olie

2 Uie fyngekap & water uitgedruk

1 huisie Knoffel fyngekap

1 cm-stuk Vars gemmer fyngekap

10 ml Sterk kerrie

2,5 ml Borrie

3 ml Sout

15 ml Asyn

200 g Beesmaalvleis

100 ml Warm water

5 ml Garam masala

30 ml Koljander / mint-blare gekap

Olie vir diepbraai

Metode

Wenk 
Laat die deeg rus vir so 30–40 minute. Dan’t jy meer beheer by die uitrolslag. Ekself is ook myle beter na ’n bietjie rus!

Deeg
Sif die meel en sout saam en roer die olie en genoeg warm water bietjie-bietjie by om ’n hanteerbare deeg te vorm. Knie 10 minute lank tot die deeg glad en elasties is. Maak dig toe en laat die deeg 30–40 minute rus.

Vulsel
Verhit die olie in ’n diep pan en braai 1 van die uie saam met die knoff el en gemmer tot die ui sag is. Voeg die kerrie, borrie, sout en asyn by en roerbraai vir 1 minuut. Roer die maalvleis by en braai oor hoë hitte tot gaar. Stel die hitte laer. Voeg die water by, sit die deksel op en stowe tot die vleis sag en die vloeistof minder is. Roer af en toe. Voeg die garam masala en koljander by, haal van die hitte af en roer die res van die uie by.

Verdeel die deeg in 18–20 balletjies en rol elke balletjie met ’n rolstok tot ’n pieringgrootte sirkel uit. Sny elke sirkel middeldeur en skep 5 ml van die vulsel op die eenkant van die halfsirkel. Smeer ’n bietjie water op die rand en vou toe om ’n driehoek te vorm – die water werk soos gom. Druk stewig vas.

Verhit genoeg olie vir diepbraai en braai die samoesas tot goudbruin, en draai gereeld om. Skep uit met ’n gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier.

EPISODE 8 SAMPIOEN BURGERS
Poster 320x480
Sub Titel

Sampioen burgers

Gewildste Resepte