Logo

Kanya se onthulkoek

17 Junie

4 Porsies

Gebak

5

Kanya het dié heerlike onthulkoek tydens Koekedoor se groot oomblikke-episode voorberei.

Koekedoor_Kanya_Onthulkoek-1
Bestanddele

Koek-stokkielekkers:

210 g koekmeelblom

50 g kakaopoeier

15 ml bakpoeier

2,5 ml sout

5 groot eiers

1/2 ml kremetart

180 ml warm water

180 ml kookolie

5 ml vanielje-ekstrak

1 kg sjokolade

koekversiering

Tuille-beskuitjies

200 g botter

180 g versiersuiker

1 t vanielje-ekstrak

6 groot eierwitte

200 g koekmeelblom

3 t kakaopoeier

vonkelwyn-en-framboos-Switserse-botterroom:

500 g frambose

180 ml vonkelwyn

225 g eierwitte

1 ml kremetart

knippie sout

350 g strooisuiker

500 g botter

Witsjokolade-ganache:

200 g witsjokolade

200 ml room

Metode

Wenke:

  1. Tuille-beskuitjies: Begin met die beskuitjie-deeg want dit werk goed as dit eers gestaan het vir 30 minute sodat die stysel kan uitswel.
  2. Switserse botterroom-versiersel: Die frambose word eers saam met die vonkelwyn gekonsentreer en moet afkoel voordat dit by die versiersel geklop word. Verkoel wat oorbly en gebruik as vulsel vir tuisgemaakte sjokolade.

 

Vir die tuille-beskuitjies:

  1. Gebruik 'n elektriese menger en room die botter. Room die versiersuiker by tot 'n pasta. Klits die vanielje by.
  2. Meng die eierwitte bietjie vir bietjie by die bottermengsel. Maak seker alles is goed gemeng voor die volgende bietjie bygevoeg word.
  3. Doen dieselfde met die meel.
  4. Skep 'n sesde van die deeg uit en roer die kakaopoeier daarby in. Maak albei mooi toe met kleefplastiek en laat rus eenkant vir sowat 30 minute.
  5. Voorverhit die oond teen 180 °C. Voer bakplate uit met goeie bakpapier.
  6. Sny die vorms van die beskuitjies uit 'n harde assetaat of karton. Rangskik die vorms plat op die bakplaat. Smeer die mengsel in 'n dun, egalige lagie daaroor en trek die vorm netjies af. Maak elke vorm eers skoon met 'n skraapmes of lem voordat jy herhaal.
  7. As jy wil, gebruik nou die sjokolade-tuille-beslag in n spuitsak met 'n nommer-2 ronde skryfbuisie – of net oopgeknip so groot as wat jy wil om te kan skryf.
  8. Die beskuitjies bak gou en jy moet hulle goed dophou. Vyf tot ses minute is gewoonlik al wat nodig is. Wanneer die randjies verbruin, is die beskuitjies gereed.
  9. Sodra die beskuitjies uit die oond kom, werk vinnig om te vorm terwyl hulle nog baie warm is. As jy wil, gebruik kombuispapier as jy moet om 'n strik te vorm. Jy kan ook linte maak met boodskappies en leidrade daarop.

 

Vir die koek-stokkielekkers:

  1. Voorverhit die oond teen 180 °C.
  2. Berei spesiale koekballetjie-panne voor volgens die gebruikersgids. Kanya het drie panne gebruik wat elk 20 bolletjies kon maak.
  3. Sif die meel, kakaopoeier, bakpoeier en sout saam in a aparte mengbak. Herhaal drie keer as jy kan.
  4. Roer die helfte van die strooisuiker daarby in.
  5. Klits die eierwitte en kremetart tot sagte punte vorm. Klits die suiker bietjies, bietjies by.
  6. Klop die eiergele, kookolie, water en vanielje-ekstrak liggies met n vurk. Voeg by die droë bestanddele en meng deur met die hand.
  7. Giet die meelmengsel oor die eierwitte en vou liggies in met 'n metaallepel.
  8. Gebruik 'n spuitsak om mengsel in spesiale pannetjies te spuit – vul die holtes want jy wil mooi ronde balletjies hê.
  9. Bak vir 20 minute tot gaar. Koel eers goed af voor jy die pannetjies se bokante afhaal.
  10. Smelt die sjokolade oor matige hitte. Indien couverture gebruik word, maak seker die sjokolade is temper.
  11. Doop eers die stokkies in die sjokolade voordat jy dit in die koekballetjie indruk. Laat dit staan op polistireen-blokke.
  12. Wanneer die bolletjies stewig is, doop elk in die sjokolade. Skud oortollige sjokolade af, versier en laat staan of laat staan en versier – hier volg elk sy eie proses.

 

Vir die vonkelwyn-en-framboos-switserse-botterroom:

  1. Gebruik 'n elektriese handklitser om die frambose en vonkelwyn te verpulp en kook vloeistof af om te konsentreer. Jy wil 'n dikkerige puree hê. Druk deur 'n sif en verkoel.
  2. Maak seker jou metaalmengbak en klitshegstuk is silwerskoon. Weeg sommer die eierwitte direk daarin af. Kalmeer die witte met die kremetart en sout.
  3. Gebruik die spaanhegstuk om die suiker oor 'n pot met kokende water te roer. Roer voortdurend om die suiker op te los. Roer totdat die mengsel so warm raak dat dit jou vinger brand wanneer jy dit toets.
  4. Verwyder van die hitte en klits die meringue tot styf en afgekoel – bietjie warmer as kamertemperatuur.
  5. Room die botter met die hand tot sag en smeerbaar – amper dieselfde tekstuur as die meringue. Klits gehoopte eetlepels botter op 'n slag baie goed by meringue. Vir eers sal dit lyk asof die meringue asem uitblaas. Hou moed – als sal regkom soos wat jy meer botter inwerk. Nadat 400 g botter bygevoeg is, begin proe. Voeg net genoeg botter by soos wat jou tong jou lei.
  6. Geur verder met die vonkelwyn en framboos puree.

 

Vir die witsjokolade-ganache

  1. Roer sjokolade en room goed saam. Laat staan vir 'n rukkie tot half geset en klits dan verder met 'n elektriese menger tot donslig.

 

Die bou van die vonkelwynkoek:

  1. Begin met die 15 cm koeklae. Sny die koeke eweredig deur. Gebruik vier lagies koek van 15 cm net so. Stop na die eerste twee lae. Gebruik 'n ronde koekiedrukker om 'n gaatjie, groot genoeg vir die laaste raaiselballetjie, te maak. Steek die balletjie met die hartjie daarin weg.
  2. Gebruik nou kleiner ronde vorms en koekiedrukkers om al hoe kleiner lagies koek te sny uit die oorblywende 15 cm koek en plaatkoek. Onthou, jy bou nou 'n toring.
  3. 'n Spuitsak werk goed om lagies botterroom op elke koek laag te spuit eerder as om te smeer.
  4. Jy hoef nie die koek buiteom te versier nie – indien jy wil, bedek met oorblywende botterroom en verder ook met witsjokolade-ganache.

 

Ander versiering en raaisel-elemente:

  1. Gebruik dieselfde bolletjiepan vir die witsjokolade-balle. Giet witsjokolade in holtes en laat staan vir 'n kort rukkie sodat die sjokolade aan buiterande kan set. Giet uit en verkoel. Maak halwe sirkels sjokolade versigtig los. Gebruik 'n warm bord of bakpannetjie en smelt middel rande effens. Steek geheim of raaisel daarin weg en druk vas aanmekaar.
  2. Gebruik witsjokolade-balle as middelpunt van blomme wat met blompasta gemaak word.•
  3. Jy kan ook tuille-pakkies maak om raaisels in weg te steek.
  4. Maak eenvoudige voëltjies ook uit blompasta.
  5. As stylering nie jou sterk punt is nie, gaan kyk gerus wat is te kry by bakwinkels wat daarin spesialiseer.

 

Verskeidenheid vir die sjampanje-koek:

  1. (Die volgende instruksies sluit aan by die standaardresep wat Kanya gebruik – as jy dus dieselfde koek wil bak maar wil afwissel, volg die voorstelle.)
  2. Gebruik 180 ml sjampanje eerder as water.
  3. Geur net met vanielje-ekstrak.
  4. Laat die kakaopoeier weg en gebruik 250g koekmeelblom in totaal.Bak in 3 x 15cm voorbereide pannetjies en een kleinerige bakplaat met n silikoonblad uitgevoer.
  5. Baktyd is sowat 20 tot 25 minute teen 180 °C.

 


Hierdie resep is eksklusief tot kykNET en die bakboek Koekedoor 2. Dit mag slegs met die toestemming van kykNET en Human & Rousseau gepubliseer word, hetsy elektronies of in druk.

 

Gewildste Resepte