Logo

Kanya se baklava

10 Junie

36 Baklava-wurms

Gebak

3

Koekedoor se Kanya het by die Turke en Grieke gaan kyk wat hulle met hierdie wonderfyne delikate degie maak. Kry die resep vir haar baklava hier.

Koekedoor_Kanya_filo-1
Bestanddele

Neutmengsel:

200 g amandels

200 g okkerneute

200 g pistasieneute

strooisuiker

kardamom

filodeeg

Stroop:

1 kg suiker

1 l water

1 suurlemoenskil

1 suurlemoensap

5 kardamonpeule

1 stokkie kaneel

knippie sout

10 ml rooswater

Verhelderde botter:

1 kg botter

Metode

Vir die verhelderde botter:

  1. Smelt die botter op die stoof. Verwyder van die stoof en skep die skuim af. Laat staan vir 'n rukkie.
  2. Gooi oor in 'n skoon potjie – daar sal waarskynlik 'n bietjie oorbly, maar dit is die moeite werd om 'n groter hoeveelhied te suiwer en die res te bere. (Die gesuiwerde botter hou langer in die yskas.)

 

Vir die stroop:

  1. Plaas al die bestanddele, behalwe die rooswater, in 'n pot. Bring stadig tot kookpunt. Roer gereeld en maak seker al die suikerkristalle is opgelos voordat die stroop begin kook. Kook vir 12 minute.
  2. Geur met rooswater na smaak en verkoel.

 

Vir die neutmengsel:

  1. Meng neute, speserye en een eetlepel strooisuiker na smaak. Wees versigtig om dit nie te soet te maak nie want die stroop kom ook nog by.

 

Vir die filo:

  1. Jy kan tot ses rolle filo gebruik vir sowat 36 wurms. Sowat ses tot agt velle is nodig vir een pannetjie.
  2. Voorverhit oond teen 180 ˚C.
  3. meer die oppervlakte van een vel met botter en sprinkel neute oor. Vou in die lengte (sowat 20 cm). Gebruik nou 'n rolstok om op te rol en frommel die wurm na die middel toe deur links en regs na die middel te druk – amper soos wanneer jy met 'n strooitjiepapier-wurms maak terwyl jy in die Spur wag vir jou halfprys-burger op 'n Maandagaand.
  4. Stoot die wurm af van die rolstok af en plaas stewig in 'n diep oondpan van omtrent 26 cm x 38 cm. Rek uit om mooi in te pas. Jy kan soveel maak as wat jy wil – Kanya gebruik drie panne.
  5. Bak tot bros en bruin – sowat 30 minute behoort genoeg te wees.
  6. Verwyder vanuit die oond en laat afkoel vir sowat vyf minute. Giet genoeg stroop oor sodat die wurms heeltemal geweek is. Plaas eenkant om af te koel.
  7. Vir die filoversiering, rol een pak filo styf op en sny in repe van sowat 1 cm dik. Besprinkel met botter en voel los. Gebruik 'n vurk om op te rol soos wat jy sou as jy spaghetti sou eet. Maak die los blomme so groot as wat jy wil en bak vir agt minute teen 180 ˚C.

 

Bou jou baklava:

  1. Maak 'n filoband met kakao-botter (60 g verhelderde botter gemeng met 30 ml kakaopoeier).
  2. Smeer botter oor filo en sprinkel met suiker. Vorm rondom 'n koekpan van jou keuse. Verstewig met kombuistou en bak vir sowat ses minute.
  3. Pak die baklawa-wurms binne in die filoband.
  4. Versier verder met filo-versiering.

 


Hierdie resep is eksklusief tot kykNET en die bakboek Koekedoor 2. Dit mag slegs met die toestemming van kykNET en Human & Rousseau gepubliseer word, hetsy elektronies of in druk.

 

Gewildste Resepte