Logo
Wie Word 'n Miljoenêr S2
web uni tv guide

Wie Word 'n Miljoenêr?

144Spelprogram13

Hier’s Wie word ’n miljoenêr se aanbieder!

Nuus
15 September 2021
Die miljoenrandvraag oor wie die aanbieder van die Afrikaanse weergawe van die gewilde Britse vasvraprogram, Who wants to be a Millionaire, gaan wees, kan nou beantwoord word.
Showpage Billboard 1600x800

Wie word ’n miljoenêr word van 27 Oktober op kykNET uitgesaai en  Rian van Heerden gaan hom nou in die geselskap bevind van Chris Tarrant en Jeremy Clarkson (aanbieders van die die Britse weergawes), en Jeremy Maggs wat in die aanbiederstoel van die destydse Suid-Afrikaanse weergawe was.

Dié gewilde radio- en televisiepersoonlikheid sê dat die spanning wat deurgaans in episodes aangebied word, deel van die program se wenresep is.

“Kykers sit vasgenael voor die TV om saam te speel, om sodoende te probeer bewys dat hy of sy daai miljoen rand kan wen!”

Volgens Rian, wat al voorheen Op die Spel op kykNET aangebied het (waar deelnemers se spel- en taalvaardighede getoets is), bied Wie word ’n miljoenêr unieke uitdagings aan die aanbieder.

“In Wie word ’n miljoenêr, is dit net jy en een deelnemer vir ’n groot gedeelte van die episode, en terselfdertyd moet jy ’n vriend én vraesteller wees.”

Die eerste 13-episode-seisoen skop af op Woensdag 27 Oktober met die opvolgseisoen wat direk daarna begin, wat beteken Wie word ’n miljoenêr gaan vir ses maande naelbyt-oomblikke verskaf.

Soos die oorspronklike Who wants to be a millionaire-formaat gaan deelnemers 15 meervoudigekeusevrae beantwoord om deur te dring na die finale ronde, waar ’n miljoen rand gewen kan word. Langs die pad is daar hulplyne – oor na die gehoor, bel ’n pel en 50/50.

Volgens Cecil Barry, uivoerende vervaardiger van die reeks, sal Wie word ’n miljoenêr getrou aan die Britse weergawe bly, maar die trivia-vrae sal die program se Suid-Afrikaanse identiteit reflekteer. 

156 kandidate is gekies wat vir 26 weke sal meeding en ’n groep van ses sal in elke episode deelneem.

“Ons het duisende inskrywings binne twee weke gekry,” sê Cecil.

“Die inskrywings wat deurgedring het tot die volgende rondte moes ’n individuele onderhoud en ’n tweede algemene kennis toets aflê met ’n lid van ons inhoudspan.”

Cecil sê ook dat daar streng sekuriteitsmaatreëls van toepassing is om die integriteit van die reeks te beskerm.

“Niemand mag weet wie die vraagopstellers is nie en die ‘spel-en-vrae’-rekenaar word in 'n hoë-sekuriteitsvertrek, waartoe slegs die operateur, ouditeur en vervaardiger toegang het.”

Wie word ’n miljoenêr gaan ’n kleiner gehoor van 40 mense hê, wat aan streng Covid-19-protokols en -regulasies moet voldoen. Dit word opgeneem by Atlantic Studios in Kaapstad, wat ook onder meer die tuiste van ander kykNET-reekse soos Suidooster, Arendsvlei en Tussen Ons is.