Logo
HP Toks
web uni tv guide

Toks & Tjops

144GeselsprogramPG

Die Toks en Tjops-span trap hard fiets vir liefdadigheid

Nuus
02 Desember 2016
Op 12 Maart 2017 gaan ’n groep kykNET-persoonlikhede en gesoute atlete as deel van die Toks en Tjops-span deelneem aan die Cape Town Cycle Tour.
Toks Buks en Carolien

Victor Matfield is deel van die Toks en Tjops-span wat aan die Cape Town Cycle Tour gaan deelneem.


Op 12 Maart 2017 gaan ’n groep kykNET-persoonlikhede en gesoute atlete as deel van die Toks en Tjops-span deelneem aan die Cape Town Cycle Tour. Daar is selfs ’n paar wat die resies op tandemfietse gaan aandurf!

Die Cape Town Cycle Tour is die grootste fietsresies in die wêreld, met die 40ste bestaansjaar wat in 2017 gevier word. Ongeveer 35 000 fietsryers gaan in 2017 die 109 km-roete aandurf.

Die Toks en Tjops-span beoog om met hul deelname geld in te samel vir verskeie organisasies.

Ons het met die lede van die span gesels om uit te vind hoe hulle voel oor hierdie groot uitdaging:

Buks van Heerden en Carolien van der Sandt


34 toks buks en carolien


Buks en Carolien is verloof en trou op 1 Januarie 2017, so hulle sal die Cape Town Cycle Tour as ’n getroude paartjie aandurf. “Ons is ultra-atlete wat bekend is daarvoor dat ons die pas aangee vir atlete wat wedlope net-net klaar maak en die massas inbring op al die bekende wedlope.”

Watter ervaring het jy op ’n fiets?

Bykans niks nie! Ons albei het amper tien jaar gelede laas fiets gery – ons is nie regtig fietsryers nie. Ons het wel onlangs die 94.7 Cycle Tour vir die eerste keer gery.

Hoekom het jy besluit om deel te neem?

Ons is ambassadeurs vir die liefdadigheidsorganisasie, Pink Drive, en beoog om met die fietsresies geld in te samel vir dié organisasie. Ons wil mense ook meer bewus maak van Pink Drive.

Waarna sien jy die meeste uit?

Ons sien die meeste uit na die feit dat dit ‘n ongelooflike ervaring gaan wees!

Is daar iets oor die ervaring wat jou bang of senuweeagtig maak?

Die Kaapse storms en die feit dat dit moontlik kan reën. Ek en Carolien ry tandemfiets, so ons sal moet leer om goed saam te werk, veral met die styl afdraendes!

Hoe gaan jy jouself voorberei vir die Cape Town Cycle Tour, behalwe om te oefen?

Die feit dat ons baie hardloop, gaan vir ons baie goeie voorbereiding wees. Ons het die afgelope 12 maande al ongeveer 78 padwedlope gehardloop. Daar is nie juis tyd vir fietsry nie, so ons gaan aanhou met ons hardloopprogram. Ons sal wel probeer om so een of twee keer ’n week op ’n fiets te klim en natuurlik wil ons ook nog ‘’ paar fietsrenne doen ter voorbereiding en om net gewoond te raak aan die tandemfiets.

Hoe gaan jy jouself motiveer die tye wat jy nie lus het om te oefen nie, veral oor die feestyd?

As ons kyk hoeveel mense ly aan kanker en wat nie geld het om vir behandeling te betaal nie, is dit genoeg motivering vir ons om aan te hou oefen. Dit sal ook ons dryfveer wees om ’n sukses hiervan te maak. Ons sien baie uit na die fietsresies en om deel te wees van die Pink Drive!

Johnny Davids


34 toks johnny davids


Aanbieder van die krieketgeselsprogram BVP op kykNET&Kie, ’n veld-aanbieder op Kwêla en ’n krieket- en rugbykommentator op SuperSport.

Watter ervaring het jy op ’n fiets?

Ek het nie juis baie ervaring op ’n fiets nie. Ek het wel in my jonger dae elke oggend met ’n fiets werk toe gery toe ek nog in Namibië gewoon het. Dis nou so 15 jaar gelede, maar soos hulle sê, as jy eers eenkeer ’n fiets geleer ry het, kan jy dit vir altyd doen.

Hoekom het jy besluit om deel te neem?

Die liefdadigheidsaspek van die hele idee. Ook om saam met ander bekendes in die bedryf iets fun te doen. ’n Mens kry min geleenthede om dit te doen, want elkeen is so besig met hul loopbane.

Waarna sien jy die meeste uit?

Ek sien uit om oor die eindstreep te ry! Die belangrikste is om dit te geniet, en te weet jy doen dit nie vir jouself nie.

Is daar iets oor die ervaring wat jou bang of senuweeagtig maak?

Kyk, om eerlik te wees, ek weet glad nie wat om te verwag nie. Die unknown, soos hulle sê, maak my ’n bietjie senuweeagtig. Mens sien altyd net op TV hoe daar fiets gery word, dan sê jy vir jouself dit lyk maklik, maar dis allermins die geval!

Hoe gaan jy jouself voorberei vir die Cape Town Cycle Tour, behalwe om te oefen?

Eerstens gaan ek baie YouTube video’s kyk oor hoe om voor te berei. Dan gaan ek so veel as moontlik, eintlik elke dag, ’n paar kilometer te ry. Ek gaan soggens draf, gim toe gaan vir kardio, en laatmiddag fietsry. Nee kyk, ek gaan hom vasvat, pappie...

Hoe gaan jy jouself motiveer die tye wat jy nie lus het om te oefen nie, veral oor die feestyd?

Ek gaan gelukkig nie vanjaar met vakansie nie, so daar gaan baie tyd wees om myself voor te berei. Alles wat ’n mens vir die eerste keer aanpak is mos altyd exciting. So dit gaan maar basies my motivering wees, en dan natuurlik dat dit alles vir ’n goeie doel is.

Waldimar Pelser




Aanbieder van kykNET Verslag In Gesprek op kykNET en redakteur van die Sondagkoerant Rapport.

Watter ervaring het jy op ’n fiets?

Ek was 12 jaar gelede op ’n fiets om melk by die winkel te gaan koop.

Hoekom het jy besluit om deel te neem?

Want ek het nie presies geweet hoe ver ek gaan moet ry nie! Iemand sê nou die dag dis meer as 100 km. Dit klink uiters onwaarskynlik...

Waarna sien jy die meeste uit?

Om triomfantelik en steeds vol energie oor die eindstreep te jaag.

Is daar iets oor die ervaring wat jou bang of senuweeagtig maak?

Ek vrees dat my bene gaan weier, vroeg al, maar ek gaan geweldig hard oefen sodat dit nie gebeur nie.

Hoe gaan jy jouself voorberei vir die Cape Town Cycle Tour, behalwe om te oefen?

Ek is draf-fiks, en het in Oktober my eerste halfmarathon in onder 2 uur voltooi. Nou lê spinning-klasse oggend, middag en aand voor. Ek vermoed ek sal dit sewe dae ’n week moet doen. En dalk minder brood eet...

Hoe gaan jy jouself motiveer die tye wat jy nie lus het om te oefen nie, veral oor die feestyd?

Ek gaan terugdink aan ’n landloopbyeenkoms op hoërskool waarin ek heel laaste geëindig het omdat ek nie geoefen het nie. Ek het geen begeerte om die ervaring te herhaal nie.

Victor Matfield


34 toks victor matfield


Voormalige Springbok-rugbyspeler en -kaptein.

Watter ervaring het jy op ’n fiets?

Ek ry gereeld bergfiets en het darem al ’n paar keer aan bergfietsresies deelgeneem.

Hoekom het jy besluit om deel te neem?

Ek dink dit gaan ongelooflike pret wees.

Waarna sien jy die meeste uit?

Die koue bier na die resies.

Is daar iets oor die ervaring wat jou bang of senuweeagtig maak?

Ek onthou Chapmans Peak was baie taai met my eerste Argus – ek hoop die wind waai nie te erg nie.

Hoe gaan jy jouself voorberei vir die Cape Town Cycle Tour, behalwe om te oefen?

Ek sal seker ’n paar bergfietswedrenne doen voor die Cape Town Cycle Tour.

Hoe gaan jy jouself motiveer die tye wat jy nie lus het om te oefen nie, veral oor die feestyd?

Gelukkig is my vrou ’n gemotiveerde fietsryer, so sy sal my seker uit die bed kry om te oefen! Ons gaan ook ná Kersfees na ’n vriend se plaas toe waar die Rooiberg-bergfietsresies aangebied word, so dit sal my kans gee om te kan voorberei.


Je-ani Swiegelaar


34 toks jeani cindy


Bekend vir haar rol as Naomi Ferreira in die sepie Binnelanders. Sy en Cindy Swanepoel ry saam tademfiets.

Watter ervaring het jy op ’n fiets?

Ek het al ’n paar Argus en 94.7 fietswedrenne agter die rug.

Hoekom het jy besluit om deel te neem?

Behalwe dat ek graag vir Cindy op ’n fiets wil sien, is dit ook iets waarvoor ek baie lief is. Ons doen dit natuurlik ook vir ’n baie goeie doel (hulle ry vir die Pikanini Dagsorgsentrum. En ’n naweek in die Kaap is nooit te versmaai nie...

Waarna sien jy die meeste uit?

Weereens, om Cindy op ’n fiets te sien. Ons is ’n baie lekker span. Ek sien ook uit daarna om sosiaal met almal te verkeer.

Is daar iets oor die ervaring wat jou bang of senuweeagtig maak?

Die tandemfiets – dis die eerste keer wat ek so iets aandurf, maar ek het volle vertroue in my eerste-keer-fietswedren-deelnemer, Cindy Swanepoel.

Hoe gaan jy jouself voorberei vir die Cape Town Cycle Tour, behalwe om te oefen?

Ek en Cindy gaan elke Vrydagaand ’n glas wyn drink, terwyl ons Toks en Tjops kyk en natuurlik strategie praat.

Hoe gaan jy jouself motiveer die tye wat jy nie lus het om te oefen nie, veral oor die feestyd?

Ek gaan elke dag op ’n slag vat. Ek gaan verskillende metodes móét gaan navors, want soms raak só ’n oefenstorie maar moeilik. Natuurlik weet ek dat ons ’n ongelooflike span agter ons het.


Sean van Noordwyk


34 gmr sepie reitz


Hy vertolk die rol van Sean van Noordwyk in die kykNET-sepie Getroud met Rugby.

Watter ervaring het jy op ’n fiets?

Geen ervaring nie – ek het as kind laas in die strate rondgery.

Hoekom het jy besluit om deel te neem?

Ek hou daarvan om myself uit te daag en nuwe dinge te probeer wat ek nog nooit voorheen gedoen het nie. ’n Mens leef net een keer en moet sulke geleenthede aangryp.

Waarna sien jy die meeste uit?

Ek sien die meeste uit na die proses wat gaan plaasvind tot en met die dag wat die Cape Cycle Tour gaan aanbreek, en sien ook uit om deel van so ’n ongelooflike span te kan wees.

Is daar iets oor die ervaring wat jou bang of senuweeagtig maak?

Die 109-getal staan soos groot uitroeptekens voor my, maar ’n mens moet maar net dit vir jouself opbreek en nie dink aan die afstand nie en net in die oomblik wees.

Hoe gaan jy jouself voorberei vir die Cape Town Cycle Tour, behalwe om te oefen?

My ma het al voorheen die Argus ’n paar keer gery, en sy gaan in ’n mate vir my in die proses ’n mentor wees, want sy weet baie meer van fietsry as ek. Ek oefen eintlik meer spiergroepe as wat ek kardio oefen, maar het die afgelope tyd spinning-klasse begin doen.

Hoe gaan jy jouself motiveer die tye wat jy nie lus het om te oefen nie, veral oor die feestyd?

Ek dink die ondersteuning van ander mense gaan my baie help. Ek dink nie ek sal dit sonder wyse woorde en raad van my familie, vriende en kollegas kan doen nie.

Marco Spaumer


34 suidooster 2016 bemarking1


Hy vertolk die rol van Tim du Plooy in die sepie Suidooster.

Watter ervaring het jy op ’n fiets?

Ek het vir baie lank spinning gedoen, as deel van my oefenprogram, maar vandat ek in die Kaap woon ry ek al hoe meer op die promenade en langs die strand vir die lekker en mooi daarvan!

Hoekom het jy besluit om deel te neem?

My oupa het die Argus al ’n hele klompie kere aangedurf – so miskien is hierdie my manier om sy legacy voort te leef!

Waarna sien jy die meeste uit?

Ek sien die meeste uit na die voorbereiding. Ek woon in die mooiste stad in ons land, so om te oefen mag dalk net ’n bederf (meer as ’n straf) wees!

Is daar iets oor die ervaring wat jou bang of senuweeagtig maak? Indien wel, wat en toekom?

Ek is bang vir krampe! Daar’s niks so seer soos ’n hamstring wat kramp nie!

Hoe gaan jy jouself voorberei vir die Cape Town Cycle Tour, behalwe om te oefen?

Baie lees (ek het reeds my eerste fietstydskrif aangeskaf) en ook baie met my oupa gesels en raad vra.

Hoe gaan jy jouself motiveer die tye wat jy nie lus het om te oefen nie, veral oor die feestyd?

Dit gaan gesonde kompetisie wees – ek wil vir Je-ani en Cindy ’n lekker go kan gee. Daardie girls is yster!

Cindy Swanepoel


Cindy is bekend as dr. Annelize Roux in Binnelanders en het al rolle vertolk in Proesstraat, die fliek, Ballade vir ’n Enkeling en Getroud met Rugby (die reeks).

Watter ervaring het jy op ’n fiets?

Ek het nog nooit ’n fietsresies aangepak nie, ek kan nie eintlik onthou wanneer laas ek fiets gery het nie... maar ek kan darem fietsry!

Hoekom het jy besluit om deel te neem?

Ek neem deel, want dit is iets wat ek op my bucket list kan af tick. Ek hou daarvan om avontuurlustig te wees en as so ’n geleentheid my kant toe kom, moet ek dit net doen!

Waarna sien jy die meeste uit?

Ek sien uit daarna om saam met Je-ani te oefen, aangesien ons tandem ry. Ons is ’n goeie span en ek dink ons sal mekaar mooi kan ondersteun. Ek sien ook uit daarna om deel te kan wees van so ’n bekende geleentheid en die mooie pad wat ons gaan ry!

Is daar iets oor die ervaring wat jou bang of senuweeagtig maak?

Ek is bietjie op my senuwees dat ek nie fietsfiks is nie en dat ek dalk vir Je-ani in die steek gaan laat...

Hoe gaan jy jouself voorberei vir die Cape Town Cycle Tour, behalwe om te oefen?

Ek gaan spinning-klasse doen en ek en Je-ani gaan minstens een keer per week saamry, sodat ons ’n gevoel saam op die fiets kan ontwikkel.

Hoe gaan jy jouself motiveer die tye wat jy nie lus het om te oefen nie, veral oor die feestyd?

Ek was nog altyd ’n sportiewe mens en ek maak ook altyd seker dat ek aktief bly gedurende die feestyd (ek het altyd ’n springtou byderhand!). Maar sodra ek terug is van vakansie in Januarie gaan ek hard op die fiets oefen!

Bobby van Jaarsveld


34 the voice announce 01


Bekende sanger, akteur en The Voice SA-beoordelaar, met ’n hoofrol in die fliek Liefling en gasrolle in onder meer Hotel.

Watter ervaring het jy op ’n fiets?

Ek het nog net een keer die Argus gery. Verder het ek geen ervaring op ’n fiets nie.

Hoekom het jy besluit om deel te neem?

Ek neem deel ten bate van die liefdadigheidsorganisasie wat ek onder steun (Pikanini Benoni Dagsorgsentrum).

Waarna sien jy die meeste uit?

Ek kan net dink dat dit groot sports saam met die ander mense in die Toks en Tjops-fietsryspan gaan wees.

Is daar iets oor die ervaring wat jou bang of senuweeagtig maak?

Ek is nie fietsfiks nie – dit maak my bang.

Hoe gaan jy jouself voorberei vir die Cape Town Cycle Tour, behalwe om te oefen?

My my vorige Argus het ek op die fiets geklim sonder dat ek twee jaar enigsins op ’n fiets was. Ek hoop ek kry dit weer reg…

Hoe gaan jy jouself motiveer die tye wat jy nie lus het om te oefen nie, veral oor die feestyd?

Ek gaan hard in my kop oefen, ha ha!

Janina Oberholzer


34 toks janina


Janina is deel van die Toks en Tjops-span.

Watter ervaring het jy op ’n fiets?

NUL! Ek het wel een keer saam met Breyton aan ’n 30 km-bergfietsresies deelgeneem. Ek was doodmoeg en moes die fiets teen die einde stoot. Maar ek het klaargemaak en dis al wat tel.

Hoekom het jy besluit om deel te neem?

Ek is mal daaroor om my deel vir liefdadigheid te doen. En ek sê nooit nee vir ’n uitdaging nie.

Waarna sien jy die meeste uit?

Die gees! Nie net die gees van ons Toks en Tjops-span nie, maar ook die gees van die mense langs die pad. Dit gaan my deurdruk.

Is daar iets oor die ervaring wat jou bang of senuweeagtig maak?

Ek is so bang ek maak nie klaar nie. Of dat ek dalk gaan val en seerkry. Dis nooit lekker om met ’n fiets te val nie. Trust me. As kind het ek lekker geval. En ek wil baie graag klaar maak vir al ons liefdadigheidsorganisasies wat betrokke is.

Hoe gaan jy jouself voorberei vir die Cape Town Cycle Tour, behalwe om te oefen?

Kyk, ek sal in Januarie weer skouer aan die wiel sit. Maar tydens my vakansie nou in Desember gaan ek nooit nee sê vir ’n Hermanus-kreef nie. Die slaai eet sal eers weer in 2017 plaasvind, ha ha. ’n Draf langs die strand sal tydens die vakansie die ding moet doen.

Hoe gaan jy jouself motiveer die tye wat jy nie lus het om te oefen nie, veral oor die feestyd?

Deur eerder die middag se spinning-klas by te woon, en die oggend spinning­-klas ’n skip te gee.

Breyton Paulse




Die voormalige Springbok-vleuel en Toks en Tjops-aanbieder.