Logo
web uni tv guide

Suidooster

144Soap13
KV2 Deelnemer Veronika Olivier9

Veronika Olivier

Naam: Veronika Olivier
Ouderdom: 48
Tuisdorp: Heidelberg
Beroep: Kunstenaar

Hoekom dink jy is jy ’n goeie kandidaat vir die kykNET-program Kunsvlyt?
Ek is met ’n baie kreatiewe brein gesëen en kan baie vinnig ’n konsep uitdink vir ’n projek. Ek maak byna alles in ons huis self, en hou daarvan om ongewone idees uit te dink en ongewone materiale te gebruik.

Wanneer ek ’n kunsvlyt-projek of skildery maak, en ek het nie die materiaal of medium wat ek benodig nie, dan dink ek aan '’n alternatief, of ek maak my eie verfmediums.

Ek hou van alternatiewe; ek herwin byna alles in ons huis en gebruik dit in my projekte – van eierdoppe, teesakkies, en selfs die tee tot die koffie wat in die filter agterbly. Ek gebruik al ons ou dekor in ons huis om nuwe goed te maak. Familie en vriende het al van die items as geskenke ontvang.

Ek hou ook daarvan om onder druk te werk. My beste projekte/kunswerke is onder druk en teen tyd voltooi, want dan werk my kreatiewe brein op sy beste.

Ek is ook ’n persoon wat maklik in enige omgewing aanpas en kom goed met mense oor die weg. Natuurlik is ek nie kamerasku nie, want op skool het ek drama studeer en op verhoog opgetree. Ek is uitgesproke en gladnie skaam nie.

Watter tipe kunsvlyt doen jy en wat geniet jy die meeste?
My dag-tot-dag werk is om mixed media-dekoratiewe-kuns te maak en te verkoop. Ek maak egter gereeld ander items, hetsy dit my eie meubels/dekor is waarin ek nuwe lewe inblaas, of ’n geskenk wat ek spesifiek vir iemand maak.

Ek glo dat die kunsvlyt my brein se kreatiewe denke bevorder, en dit help my baie in my kunswerke. Op die oomblik geniet ek dit die meeste om mixed media-dekoratiewe-kunswerke te maak waarin ek collage- en verftegnieke, en verskillende mediums gebruik. Dit is kos vir my siel en so terapeuties.

Ek collage met papier, materiaal, eierdoppe, teesakkies, ou boeke, tydskrifte, plastiek ens.

Hoe gereeld doen jy kunsvlyt?
Byna daagliks.

Watter ander stokperdjies beoefen jy?
Ek hou daarvan om te lees (ek lees baie kuns, kunsvlyt, kreatiewe en entrepreneur-boeke en -tydskrifte). Ek hou daarvan om kos te maak, en bak novelty-koeke vir familie en vriende.

Ek stap gereeld in die koppies en natuur hier in Heidelberg. Ek en my man ry ook fiets en ons doen selfverdedigings klasse. Ek studeer ook deeltyds aanlyn grafiese ontwerp.

Wat is die grootste passie in jou lewe?
My grootste passie in die lewe is eerstens om my gesin en familie lief te hê en hulle te dien waar ek kan, as ook om ander mense te help. Ek het baie empatie vir veral bejaarde mense wat alleen en eensaam is.

Ek het vir ses jaar lank elke Dinsdag vrywillig kunsklasse vir ’n groep gestremde volwassenes in ons dorp aangebied. Verlede jaar het ek, nadat hulle ’n voltydse dame aangestel het, betrokke geraak by ’n privaatskool in Heidelberg vir kinders met leerprobleme/gestremdheid.

Kinders is natuurlik vir my baie kosbaar, en ek sal hulle met hart en siel beskerm. Ek is ook baie lief vir diere en help die plaaslike DBV met skenkings. My ander passie in die lewe is om die planeet te probeer ‘red’, en ek is ’n getroue herwinner van rommel.

Vertel ons meer van jou gesin/familie.
Ek is getroud, en woon saam met my man in ’n 100-jaar oue huis in Heidelberg wat ons self gerestoreer het.

Ons het ’n Franse Poedel wat my bedags geselskap hou. Ons kinders is reeds albei getroud met jong gesinne van hul eie. Ons dogter en haar man is albei sjefs, en hulle woon in Heidelberg waar ek die voorreg het om my liefste kleindogter Katrien (2) byna elke dag te kan sien. My seun en sy gesin woon in Somerset Wes en ek gaan kuier gereeld vir hulle in die Kaap waar ek natuurlik baie inspirasie kry en saam met my twee kleindogters speel.

Ek is ’n jong ouma, maar geniet elke oomblik daarvan. My man is sy hele lewe lank in die motorvervaardigingsbedryf en bestuur ’n maatskappy in Pretoria. Ja, hy ry elke dag want ons wil hier in die platteland woon.