Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Prontuit

144NuusPG13

Prontuit: Springbokke en ander diere

Nuus
16 April 2015
Vandeesweek se episode van Prontuit het gefokus op twee kwessies: strawwe vir Suid-Afrikaanse rugbyspelers, en toetsing op diere.
Kabous
Vandeesweek se episode van Prontuit het gefokus op twee kwessies: strawwe vir Suid-Afrikaanse rugbyspelers, en toetsing op diere.

Die Springbokke Frans Steyn, Bismarck du Plessis en Jean Deysel is almal tans op die kantlyn nadat hulle vir tussen vier en sewe weke geskors is. Daar bestaan lank reeds ’n persepsie onder Suid-Afrikaners dat ons spelers swaarder as dié van ander lande gestraf word, en volgens Rapport dink Oregan Hoskins, president van SARU, ook so: “Ek is absoluut gatvol, want ek sien hoe ons uitmekaar geskeur word op die veld en deur tugbesluite en ons kry nie ondersteuning van hierdie mense wat deel van ons organisasie, SANZAR, is nie.”

Kom dit neer of op onregverdige behandeling, of is daar ’n boelie-kultuur in SA rugby?

Die voormalige afrigter Eugene “Loffie” Eloff het via Skype gesê hy respekteer die feit dat Hoskins opgestaan het en gesê het hy is gatvol, maar dit is belangrik om te onthou rugby is ’n spel van dissipline.

Die oud-Springbok Gerrie Germishuys meen egter die blasers gaan oorboord: “Voorheen was die skeidsregter net ’n fluitjieblaser, nou beheer hy die spel.”

Toni Brockhoven van Beauty Without Cruelty het kortliks agtergrond gegee oor kosmetiese toetsing op diere in Suid-Afrika, en Erika Vercuiel van die NDBV en dr. Daan Verwoerd het verder gepraat oor mediese toetsing op diere.

Vercuiel het verduidelik instansies wat toetse op diere doen, moet toestemming daarvoor hê.

“Ons standaarde is tot ’n baie groot mate gegrond op die Australiese en Kanadese wette,” het Verwoerd gesê. “Die voorskrifte van die nasionale kode is so streng dat dit werklik nie misbruik kan word nie.”

Kortom, onwettige of onetiese toetse op diere is nie so ’n groot probleem as wat dit in sommige ander lande is nie.