web uni tv guide
web uni tv guide

Prontuit

144AktueelPG13
Dawie Roodt

Dawie Roodt

Dawie Roodt is al anker-aanbieder van Ontbytsake sedert die eerste program amper 18-jaar gelede die lig gesien het. Hy is ‘n welbekende ekonoom wat gereeld in die media aangehaal word oor verwikkelinge op die ekonomiese front. Hy is bekend daarvoor dat hy moeilike ekonomiese begrippe maklik verstaanbaar kan maak vir leke. Dawie is ook besonder uitgesproke oor ekonomiese sake en gee nie om om die hoogste gesag van die land aan te vat wanneer dit daarby kom nie.

Dawie is ‘n opregte Laevelder, gebore in die destydse Warmbad en het grootgeword in Tzaneen in Limpopo. Hy het sy BCom en BCom honneursgrade deur Unisa verwerf terwyl hy in die weermag was. Daarna het hy sy meestersgraad in Ekonomie met lof by RAU (nou UJ) verwerf.

Sy eerste werk was as ‘n rekenmeester by AVBOB en daarna as interne ouditeur by Trustbank, waarna hy as ekonoom by die Reserwebank begin werk het. Hy was ook al Ekonomiese redakteur van ‘n finansiële tydskrif en het vir ‘n aantal aandelemakelaars gewerk. Dawie is vandag ‘n direkteur en die hoofekonoom van ‘n genoteerde maatskappy, die Efficient-groep, waarvan hy ‘n stigterslid is.

Dawie is ‘n avonturier en bok vir sports. Hy doen graag uithou-wedrenne oor die wêreld heen en het al aan die Baikal-ysmarathon in Rusland deelgeneem.

Op 'n persoonlike vlak, is Dawie getroud met Marina en hulle het ‘n tweeling dogtertjies, Daria en Yulia, wat nou 7 jaar oud is. Hy het ook ‘n dogter, Danielle en seun, Kristoff, uit ‘n vorige huwelik en het onlangs oupa geword van klein Sebastian wat in Maart gebore is. 

By Ontbytsake is Dawie die een wat daardie ekstra bietjie pret aan die program verskaf. Hy is nie bang om iets nuuts te probeer nie en dis altyd lekker om te sien hoe Dawie gaste kan laat ontspan en uit hulle kassie laat klim. Dawie is ‘n mense-mens met ‘n opgewekte persoonlikheid en ‘n energie wat aansteeklik is.