Logo
Projek Dina 2 – Slim
web uni tv guide

Projek Dina

144Drama16 VL
Sersant Lux Dladla – Projek Dina 2

Sersant Lux Dladla

Sjarmant, slim, ongeorganiseerd en deurmekaar. Hy het ’n verstand soos ’n X-straal wat diep in mense en dinge kyk, maar hy wys dit nie graag vir mense nie. Hy is nederig, maar nie sonder ’n tikkie swagger nie. Op baie maniere is Lux alles wat Deon nie is nie: ’n mense-mens met ’n hoë IK; hy hanteer mense met empatie (iemand wat meer as mense se harte lees en verstaan, hy klim in hul skoene en weet presies waar hulle breekpunt is); ’n gebore sosialis; iemand wat nie burokrasie en onnodige reëls kan verduur nie; iemand wat onselfsugtig is. Lux ontstel en beïndruk Deon gereeld.

Vir Lux regverdig die uiteinde die middele: hy is ’n Robin Hood wat nie omgee om die reëls te buig (en later te breek) om ’n saak op te los nie. Hy het ’n ingewikkelde siening van moraliteit. Alhoewel hy ’n morele man is, glo hy eerder in geregtigheid as in die wet – en soms beteken dit om die wet te buig om geregtigheid te verseker. As hy byvoorbeeld gevra word om ’n jong man in hegtenis te neem omdat hy babaformule gesteel het, betaal hy self vir die formule en stel hom aan maatskaplike werkers voor.

Lux het geen belangstelling in die media nie en beskou enige iets wat met dit verband hou, ’n mors van tyd – iets wat die oplossing van sake bemoei. Hy kan nie verdra hoe Deon sy publieke profiel beskerm nie, en beoordeel en terg Deon hieroor. Lux voel dat Deon gesien wil word om ’n verskil te maak. Dié twee mans moet ’n moeilike en gespanne terrein deurkruis voordat hulle mekaar respekteer en as ’n formidabele span kan saamwerk.

Gebeure kan vir ure in Lux se gedagtes oor en oor speel – bewustelik en onbewustelik. Sy denke is lig, vinnig, lateraal en skynbaar intuïtief – hoewel Lux nooit net op vermoede sal werk nie. Hy stel waarskynlikhede en trajekte voor en feite word gekontroleer.

Lux is ’n verkleurmannetjie wat oral inpas. Hy weet gewoonlik net wat om vir mense te sê om hulle te laat praat. Daar is mense wat vir Lux ken en van hom hou, en sy sosiale netwerk met kontakte in elke township en sosiale sfeer is opvallend. Maar ondanks al hierdie dinge is Lux egter iemand wat min mense ken. Hy het die kuns bemeester om mense “gesien” en “gewaardeer” te laat voel terwyl hy nie te naby aan hulle hoef te kom nie. Jy sal dit nie sommer agterkom nie, maar Lux beskerm sy hart en privaatheid as gevolg van ’n moeilike gebeurtenis in sy verlede wat hy nog nie hanteer het nie. . .