Logo
OSSS
web uni tv guide

Op Seer Se Spoor

145Dokumentêr13 V

Op Seer se Spoor 2 begin eersdaags op kykNET & kie

Nuus
16 April 2020
Indien jy nog nie die nuus gehoor het nie, die SAFTA-benoemde Op Seer se Spoor 2 is vanaf Dinsdag 28 April 2020 om 20:30 terug op kykNET & kie, DStv-kanaal 145.
Ernusta

Dié immergewilde 13-episode misdaadreeks, wat in samewerking met Kuier-tydskrif aangebied word, volg die reis van Kuier se artikel-redakteur, Ernusta Maralack, wat in die eerste seisoen ’n kollig op die wreedste moordtonele in die Wes-Kaap geplaas het.

Sedert dan het Op Seer se Spoor talle kykers se lewens weekliks geraak soos Maralack, ’n gesoute joernalis en aanbieder, onderhoude voer met familielede van slagoffers, gemeenskapslede en in sommige sake selfs met familielede van oortreders.

Vroeër vanjaar het die eerste seisoen van Op Seer se Spoor ’n SAFTA-nominasie vir beste feitelike of opvoedkundige program ingepalm. Kyk hier na van die video’s uit die eerste seisoen van Op Seer se Spoor: Video's

En die soeke na die waarheid is nog nie verby nie.

In die tweede seisoen van Op Seer se Spoor bekyk Ernusta nie net stories uit die Wes-Kaap nie, maar vanuit die hele land. Elke episode kyk nie net na die storie wat sommige keer die nuusopskrifte haal nie maar ook na die hartstoglike seer van die agterblywendes, oorlewendes en hul gemeenskappe wat jare later steeds die wonde moet salf.

Bradley Joshua, uitvoerende vervaardiger van Op Seer se Spoor, vertel dat kykers kan verwag om weer Ernusta op haar reise reg oor die land te volg soos sy probeer verstaan en sin maak van die wreedste en mees sinnelose moorde in ons samelewing.

“Een van die hoofredes hoekom ons Op Seer se Spoor ontwikkel het, was om ’n stem te gee aan die stemlose en om ’n kollig te plaas op geweld, veral teen vroue en kinders in ons mees agtergestelde gemeenskappe in Suid-Afrika,” sê hy.

“Op Seer se Spoor 2 sal nes die eerste seisoen probeer om die seer, pyn en impak op gemeenskappe van hierdie wrede moorde te ondersoek deur met die slagoffers, hul families en vriende asook die oorlewendes te praat.”

Dié SAFTA-benoemde misdaadreeks sal in die eerste episode die moord van die 25-jarige bokskampioen, Leighandré ‘Baby Lee’ Jegels, bekyk wat einde Augustus 2019 een van die gesigte van geslagsverwante geweld in Suid-Afrika geword het. Sy is deur haar eks, ’n polisiebeampte, met sy diensgeweer doodgeskiet nadat hy haar ma gewond het.

Daarna besoek Ernusta die gemeenskap van Bernadino Heights in Kraaifontein wat in 2017 geweldig geruk was met die nuus van ’n weduwee wat haar drie seuns doodgeskiet het, voordat sy haar eie lewe geneem het, maar net sy en een van haar seuns het gesterf – die 21-jarige. Haar tweeling, toe 14 jaar oud, het oorleef.

In Upington bekyk ons ook die bewerings wat einde verlede jaar die rondtes gedoen het, van ’n pa wat sy twee dogtertjies in ’n rivierkanaal gegooi het voordat hy ingespring het en saam met hulle verdrink het. En nog ’n ma vertel ook hoe sy haar seuns in ’n soortgelyke voorval in die kanaal verloor het.

Verder kyk ons ook na die moord van die 11-jarige dogtertjie, Elizabeth Martiens, wie se ontbinde lyk in ’n leë watertenk op Piet Botes se plaas, Weltevreden, op Leeu-Gamka gevind is.

Ernusta bekyk ook dan die sake van Katrina Jagers, ’n pediatriese verpleegster van Upington, wat wreed gesterf het aan die hand van iemand wat sy geken het en die ontvoering van Junice Adams se tweelingdogters, meer as dertig jaar gelede.

In ’n eksklusiewe onderhoud bekyk Ernusta die wrede moord van die Matie-student, Hannah Cornelius, wat skokgolwe deur die hele land gestuur het. Sy en haar vriend, Cheslin Marsh, was in die vroeë oggendure van 2017 oorval, beroof en ontvoer.

Op Seer se Spoor 2 kyk ook terug na die driedubbele moorde in 1999 op drie jong bewaarders van die Helderstroom-gevangenis naby Caledon. En in 1997 na die ontvoering en moord van Shawn Lategan en sy vriendin, Maritza van der Merwe, in Malmesbury.

Ander sake in die tweede seisoen sluit in die moord van Bianca Botha van Beaufort-Wes, konstabel Evelyn Pienaar van Mosselbaai wat wonderbaarlik oorleef het nadat die pa van haar twee dogtertjies ses patrone op haar afgevuur het. En in die laaste twee episodes belig Ernusta die dade van die reeksmoordenaar, Stewart Wilken ook bekend as Boetie Boer, wat in die negentigerjare ten minste nege mense in Port Elizabeth vermoor het. Onder sy slagoffers was heelwat prostitute, maar ook sy elfjarige dogter wat hy vermoor en “aan God opgedra” het sodat sy nie dieselfde lewe as hy sou hê nie.

Op Seer se Spoor 2 begin Dinsdag 28 April om 20:30 op kykNET & kie, DStv-kanaal 145.