Logo
Homepage Billboard 1600x800
web uni tv guide

Ontbytsake

144SakejoernaalPG13

Ontbytsake se Dawie Roodt is Ekonoom van die Jaar

Nuus
05 Julie 2016
Die gewilde Ontbytsake-aanbieder Dawie Roodt is verlede week as Sake se Ekonoom van die Jaar vir 2015 aangewys.
Dawie Roodt Ekonoom

Die gewilde Ontbytsake-aanbieder Dawie Roodt is verlede week as Sake se Ekonoom van die Jaar vir 2015 aangewys. Roodt het 33 ander ekonome in die kompetisie uitgestof.

Prof. Eon Smith, voormalige hoof van die Nagraadse Bestuurskool van Universiteit Stellenbosch wat verantwoordelik is vir die insameling van die ekonome se voorspellings, het gesê Roodt het die beste vooruitskatting vir sowel kort- as langtermynrentekoerse gelewer.­

“Dis ’n wonderlike eer om die toekenning te ontvang,” sê Roodt, “veral omdat daar so baie ekonome is wat daaraan deelneem vir wie ek baie respek het.”

Hy sê hy het geweet hy het ’n kans gehad om te wen omdat hy goeie syfers gehad het, maar dat mens nooit seker is nie. “Die prof. wat bepaal wie wen se formule is vir my duister,” sê Roodt, wat sy loopbaan as rekenmeester by Avbob begin het en deesdae die hoofekonoom van die Efficient Group is.

Wat dink hy moet Suid-Afrika doen om sy volle potensiaal te bereik?

“Daar is so baie wat ons moet doen, maar hier is drie voorstelle. Eerstens moet die diensverskaffing van die staatsdiens (plaaslike owerhede, provinsies, sentraal- en staatsbeheerde organisasies) verbeter word. Tans is dit ’n ramp!

“Tweedens moet alle hindernisse in die plek van werkskepping verwyder word. Moenie werke skep nie, maar moet ook nie werkskepping verhinder nie. Arbeidswetgewing en arbeidsverhoudinge is voorbeelde daarvan. Derdens moet daar ’n wêreldklas vaardigheidsontwikkelingstelsel geskep word. Ons onderwysstelsel is swak en soms die swakste in die wêreld. Ons moet ophou kwalifikasies jaag (soos byvoorbeeld halfmiljoen matrieksertifikate per jaar) en meer aandag aan vaardighede gee.”

Wat is die eerste ding wat hy sal doen as hy president van Suid-Afrika word?

“Die prez is die chief staatsamptenaar,” sê Roodt. “Sy primêre job is om die staatsdiens behoorlik te bestuur – en hy doen dit baie sleg. Dus, die eerste ding wat enige prez moet doen, is om die staatsdiens reg te ruk. Fire alle staatsamptenare (oor tyd) en stel dan staatsamptenare slegs op meriete aan. (Terloops, dit is reeds in ander lande gedoen.) Of indien dit te radikaal klink, sal ek as president alle wetgewing wat privaat eiendomsreg en individuele vryheid ondermyn ophef en wetgewing instel wat individuele vryheid bevorder en die rol van die staat en politici beperk.”

Waarin moet Suid-Afrikaners nou belê?

“Eerstens in jouself – vaardighede, opleiding, kwalifikasies. Tweedens in jou eie besigheid, derdens in jou aftrede,” sê Roodt. “Wat spesifieke beleggingsmoontlikhede aanbetref: Sorg vir diversifikasie en belê ’n redelike groot gedeelte in die buiteland veral die VSA.”

Die beste ekonomiese raad wat hy al ooit gekry het, was die volgende: Hoe groter die risiko, hoe groter die (potensiële) opbrengs.

“Ek hou van risiko’s (let wel, nie om dom dinge te doen nie). Dis ’n risiko om vooruitskattings te maak omdat jy verkeerd kan wees, dis ’n risiko om ’n TV-aanbieder te wees want jy kan jou naam krater maak en mens se hart kan dit soms nie hou nie, dis ’n risiko om die Comrades te hardloop want dis *&%$ ver! Ek hou van risiko’s. Ek faal gereeld, maar soms wen ek – soos met die Ekonoom van die Jaar-kompetisie…”

Hy sê Ontbytsake is die hoogtepunt van sy week.

“Ek dink die adrenalien, die andersheid van TV en aanbieding, die onsekerheid en spanning, die geleentheid om fantastiese mense te ontmoet, om saam met amazing mense pret te hê, sodat my ma my so af en toe kan sien en om vas te stel of ek nog ’n program soos Ontbytsake kan aanbied, is van die redes hoekom dit so ’n hoogtepunt in my lewe is.”