Foto: Getty Images
Deur Lilla Fourie
Die eerste konferensie van die organisasie Senior Mind Moves – met die tintelende titel van Sit die glinster in jou grysheid – is onlangs gehou. Meer as 100 konferensiegangers het aandagtig geluister na die sprekers en geesdriftig deelgeneem aan die aanbiedings. Hulle is daar weg met ’n glinster in die oog om ouer word positief te benader en om toe te pas wat hulle geleer het. En om hulle litte letterlik te roer!
Want wat soos ’n glinsterende grys draad deur die hele konferensie geweef was, was hoe belangrik oefening is om die brein gesond en aktief te hou, selfs al word oefening net tot bewegings van die oë afgeskaal.
Celeste van der Walt was die eerste spreker. Sy is onder meer ’n lagterapeut, sakevrou en die hoof uitvoerende beampte van Senior Mind Moves. Sy het gesê dat ’n mens moet leef soos die stad Venesië wat, ten spyte daarvan dat hy al verder onder die see versink, steeds pragtig is en lewe trek. Sy het dit beklemtoon dat ouer word nie net aftakeling en siektes is nie, maar dat ’n mens moet aanhou beweeg en aanhou leer en verhoed dat jou sintuie afstomp. Haar praktiese aanbevelings was dat ’n mens elke jaar iets lekker nuut moet probeer doen, dat jy betrokke in die gemeenskap moet wees en ’n verskil moet maak in mense se lewens. Jy moet ook nie jou jeugdrome vergeet nie, want wie weet, dalk is dit nou in jou senior jare die regte tyd om daardie drome weer na te jaag.
Dr Melodie de Jager, stigter van BabyGym, die Mind Moves Institute en die Senior Mind Moves Institute, het haar aanbieding Stop die oudwordklok genoem. Sy is baie bekend as motiveringspreker en skrywer. Maar sy is veral ’n kenner van die verband tussen beweging en ’n gesonde brein en die helende uitwerking van eenvoudige bewegings soos wat ’n babatjie maak, op ’n beskadigde brein. Sy het enkele van die Mind Moves- bewegings met die kongresgangers gedeel en verduidelik hoe ore vryf op ’n sekere manier die balans, gehoor en geheue verbeter; hoe die bewustelike draai van jou oë sekere dele van jou brein aktiveer; en hoe ’n eenvoudige handpalmstrek selfs duidelike en vlot spraak kan bevorder. Haar bydrae was daarop gefokus dat ’n mens moet bly beweeg. “Dit maak nie saak hoe vinnig, hoe maklik of moeilik jy beweeg nie, bly beweeg! As jy dit self kan doen, doen dit!”
Anine van Zyl, spraakterapeut en dieetkundige, het die belangrikheid van die spierbewegings in en om jou mond en keel uitgelig en dat dit deur die kouproses fiks gehou moet word. Ouer mense stik maklik en praat moeilik as hierdie spiere nie sterk is nie en as hulle nie korrek asemhaal nie.’n Swak kou- en slukvermoë is dikwels die oorsaak van herhalende longinfeksies omdat van die kosstukkies in die lugpype beland en nie altyd uitgehoes word nie. Sy het aanbeveel dat ’n mens jou lippe en wange soepel moet hou deur te lag, te soen, te suig, ballonne op te blaas, ’n blaasinstrument te speel en uit ’n tuitbottel te drink.
Musiek het ’n neerslag oral in die brein, het Cozette Laubser aangevoer in haar aanbieding oor musiek en die geheue. Musiek, geheue en emosionele ontwikkeling is onlosmaaklik verbind. Wanneer ’n mens musiek hoor, skei die brein die goedvoelhormoon dopamien af. Maar dis nie al nie, studies dui daarop dat ’n mens se immuniteit ook daardeur versterk word en dat, as jy ’n musiekinstrument leer bespeel, sekere dele van jou brein inderwaarheid groter word. Cozette is deel van die BabyGym- en Mind Moves-span en ook sy beskou beweging as van kardinale belang. Musiek het groot krag om die brein en die lyf se spiere in rat te sit, sodat die behoefte om ritmies te beweeg, geprikkel word. Op dié manier kry die sintuie, die brein en die spiere ’n lekker oefensessie én die hart klop warm.
’n Oefensessie het die konferensie- gangers te beurt geval toe Edwina Fillies van die South African
Seniors Fitness Association (SASFA) gedemonstreer het hoe lekker dit is om saam met musiek selfs net jou arms te beweeg. Sy het vertel dat SASFA al vir die afgelope 30 jaar oefenklasse aanbied om, op maat van musiek, seniors se lewensgehalte te verbeter deur die spiere en brein te oefen en so balans te verbeter en valle te voorkom. Jy kan ook met goeie gevolg strekoefeninge in jou sitplek op die vliegtuig of op die rusbank voor die televisie doen. “Baie ouer mense ontsien die moeite om gereeld te oefen, of hulle dink dis onvanpas vir ouer mense om te dans of te oefen. Maar navorsing wys dat toepaslike oefening op enige ouderdom nodig is vir ’n mens. Dit is beter om uitgeslyt as opgeroes te wees,” het sy geskerts.
Belinda Leibowitz, ’n arbeidsterapeut en laevisiespesialis, het verduidelik wat laevisie is. Sy het vertel hoe ’n mens die beste van ’n netelige saak kan maak deur klein aanpassings soos beter beligting, verhoogde kontras en die grootte van letters. Sy het ook inleidend gesels oor hulpmiddels wat die lewe vir jou makliker kan maak en jou kan help om onafhanklik te leef.
Die neurowetenskaplike, bekende radio-omroeper, opvoedkundige en entrepreneur Johan van Lill was die laaste spreker van die dag. Ook hy het die belangrikheid van liggaamlike oefening vir breinontwikkeling beklemtoon. Want, meen hy, al is die brein ongelooflik vormbaar en aanpasbaar, is die leerproses nie alleen ’n funksie van die brein nie, maar ’n funksie van jou hele liggaam. Die interaksie wat ons met die wêreld en ons omgewing het, speel ’n belangrike rol in ons ontwikkeling en bepaal die bedrading van die brein. Hou die brein jonk deur dit voortdurend te stimuleer. Wees nuuskierig, want nuuskierigheid is die brein se kos. “Vra vrae, verwelkom uitdagings, leer ’n nuwe taal, speel speletjies wat jou woordeskat uitbou, kleur in, dagdroom. Maak elke dag nuwe herinneringe en as jy in die aand in jou bed lê, vra jouself wat het jy vandag gedoen, met wie het jy vandag gesels, wat het jy vandag gehoor of gesien of geruik en geproe, wat wil jy graag onthou?”
As onthou ter sake is, sal hierdie dag se lewendige aanbiedings nog lank in die konferensiegangers van Sit die glinster in jou grysheid se geheue bly. Die goeie nuus is dat opvolg-konferensies reeds in die vooruitsig gestel word.
In die nuwe seisoen van Met ’n huppel in die stap ondersoek ons dié onderwerp verder. Kliek hier en vind uit hoe om n meer aktiewe leefstyl te volg.
Skakel Woensdae om 18:00 in op DStv-kanaal 144 vir Met ’n huppel in die stap. Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram met die hutsmerk #HuppelStap.