Logo
MMF

Emo Adams en Tarryn Lamb - Maak My Famous 2

Nuus
14 Augustus 2020
Maryke Roberts gesels 'n bietjie met Emo en Tarryn. Lees meer hier.
emo tarryn cover

Emo Adams en Tarryn Lamb is een van die kassie se glanspaartjies - goeie vriende; én ook die aanbieders van kykNET se Maak my Famous, waarvan die tweede seisoen tans op die kassie is. Maryke Roberts het met hulle gesels.

In hul persoonlike lewens is Emo ook die aanbieder van Noot vir Noot; pa van drie en getroud met Michelle Gildenhuys, ’n gewese model. Tarryn is getroud met Lester Timothy, ’n prokureur. Sy is stiefma vir kleine Skyla en sy en Lester het ook ’n klein hondjie, Sherlock. Plumstead in Kaapstad is huis en die paartjie is mal oor reis en is op hul gelukkigste as hulle met familie en vriende kan braai en bergfiets ry.

Tarryn vertel haar lewenspad is bykans 20 jaar gelede onherroeplik verander, toe sy as een van die top 50 uit Idols aangewys is. Sy ken die gevoel van vlinders op die maag en naelskou en familie wat angstig tuis sit en wag, terwyl jy voor groot televisiegehore jou hart uitsing. Dis hierdie kennis, wat haar ideaal maak as “ma” vir die deelnemers.

Sy was vir meer as agt jaar die hoofsanger van Blackbyrd, die vroulike sanggroep met Tamsyn Maker en Axene Prinsloo, maar sedert hul ontbind het, sing sy meestal in Afrikaans.

Sy het ook pas ’n nuwe liedjie met Willem Botha, ’n Liefde soos die, vrygestel. Sy sê het ongelooflike bewondering vir Willem en is mal oor die liedjie wat hy geskryf het. “Afrikaans was vir ’n lang tyd nie ’n gemaklike plek vir my om in te beweeg nie. Ek het geglo my Kaapse Afrikaans was nie proper en goed genoeg nie. Maar dis ’n pragtige taal en ek geniet dit om in Afrikaans te sing.”

Sy sê: “My Afrikaans is beperk en ek voel so trots om in dié taal te kan sing met kunstenaars wat sulke mooi Afrikaanse songs kan skryf.”

Tarryn was ook deel van die Dagdrome in die Boland-vertoning by die Toyota US Woordfees. Sy het onder meer saam met Tasché, Jack Parrow, Early B, Hunter Kennedy, Francois van Coke, Pierre Greeff, Arno Carstens en Laudo Liebenberg, opgetree.

Emo is so deel van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld, soos, wel, Noot vir Noot en het verlede jaar al meer as 30 jaar in die vermaaklikheidsbedryf gevier. Hy was by die Woordfees saam met die wenner en finaliste van verlede jaar se seisoen te sien.

Maak my famous het verlede jaar die land aan die brand gehad en meer as 8 000 inskrywings is vir die tweede seisoen ontvang, teenoor meer as 6 000 vir eerste seisoen.

Maak my famous se uitsendings word gedoen vanaf Roxy Revue Bar by Grandwest Casino & Entertainment World, waar 100 sitplekke vir elke opname beskikbaar is. Met die finaal verlede jaar, het 100 mense in Roxy en 150 in Hanoverstraat saamgekuier, maar vanjaar word die finale, 13de episode, op 22 Julie van die Grand Arena uitgesaai.

Emo vertel die ondersteuning was verlede jaar só oorweldigend, dat meer plek genoodsaak is en hulle is baie opgewonde dat hulle die Arena gaan gebruik. “Dis ’n 5000 sitplek teater en ons hoop om uit te verkoop.”

Op 7 Februarie vanjaar kondig die Maak my famous facebook-blad aan daar is nog net 10 kaartjies beskikbaar, dan is die hele opname-seisoen van 12 episodes uitverkoop. Emo vertel dat dit binne vier dae uitverkoop het.

“Vanjaar het ons inskrywings gehad van 6 tot 66 jariges, van verskillende plekke, selfs dorpies waarvan ons nog nooit gehoor het nie,” gesels dié duo.

Emo is trots as hy erken dat “die medium van Maak my famous versprei het na mense wat nooit sulke geleenthede kry nie.

Wat Maak my famous van ander talentkompetisies onderskei, is dat deelnemers nie vir oudisies gaan nie. Emo wou dit uitskakel, omdat groot afstande baie van hierdie plekke vir mense ontoeganklik maak. Dis waar die idee vandaan kom om die kompetisie op sosiale media uit te skryf.

Hulle glo dis waar die sukses lê. Dit bereikbaar en moontlik vir almal. “Ek het besef almal se lewe is op sosiale media en online, maar nie almal het insight om op websites in te log en details te skryf nie.

“Jy wil net record en stuur. Dis die grootste mag van die show. Ons reik uit na die publiek en nooi hulle om ons talentsoekers te word. Maak ’n video van jou gunsteling act en stuur dit vir ons,” gesels hy.

Tarryn voeg by dat dit nie saakmaak waar jy vandaan kom; wat jou omstandighede is nie. “As jy ’n droom en die moed het om daarna te reik, is daar geen perke nie. Werk hard, fokus. Die reeks bring soveel hoop. Dit bou gemeenskappe.”

Hulle lag as hulle sê die tweede seisoen het “weird inskrywings gehad”. Sang was weer die meeste en Tarryn sê wat lekker was, was dat meer sanger-liedjieskrywers, kulkunstenaars, komediante, operasangers, baie dansers - van kontemporêre dans en hip hop tot breakdance - orkeste, dromspelers, eintlik alles onder die son gekry is. “Alles behalwe mense wat toertjies doen met hondjies,” vertel Emo met ’n vonkel in sy oog.

Hy voeg ook by dat 30 persent van die eerste seisoen se deelnemers, het weer ingeskryf. Ander het weer kom hallo sê. “Alles van dié ding is different,” vertel hy trots.

“Hierdie seisoen voel meer soos ’n aksiefliek. Verlede jaar kon ek raai hoe mense gaan stem, maar vanjaar kan ek glad nie. Is bietjie soos die Wilde Weste - party talente blom voor gehoor; ander val heeltemal plat as hulle onder druk is.

Die eerste opname was op 10 Februarie en uitsendings begin op Woensdag 29 April. Daar is weer vier kategorieë: vroulike solosang; manlike solosang; groepe en rymklets; en gespesialiseerde talent. “Ons het gesien daar het baie groepe soos kore ingeskryf. Want sometimes singers rap en rappers sing of hulle het backing nodig,” vertel hy.

Die besluit om soveel verskeidenheid kategorieë te skep, is bloot om die gehoor te vermaak. “My ouers het my altyd na verskeidenheidskonserte geneem en ek was altyd opgewonde, jy weet nie wat volgende is nie. Dis hoe ek van die show ook hou.”

Die eerste episode begin met 48 deelnemers, wat dan uitgedun word tot die finale vier en dan word die wenner aangewys. Daar is geen beoordelaarspaneel nie; kykers in die gehoor is die beoordelaars.

Emo vertel: “Die proses van hierdie show is baie intricate. Ek vind mense kritiseer beoordelaars se stem en sê baie gou Randal Abrahams; Gareth Cliff of Simon Cowell moes só of só gestem het. Dis maklik om te sê, tot jy dit self moet doen. Ons konsep gee die mag vir die mense.

“Maar die gehoor moet hul verantwoordelikheid verstaan. Iets so klein soos een stem, laat iemand se loopbaan vanaand voortgaan of nie.”

Die 23-jarige Cheswyn Ruiters van Worcester, het die eerste seisoen gewen. Cheswyn en Bernice West was die top twee finaliste. Emo sê hy glo daarin dat jy net so goed soos jou laaste optrede is en in die finaal het die talente nog een kans om hom te oortuig en Cheswyn het dié aand die beste optrede gehad.

Cheswyn het in Augustus verlede jaar sy enkelsnit, “A Reason”, op sosiale platforms vrygestel.

Ek wonder hoekom deelnemers “talente” genoem word. Emo sê dis deel van die konsep. “Hulle is nie deelnemers of contestants nie, hulle is almal talente.

“Alles aan Maak my famous is anders; die gehoor kry nie back stories nie, hulle sien die talent en stem. Dis al. Die hele vertrekpunt is klaar positief. Wanneer die talente by ons weggaan na drie dae, het hulle klaar ’n meestersklas ondergaan. Of hulle by ons wen of nie, hulle het vaardighede gekry om in hul loopbaan te gebruik.”

Hy sê een van die punte wat hy en Tarryn altyd benadruk is dat hierdie ’n talentkompetisie soos enige ander is, maar dat jy hier goeie sportmanskap leer. Jy gaan terug, jy oefen, jy verbeter.”

Hulle sê of Maak my famous hulle gaan famous maak, hang van hulself af. “Dis 90 sekondes om hulself te verkoop -  daardie sekondes is hul tyd. Jy is ’n bewegende, visuele billboard, en as jy klaar opgetree het, moet ons fone lui en mense wil jou bespreek.

“Verlede jaar se top 10 het baie lekker gewerk en van episode 1 in hierdie seisoen kan mense die talente bespreek. Ons bestuur net die besprekings,” vertel hulle.

Tarryn sê daar is soveel oomblikke wat sy terugstaan en haarself weer sien as destydse groentjie. “Ek geniet die talent en passie en deursettingsvermoë van die mense wat deelneem. In ’n kompetisie is dit nie altyd maklik om jou beste te gee, as jy weet net een mens gaan deur na die volgende rondte nie.

“Dis vir my baie kosbaar as hulle die gehoor tot trane dryf, om hul reaksie te sien.”

In die tweede seisoen is sy baie minder gespanne as aanbieder. “As jy langs Emo staan, hoe kan jy bevoeg wees? Dit was ’n groot uitdaging maar ek is meer ontspanne en geniet dit meer.”

Sy kyk op na Emo en vertel hy is só braaf, hy glo in homself. “Hy gee vir alles wat hy doen, 10 000 persent en hy glo alles is moontlik. Ek bewonder dit en inspireer my, veral as ek nuwe uitdagings aanpak. Ek is versigtig en bang, maar Emo is vreesloos en sterk. Hy weet wie hy is. Ek bewonder dit.”

Sy sê voorts: “Ek het by hom geleer om te fokus. Projekte en doelwitte is net soveel meer effektief as jy gefokus bly en deursettingsvermoë het.”

Emo sê hy en Tarryn werk so goed saam, omdat hul werksetiek en prioriteite dieselfde is. “Ons is old school. Ons kom van dieselfde grootword, en ons weet die enigste manier om te slaag in die lewe en om vooruit te gaan, is om hard te werk. Ons het ’n goeie, soliede vriendskap wat op respek gebou is.”

Hulle wil graag hierdie realiteitsprogram oorsee neem. “Ons wil net eers al die probleme uitstryk en die model slyp, want dit het iets uniek om aan te bied.”

En terwyl die Roxy Revue Bar vinnig volloop vir die volgende opname, moet ek darem gou vra wat die res van die jaar vir hulle elkeen inhou?

Tarryn het verskeie vertonings regoor die land en haar jaar is vol. “Ek het ook ’n hele paar verrassings van samewerking met my gunsteling Afrikaanse kunstenaars. Ek is ook deel van die Krone-span, wat ek baie geniet.”

Emo sê 2020 hou vier oorsese toere in; ook die groot Maak my famous-toer aan die einde van die reeks. “En natuurlik sien ons baie uit na die Maak my famous Showcase waar die top 10 talente gesien word.”

En net voor ons groet, voeg hy so effe as nagedagte by: “En daar is ’n nuwe album op die horison, maar ek neem my tyd daarmee, want goeie goed neem tyd...”

Onthou, Maak my famous is elke Saterdag aand om 20:00 op julle televisie. Skakel in op kykNET en kykNET&kie. Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke, #MMF en #MaakMyFamous te gebruik, en vertel vir ons wie julle harte gesteel het.