Gewoon Ongewoon is ’n viering van dít wat ons Suid-Afrikaans en Afrikaans maak. Dit is stories van mense wat die lewensbloed van kykNET is; die kykers. Hulle vertel ons hulle stories in al hulle wonderlike verskeidenheid, diversiteit, tekstuur, klank en kleur. Dit is merkwaardige, vreemde, anderste, uitsonderlike en buitengewone stories van mense van reg oor die land. Hierdie is te viering van kykers – Gewoon Ongewoon!
Pieter “Supapiet” du Preez - Johannesburg
Na ’n fietsongeluk is Pieter verlam van die skouers af, maar dit het hom nie gekeer nie. Hy is die eerste C6 kwadrupleeg wat die Ysterman in die gewone tyd kon klaarmaak. Dit is ’n storie van ongelooflike deursettingsvermoë en passie teen reuse struikelblokke. Maar dit is ook ’n storie van liefde, familie en spanwerk.
Ron van Zyl - Ohrigstad
20 Km noord van Ohrigstad, staan die Skoenhuis. Kunstenaar Ron van Zyl, die eienaar en bouer, het die gediggie van ou tante Viljoen as inspirasie gebruik vir dié gebou wat in die vorm van ’n skoen van 20 m lank is. Binne-in die groot skoen is ’n geskenkwinkeltjie en ook ’n teekamer. Maar dit is die Christusgrot wat Ron se passie werklik ten toon stel.
KLIEK HIER OM MEER UIT TE VIND VAN RON EN SY UNIEKE SKOENHUIS.
Victor en Tiana Aries - George
Victor Aries glo in die voordele van lees vir sy dogtertjie, Tiana. ’n Paar maande voor haar eerste verjaardag word sy die jongste lid van ’n biblioteek naby George. Hierdie storie gaan oor die liefde vir lees en die drome wat dit kan bewaarheid.
Boetie Bester – Nieu-Bethesda
Nieu-Bethesda het die perfekte klimaat vir knoffel-groei – vrugbare grond, strawwe winters en snikhete somers. Boetie het sy lewe hier kom maak en so tussen die kleinboerdery het hy ook sy eie kroeg begin waar die gemeenskap bymekaarkom en stories uitruil.
Abrie Fourie & Harrie Siertsema - Richmond
Richmond is die ongewone tuiste van die Modern Art Project South Africa - ’n tuiste vir Harrie Siertsema se uitgebreide kunsversameling onder die kuratorskap van Abrie Fourie. Die projek is ’n eiland van kuns in die Karoo en ook tydelike tuiste vir kunstenaarswerkswinkels en gebeurlikhede.
Vir ’n voorsmakie van die stories, volg die hutsmerk #GewoonOngewoon op Facebook, Twitter en Instagram.