As jy nog nie gesien het hoe Die Opsigter vir Austin skrik op die lyf jaag nie, mis jy uit op een van #Kwarantyn se vermaaklikste poetse nog.
Dit het alles op dag-21 gebeur, toe die kykers besluit het dat Austin die aand op die rusbank moet deurbring. Maar aanhoudende skrikkies deur Die Opsigter het beteken die jongklomp van span Scheepers het saamgespan met Austin, wat almal sommer in die voorkamer oornag het.
Die poets het as te ware 'n inspirasie geword op dag-22 toe Manie, Adriaan en Austin hul eie plan beraam om span Scheepers te laat spring van die skrik.
As jy die vrees-fees geniet, kan jy sommer die hele gesin by jou eie poets betrek. Daar is heerlike Afrikaanse-grilboeke vir die kleinspan (en hul ouers en grootouers).
Hier is drie boeke wat die hele gesin so 'n bietjie sal laat bewe:
- GEDAANTES EN GERAAMTES
Met titels soos Stem in die Trommel, Skaduwee op Siwet en Spookhuis by die see is die reeks boeke deur Louise Prinsloo kannie-mis gruwelverhale in lekker-lees Afrikaans. In elke avontuur gaan Wikus, Karel en Giepie op spookjagte, vol eg Suid-Afrikaanse kinkels, maar dis gereeld nie spoke wat die probleme veroorsaak nie. Hulle word ook soms vergesel met die kelurvolle (en wyse) prof. Pieta. Die boeke is landswyd beskikbaar.
- DIE GROOT BOEK VAN SPOKE EN GRILLE
Hierdie bundel, met 30 spookstories deur Fanie Viljoen, sal jou tone laat omkrul van lekkerkry. Van zombies tot vampiere, spoke tot hekse, die grilstories sal jou laat skaterlag, en skreeu. Wat lekker is, die stories is verbeeldingryk en leer sommer die jongspan 'n paar nuwe woorde. Dis heerlike vermaak vir laataande. Van die stories sluit in Die fout met juffrou Kupido en Die Swartmuur om Middernag. Die bundel is landswyd beskikbaar.
3. DIE BESTE SPOOKSTORIES VAN C.J. LANGENHOVEN
Langenhoven se stories is volksbesit, maar dis veral sy spookstories wat so lekker lees (en lank na jy die boek toegemaak het in jou kop afspeel). Van spoke op plase, tot interessante verhale van die mense in Suid-Afrika. Van die verhale sluit in die Die spook van Vergeleë waar almal wonder wat die snaakse geluide elke aand in die begrafplaas maak? Die bundel bevat gewoontlik 20 heerlike spookstories. Dis landswyd beskikbaar.
Wat is van jou gunsteling Suid-Afrikaanse spookstories? Deel dit met ons op Facebook, Instagram en Twitter deur die hutsmerk #Kwarantyn te gebruik.
Kwarantyn sal vanaf Woensdag 10 Junie om 21:00 elke dag en heeldag op kykNET se nuutste opwipkanaal, DStv-kanaal 149, uitgesaai word.