Logo
Kwarantyn 1600x160 Slim Homepage (2)

Dag 12: Boodskappe vir pappa – Kwarantyn

Nuus
21 Junie 2020
Caryn en Lisa gesels met ons oor hulle pappas ...
Vadersdag

As die koue [en die verlange] knou in 'n koue ingeperkte Suid-Afrika, verlang jy sommer onmiddellik na gesprekkies tussen jou en jou pa, jou oupa, of daardie vaderlike-figuur wat vir jou met diep oë en ’n reguit vinger gesê het: “Beproef alles maar behou die goeie.”

Dis die man wat vir jou ingewag het by die voordeur, die man wat nie tot ruste kon kom voordat jy veilig was nie. En ter viering van Vadersdag hoor ons by twee van ons huismaats wat hulle waardeer van hul pa’s.

Caryn vertel dat dit moeilik om haar pa nie by haar te hê vir Vadersdag nie. “Dis die eerste keer sonder [hom] ...ek kan nie eers vir hom ’n geskenkie gee of ontbyt maak nie...” 

Oor haar pa sê sy dat sy ’n baie sagte plekkie vir hom het, weens sy goeie hart. Sy vertel dat haar pa ’n man is wat nooit nét aan homself dink nie. Hy hou daarvan om altyd aan ander mense te dink.

Lisa vertel weer dat sy en haar pa ’n besonderse verhouding het, en dat hulle ’n egte band het. “Ons het fun saam, maar ons kan ook saam diep praat”. Volgens haar, is sy haar pa se “klein prinseskind”. Sy voeg by: “Hulle sê jou pa is die eerste een wat jou lief gehad het”.

Vir Lisa is haar pa nie net ’n pa nie, maar ook ’n vriend en ’n skouer om op te huil. “Ons kan saam kuier en gesels. Dis nie dat hy net die pa-rol speel nie. Ons het ’n vriendskap ook... Hy’s weird... Hy kan ’n grappie gaan uithaal as hy moet... Daar’s net een van hom, en [ek is bly] hy’s myne.”

Waarna of na wie verlang jy? Deel gerus jou gedagtes met ons op sosiale media. Gesels saam op FacebookInstagram en Twitter met die hutsmerke, #Kwarantyn, #SpanLeRoux en #SpanScheepers.

Kwarantyn sal vanaf Woensdag 10 Junie om 21:00 elke dag en heeldag op kykNET se nuutste opwipkanaal, DStv-kanaal 149, uitgesaai word.

Maandae tot Saterdae sal daar daagliks om 17:00 ’n 24 minuut-lange hoogtepunteprogram (behalwe Woensdae is dit ’n 48 minuut-lange program om 20:00) op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.