Logo
Kokkedoor

EN, DIE WENSPAN VAN KOKKEDOOR 3 IS...

Nuus
10 Oktober 2019
Lees hier vir meer inligting oor die Kokkedoor 3-wenners.
1

Uitgereik deur: kykNET & Homebrew Films

Navrae: Wilmer Müller
Selnommer: 082-789-044
E-pos: [email protected]

 

Pach du Plooy (36) van Heilbron en Wilhelmina Thirion Garçao (40) van Bloemfontein is die wenners van kykNET se gewilde Kokkedoor-werklikheidsreeks!

Dié twee het in die finale episode van Kokkedoor, wat Donderdagaand uitgesaai is, teen Sonja de Beer (52) van Pretoria en Anmar Wilding (35) van Bloemfontein meegeding.

In ’n epiese kook-stryd moes dié twee spanne elk ’n feesmaal vir 100 glansryke gaste voorberei, terwyl die uitdaging ook ’n Art Deco-tema gehad het. Soos in die vorige twee Kokkedoor-reekse is die tradisie ook voortgesit dat die res van die top-20 Kokkedore ’n terugkeer gemaak het kombuis toe om die top-twee spanne by te staan vir die flambojante finale uitdaging.

Pasch, die kinkelkok, glo die oorwinning is vir hom ’n nuwe begin van sy kos-reis.

“Dit gee vir my ’n platform om drome, waarvan ek al vergeet het in die gejaag van die lewe, te herontdek en uit te leef,” sê hy.

“Van dié drome, soos om oor kos te wil skryf en te gaan reis met kos as fokus, kan nou waar word, terwyl die wen vir my boonop ’n aansporing is om aan te hou kos maak.”

Volgens Wilhelmina, ’n onhtoukok, voel sy nederig en dankbaar om saam met Pasch die 2019 Kokkedoor-kroon te dra.

“Al die jare se harde werk en amper moed opgee het uiteindelik vrugte afgewerp en my werk word erken as goed genoeg,” sê sy.

            Pasch en Wilhelmina wen ook groot pryse:

  • Elkeen wen ’n motor van Suzuki Suid-Afrika en ry elk met ’n blinknuwe Swift weg.
  • Pasch as onthoukok kry R200 000 kontant met die komplimente van Kokkedoor se spens- en hoofborg Food Lover’s Market.
  • Wilhelmina as kinkelkok kry ook R200 000 van Clemengold.

Die naaswenners word ook beloon:

Sonja (onthoukok) en Anmar (kinkelkok) kry elk R100 000 kontant van Spekko.

Hetta van Deventer-Terblanche en Nic van Wyk was die beoordelaars, maar hulle is vanjaar deur die bekende kosskrywer en-blogger, Sam Woulidge, bygestaan. Die reeks is deur Homebrew Films vervaardig met Paul Venter as uitvoerende vervaardiger en Sanet Olivier as regisseur.

             Wat is ’n onthoukok?

Hulle is die fakkeldraers vir onthoukos en al het hulle nie formele sjefs- opleiding en professionele ondervinding nie, klop hul harte warm vir tradisionele kos. Vir inspirasie span hulle herinneringe en beproefde metodes van ma’s, oumas en tannies uit die kombuis in. Onthoukokke is gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis en passie vir onthoukos.

             Wat is ’n kinkelkok?

’n Kinkelkok se uitdaging is om hul sjefs-kwalifikasies, professionele kombuis-ervaring en uitstekende tegniese vaardighede vir vernuwing in te span. Hulle is gekies vir hul kwalifikasies en/of hulle ondervinding in ’n erkende restaurant en professionele kombuis.

Kokkedoor is geskiet by Atlantic Studios in Milnerton, Kaapstad, waar reekse soos Suidooster, Tussen Ons en Kwêla ook vervaardig word.

10 Oktober 2019