Logo
KLOP!
web uni tv guide

KLOP!

145GeselsprogramPG13

"KLOP!" groet ná ses seisoene

Nuus
16 Mei 2024
Ná meer as 250 episodes kom dié program tot 'n einde.
Lyntjie Jaars en Heindrich Wyngaard

kykNET&kie se eerste geselsprogram, Kô lat ons praat, alombekend as KLOP!, se sesde seisoen is ook die laaste. Ná meer as 250 episodes kom dié program op Sondag 30 Junie tot ’n einde.

“kykNET bedank die vervaardigers, IdeaCandy, die aanbieders en elke lid van die produksiespan wat weekliks ’n program vol inspirasie en gemeenskapstories na kykers gebring het. Kykers kan uitsien na ’n opwindende aankondiging op ’n latere stadium oor ’n splinternuwe geselsprogram,” sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van Premium-kanale.

Heindrich Wyngaard, aanbieder van KLOP!, sê die program het hom die afgelope ses jaar die wonderlike voorreg gebied om bruin verskilmakers, bruin presteerders, bruin kultuur en bruin geskiedenis met kykers te deel. “My wens is dat nuwe platforms hiervoor geskep sal word,” sê hy.

Die program het deur die jare verskeie veldaanbieders, waaronder Crystal-Donna Roberts, Renaldo Schwarp en Ephraim Gordon gehad. Lyntjie Jaars het in 2023 as aanbieder aangesluit.

“Deur KLOP! het ek geleer dat in die eenvoud van die lewe skuil daar vir jou ’n skat,” sê Lyntjie. “Baie dankie vir elke skat wat ons weekliks kon deel met wonderlike kykers. Baie dankie vir onse stories, ’n platform van integriteit en oorvloedige seëninge.

Dit is omtrent bittersoet om totsiens te sê, maar waar ons ook al mekaar raakloop, sal ons xhorro en xhoulag.”

Stephanie Pekeur, KLOP! se inhoudsregisseur sê die program sou nooit gewerk het sonder  kykers wat so eerlik hulle lewensverhale gedeel het nie. “Ek glo en vertrou ons het hierdie stories met deernis vertel en dat ons inderdaad mense wie se stemme en stories, wat nooit voorheen gehoor is nie, gevier het,” sê sy. “Niemand het flair soos KLOP! se mense nie. Kap aan en hou aan praat en jou storie vertel.”

“Dit was vir ons ’n uitsonderlike voorreg om KLOP! vir ses jaar te kon vervaardig,” sê Wynette Theart van IdeaCandy. “Die warm en openhartige terugvoer van kykers was met elke episode ’n riem onder die hart. Elke gas op die kenmerkende geel KLOP!-bank het ’n merk gelaat, en die program se nalatenskap is diep in ons en die kykers se harte gevestig. En soos Meneer KLOP!, Heindrich Wyngaard, altyd sê: ‘Wees lekker met jouself en wees lekker met ander mense!’”

KLOP! word elke Sondag om 18:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook op DStv Stream beskikbaar.