Logo
Getroud Met Rugby Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Sepie13

Juanita & Zia – Getroud met Rugby

Nuus
14 Oktober 2020
Juanita De Villiers Velts oor baba Zia: ‘'n Mens kan nie die liefde beskryf tot jy dit self ervaar het nie'.
Untitled design

Die Getroud met Rugby-aktrise, Juanita De Villiers Velts en haar regisseurman, Andre Velts, het onlangs vir die eerste keer ouers geword. Klein Zia is op 3 September 2020 gebore. Ons het met Juanita gesels om uit te vind hoe dit met Zia gaan.

1602506780 28 img 8596

Hoe voel dit om ’n nuwe mamma te wees?
Ek weet almal praat daaroor, maar ’n mens kan nie die liefde beskryf tot jy dit self ervaar het nie. Vir die eerste keer in my lewe voel ek groot en volwasse, én verantwoordelik. Dit is partykeer stresvol, maar oor die algemeen koer ek verskriklik oor die kleinding. Sy is ’n ongelooflike plesier en ek kry net genot uit haar.

Vertel ons van klein Zia se geboorte, hoe was die ervaring vir jou?
Ons het probleme opgetel met die plasenta, en sy het in my maag gewig verloor (200g in twee weke). Die dokter het besluit hy wil haar eerder uithaal as wat ons die gevaar loop dat sy nóg kleiner word. Dit was verskriklik vinnig op ons en dit was baie stresvol. Ek het nie geweet of sy oukei gaan wees nie. Ek het nie geweet wat om te verwag nie en ek was verskriklik bang vir die keiser. Ek het gelukkig vinnig herstel en dit was glad nie so seer soos wat ek gedink het dit gaan wees nie. Ek was ná die tyd baie bly dat ons dit so gedoen het en dat sy op haar eie kon sterker word en groei.

En ná die keiser?
Aangesien dit ’n noodkeiser was, moes hulle jaag om haar in ICU te kry nadat die naelstring geknip is. Sy kon nie op haar eie asemhaal nie. Andre was saam met haar ICU toe en ek moes agterbly om te herstel. ’n Mens lag nou daaroor, maar my grootste vrees was dat iemand haar sou steel of dat sy sou wegraak. Ek het nogal angstig gevoel en ek het gereeld vir Andre gevra waar sy is en of sy oukei is. Ek was bang ek gaan haar nie herken nie omdat ek nog nie regtig geweet het hoe sy lyk nie. Sy is die Donderdagmiddag halfdrie gebore, en ek kon haar eers die Vrydagoggend om elfuur sien. Sy was so klein en fyn… my hart het omtrent gebreek toe ek sien hoe klein sy is. Sy was vir nege dae lank in ICU en dit was vir my ’n moeilike tyd. Maar, op dag vyf het sy ’n ommeswaai gehad en ’n mens kon daardie vegtergees in haar sien.

Hoe het jy gevoel toe julle hoor julle mag haar huis toe vat?
Ek was verskriklik opgewonde! My ouers was toe ook reeds by ons huis. Ek was só gereed want vir vyf dae lank moes ek elke twee tot drieuur tussen die huis en die hospitaal travel om haar te borsvoed. Gelukkig is die hospitaal net vyf minute van ons huis af. Maar, die dokter het haar die oggend toe sy ontslaan sou word vir geelsug getoets en sy moes nog ’n dag langer bly. Dit was baie teleurstellend en ek het begin huil. Maar, die geelsug het gesak en ons kon die volgende oggend uiteindelik huis toe gaan. Ek was baie dankbaar om haar vir my ouers te kon wys - dit was baie spesiaal.

Hoe was die eerste paar dae (en veral snags) tuis?
Ek en Andre het die eerste aand glad nie geslaap nie. Al die verantwoordelikheid was toe op ons - daar was nie ’n suster wat kon uithelp nie. Lag. So, ons was ’n bietjie meer angstig en gespanne. Sy het langs ons bed in die wiegie geslaap en ons het met elke geluid opgespring. Nag twee was makliker omdat ons haar bewegings en geluidjies begin verstaan het. Sy slaap en drink nou goed en ek is baie dankbaar daavoor!

Het jy enige raad van vriendinne of familie gekry?
Ja, verskriklik baie. Goeie raad, en nie noodwendig wat ek wou hoor nie. Lag! Ek het vroeg besluit ek gaan na raad luister wat vir my, en vir ons as gesin werk. Daar is wonderlike groepies op Facebook, veral oor borsvoeding, wat ek volg. Dis lekker om te lees wat ander mammas sê en om ’n ander perspektief te kry. My liewe skoonsus het ’n groot invloed gehad op my. Sy het al drie kinders grootgemaak en sy het wonderlike raad gegee wat baie gehelp het. Baie van my vriendinne by die werk het ook amazing raad gegee. My suster, Adele, het my gehelp met voorgeboorteklasse en sy loop steeds ’n pad saam met my.

Wat het Zia geweeg toe sy gebore is? En hoe lank was sy?
Sy het 2,29kg geweeg en sy was 47cm lank.

Na wie lyk sy die meeste, jy of Andre?
Sy lyk nes Andre en sy familie. Sy het my lippe en sy het definitief my pa se klein ken, so daar is darem trekke van ons De Villiers-familie ook.

Watter soort pa is Andre?
Dis so ongelooflik want ek het ewe skielik ’n ander soort liefde vir hom ontwikkel. Die liefde wat hy met haar deel en om hulle verhouding te ervaar, is regtig mooi om te sien. Hy is so versigtig met haar en baie beskermend.

Waar kom die idee van haar naam vandaan?
Ons het nogal gesukkel om ’n dogtertjie-naam te kry. Ek het toe op die Meksikaanse sonteken, Zia, afgekom wat lig en prag beteken. Dit het by my gesit en ek en Andre was albei gek daaroor. My groot motivering was om vir haar ’n sterk en positiewe naam te gee, juis omdat ’n mens dit so baie oor haar uitspreek.

Kuier sy al op Getroud met Rugby se stel?
Ja, ek het al met haar gaan spog. Lag. Daar is gelukkig baie babysitters en almal is baie lief vir kinders.  

Wil jy en Andre nog kinders hê?
Vra my oor ’n jaar! Lag. Ek weet nie of ek nou al aan ’n tweede kind kan dink nie, ek wil eers die eerste een groot kry. Maar ja, ek dink ek sal verseker nog ’n kind wil hê.

Hoe sal julle ouerskap in 10 woorde beskryf?
Juanita: Min slaap, opoffering, baie liefde, cuddles en ’n ongelooflike voorreg.
Andre: The best human experience a spiritual being can ever experience. Dis ongelooflik om te dink hoe die wêreld aanmekaar gesit is en hoe miracles werk.

Wat is jou raad vir ander nuwe mammas, of vroue wat swanger is?
Luister na almal, maar vat en gebruik dit wat vir jou werk. Dis ’n baie persoonlike journey. Moenie skuldig of sleg voel as iets nie gebeur soos wat jy beplan het nie. En, geniet elke oomblik.

1602506870 28 dscf1475

Juanita en Andre sê graag dankie aan die volgende borge:
My1Moment Photography
MKD Baby
Nails at Belinda
Michelle Nolan