Logo
Fynskrif
web uni tv guide

Fynskrif

144Drama16 L

’n Cappuccino met Cintaine – Fynskrif 3

Nuus
15 Junie 2020
Die bekroonde aktrise, Cintaine Schutte, nou ook mev. Carel Nel, het gehore aan haar voete; kritici hang aan haar lippe. Haar veelsydigheid op die verhoog, op die kassie of die grootskerm, laat jou opnuut verstom staan. Maryke Roberts gesels met haar oor haar onlangse troudag; haar toekennings vir haar toneelspel en wat die toekoms inhou.
Cintaine Article Image

Deur Maryke Roberts

 

Carel is veral bekend vir sy rolle as Chris Barnard in die kykNET-fliek Hartstog; Hum en met sy vreesaanjaende tatoeërmerke vir die karakter, Rasher, in Blood Drive.

Cintaine het haar van behou vertel sy, terwyl sy onder ’n wynrooi herfswingerd aan ’n rooibos cappucino teug; haar bene gemaklik onder haar ingevou. Mens kan nie glo dat sy soveel veelsydige rolle kan speel; só maklik tussen hulle kan wissel tydens kunstefeeste en verfilming vir televisie of die grootskerm nie.

Sy het pas haar derde kunstefees met die stuk, Tien Duisend Ton met Albert Pretorius agter die rug. Dit het beste aktrise en beste debuut-produksie by Woordfees 2019 ingepalm. Die aangrypende stuk kyk na hoe diep die voetspoor is, wat ons op die aarde agterlaat? Wat weeg ’n kind? Hoe bring ’n mens ’n nuwe lewe in die wêreld in ’n era van politieke onrus, klimaatsverandering en ’n oorheersende gevoel van wanhoop? ’n Man en vrou oorweeg ’n baba, maar worstel met die impak wat dit kan hê - nie net op hul eie lewens nie, maar ook op die mensdom as geheel.

Gehore sit nou ook vasgenael vir haar vertolking van Mart Vermaak, ’n jong meisie wat koshuis toe moet gaan in die donker dae van Apartheid - blootgestel aan die traumas van grootword, swangerskap en selfmoord teen die agtergrond van die 70’s se politieke leuens en die verminking van jong mans in die Grensoorlog, in die toneelstuk, Die dinge van ’n kind. Die teks is geskoei op die bekroonde roman van Marita van der Vyver, wat in 1994 verskyn het.

Ek wonder of Die dinge van ’n kind een van haar gunsteling boeke as tiener was, maar besef terwyl ek vra, dat sy hopeloos te jonk is. Sy vertel: “Die boek is ’n cult classic. Almal ken die storie. Ek het mense geken wat grens toe moes gaan, maar daar is nooit oor gepraat nie. Ek het van die boek geweet, maar dit was eers toe die oproep kom om te vra of ek belangstel om die rol te speel, wat ek dit gelees het,” vertel sy.

Margit Meyer-Rodenbeck, saam met Alexa Strachan van Arena Produksies, wat die stuk vervaardig, drink saam met ons cappucino. Sy voeg by hoewel dit ’n merkwaardige boek is, het dit dalk destyds bietjie in Griet skryf ’n sprokie se skaduwee geleef en baie mense het dit misgekyk.

Haar bors is breed oor Cintaine se sukses, veral in hul nuutste produksie. “Cintaine was ons eerste keuse. Ons het ’n plan B gehad as sy ons aanbod van die hand sou wys, maar in ons harte het ons geweet sy is die regte een.”

En hoe reg was hul instink nie: haar spel word beloon met die Aardklop 2019 Toekenning: Beste vertolking in ’n solo-produksie. Sy is ook vir ’n Fiësta 2020 nomineer vir haar spel en pas benoem vir ’n WoordTROfee vir beste vroulike speler.

Die vertoning by die Woordfees in Maart - vyf maande later - was klaar anders as die een waarvoor sy die prys by Aardklop ontvang het, vertel sy. “Ek is klaar ’n ander mens as toe en daarom is my spel ook anders. En natuurlik bring elke gehoor sy eie dinamika na die teatersaal.”

Cintaine se CV se toekennings en nominasies-afdeling is amper net so lank as die produksies waarin sy al opgetree het: Kannas en SAFTA’s en Fiëstas, ATKV Woordveertjies en BroadwayWorld.com Suid-Afrika-afdeling.

Ek wonder of toekennings druk op haar sit en haar toekomstige rolle beïnvloed. Cintaine vertel: “Ek sien toekennings en nominasies as ’n bonus. Jy ontvang erkenning vir jou werk en wat jy doen. Dis ’n aanduiding dat jy in die regte rigting beweeg; dat jy justice gee aan die karakter en storie. Dit beteken nie your job is done and you’ve nailed the character nie, eintlik moet dit jou aanspoor om nog harder te werk. En natuurlik help prysgeld baie - dis soos jou 13de tjek. Ons word soms te min betaal vir wat ons doen, so daai geld maak op. Ek probeer dat toekennings nie druk op my plaas nie. As mens uit ’n ontspanne plek kan speel, kan mens baie regkry.”

Cintaine sê die tipe teks waarmee sy hier gewerk het, is enige akteur se droom, want jy vertrou net op die storie. “Marita van der Vyver se woorde het soveel tekstuur. Ek staan voor elke vertoning saans agter die gordyn en sê vir myself: vertel net die storie; haal asem en wees present.”

Oor veelvuldige rolle op een fees, veral twee so uitmergelend soos Tien Duisend Ton en Die dinge van ’n kind, verklap Cintaine dat sy ’n geheime mantra het oor hoe om tussen die rolle te wissel. “Ek kan nie vir jou sê wat dit is nie, want ek kan nie my mantras met iemand deel nie. Dis tussen my en die karakter!”

Sy sê dis een ding wat jy nie as dramastudent op universiteit geleer word nie en dit word al meer akteurs se voorland. “Dit is belangrik dat mens leer om na afloop van ’n vertoning op ’n verantwoordelike manier uit jou karakter te klim en afstand te neem, totdat jy haar weer speel. Jy hoef nie totaal en al af te sny nie, maar jy moet ’n manier vind om veilig uit haar uit te klim en dit is iets wat jy vroeg al vir jouself moet leer.”

Op vorige feeste het sy dit ook al gedoen: Seemeeu se Masha én Katrinn in Moeder Moed; Hester in Huishou én haar karakter in Tien Duisend ton en ook Annetjie in Amper, Vrystaat én Sussie in Drif én Martirio in Die Huis van Bernarda Alba. Masha het haar die toekenning van beste vroulike byspeler laat wen. Die toneelstuk is ook later na die grootskerm toe en sy word genomineer vir ’n (South African Film and Television Awards (SAFTA) vir dié rol.

Margit voeg by dat jou spier-herinneringe (muscle memory) jou nege uit die tien keer red. Margit was self as Dowwe Dolla én in ’n rol in Die voordele van eierwit of 3 Susters by feeste op die planke en weet maar al te goed hoe jy moet kophou.

Cintaine sê wat haar rol in Tien duisend ton vergemaklik, is dat sy en Albert baie goeie vriende is. “Aanvanklik sou Carel - wat ook die stuk vervaardig het - teenoor my speel, maar toe kry hy ander langtermyn werk en ons besluit toe op Albert. Ek is veilig by hulle en dit help ook dat die stuk werk.”

Cintaine vertel dat ’n goeie teks die deurslaggewende faktor is, wat haar laat besluit om ’n rol te aanvaar. Goeie tydsbestuur is ook belangrik; jy moet besluit of jy alles gaan gee vir die rol. En die laaste punt is spanwerk; geeneen staan alleen in ’n produk se sukses of ondergang nie.”

Margit voeg by dat Cintaine ook bekend is daarvoor dat sy hopeloos oorvoorbereid is. Sy gee meer as honderd persent vir ’n rol. “Maar dis net as jy uit ’n ontspanne plek kan speel, wat jy jou beste lewer. As daar dan curve balls kom, is jy beter toegerus.”

Vir iemand met soveel toekennings, moet dit frustrerend wees dat sy meestal in skool- of kerksale speel - plekke wat gewoonlik nie met sagte stoele en goeie akoestiek geseën is nie. Sy lag en sê: “Ek het vrede gemaak met daai sale. Ek is so dankbaar vir die feeste, want dis waar my brood en botter in hierdie land lê. Buitendien, ons is gypsies en dis ons verantwoordelikheid as storievertellers om onder enige omstandighede op te tree.

“Ek het my droom bewaar, toe ons Die seeumeeu in die Baxterteater in Kaapstad kon opvoer. In die hoofteater met sy groot verhoog, teaterligte en goeie klank.”

Van die verhoog af, is sy ewe geliefd. Haar dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch en Honneurs aan die Universiteit van Kaapstad, was dus die regte keuse, merk ek laggend op. Televisiekykers ken haar in verskeie rolle: die geharde prokureur Katrien Nienaber in Fynskrif; twee verskillende rolle in twee seisoene van Die Boland Moorde; toe die rol van Michellay, ’n baie naïewe Millennial, in the kykNET sitkom, Die Kasteel en in Die Byl as Deidre Truter.

Haar eerste televisie hoofrol was as filosofiestudent, Jeanne le Roux, in die kykNET komediereeks, Phil 101. Sy vertel: “Komedie is een van die moeilikste genres om te speel. Maar dis vir my ’n ongelooflike medium om te kan speel en te kan leer. Goue rëel: Moenie probeer snaaks wees nie, speel die waarheid en eerlikheid van die situasie. Dís snaaks.”

Sy is ook te sien in die films, Knysna, Sonskyn Beperk en Die seemeeu.

Dit bring mens na haar persoonlike lewe. Sy is in November in Kaapstad met Carel getroud. Hulle was agt jaar ’n paartjie voor hulle in November die knoop deurgehaak het. Hul troufoto’s wys hul gunsteling plekke in die Moederstad, ’n plek wat vir dié Gautenger en Bloemfonteiner waarlik huis geword het.

Die twee het in die teater - waar anders? - ontmoet. Hulle het saam in ’n toneelstuk, Dream Brother, met Tara Notcutt as regisseur, gewerk. Cintaine sê Carel is die lojaalste mens wat sy ken en hulle is mal oor Kaapstad en om saam tuis te wees - natuurlik ’n luukse omdat hulle so baie afsonderlik vir werk reis. “Ek is dankbaar ek is saam met iemand wat my beroep verstaan en respekteer. En vica versa.”

En hoe lyk die res van 2020 vir Cintaine Schutte? Sy vertel dat sy later vanjaar te sien is in die nuwe kykNet-reeks, Ekstra Medium. “Noudat die feeste uitgestel is, hoop ek vir ander speelvlakke vir Die dinge van ’n kind sowel as Tien Duisend Ton. Ek skiet aan ’n reeks en film, maar kan nog nie daaroor praat nie.

“Wat ek wel mag vertel, is dat ek begin werk aan ’n nuwe toneelstuk van Retief Scholtz met die naam, Dobbel. En dan beoordeel ek die ATKV Tienertoneel-kompetisie en dis altyd een van die hoogtepunte in my jaar.”

Dit en dat oor Cintaine:

Watter rol wat jy al vertolk het, is die naaste aan jou eie persoonlikheid en watter rol wat jou man, die akteur Carel Nel, hy al vertolk het, is absoluut geskryf vir hom?

Ek probeer om altyd bietjie van myself en waarheid in ’n karakter te sit, om vanaf ’n plek van eerlikheid te speel en in ruil leer ek ook bietjie van myself en die verskillende kante van myself. Ek leer by elke karakter iets van die lewe - hoe wonderlik is dit nie!

Ek dink die rol van Lafras Verwey in die toneel stuk Die rebellie van Lafras Verwey  wat Carel destyds onder die vaandel van die The Mechanicals vertolk het, het hom soos ’n handskoen gepas. En ek dink hy het pragtige werk gedoen met Chris Barnard. Maar die ding van Carel en sy rolle wat hy aanpak, is dat hy altyd die interressantste keuses maak en dit deurtrek - hy speel altyd teen die obvious en hy hou dit vars. Hy inspireer my elke dag. Dis altyd lekker om hom waar te neem as hy voorberei vir al sy rolle.

Wat is huis, hoe ontspan julle daar en het julle troeteldiere?

Ons het Lily, ons kat - die baas van die huis. Ons kook saam, kyk stories saam, luister en ontdek nuwe musiek, onthaal vriende en  rus. Dis ons sacred space. Ons is soms so baie weg van die huis af as gevolg van ons werk, dat huis vir ons baie belangrik is.

Wat geniet jy aan die diversiteit van televisie, film, teater?

Elke medium het sy eie dissipline en uitdagings. Teater is lewendig en live people walk away from it feeling moved differently by having been there and sharing the experience met die performers en met mekaar. Om ook elke dag in repetisies of na ’n performance te kan sê: Môre probeer ons weer - elke dag terug te kom en te skaaf en te vind en te delf en saam met die karakter te groei. Film en TV is onmiddellik - jy het net een kans, daai paar takes om iets vas te vang, wat die waarheid van die karakter weergee. Dit verg baie dissipline, skill en craft asook prescense wat van jou verwag word. Op die ou end moet jy so eerlik as moontlik speel en die waarheid van die karakter en sy/haar situasie en waar sy/hy in sy lewe is, te speel.  Jy het ’n groot verantwoordelikheid as storieverteller om hierdie mens so eerlik as moontlik uit te beeld.

As daar een ding aan jouself is wat jy sou wou verander, wat sou dit wees?

Om te leer dat ek mag nee sê en dat selfsug nie noodwendig ’n slegte ding is nie. Dat dit OK is om boundaries te skep.

Is daar een film, teaterstuk, televisiereeks wat ’n ingrypende indruk op jou lewe gemaak het?

My brilliant friend is ’n ongelooflike reeks. Breaking bad is fenominaal - net om die journeys en spel van al daai akteurs te kan sien. Dan natuurlik Little Mermaid, as klein Cintaine en nou. Tuesdays with Morrie is een van my gunsteling boeke. Shawshank Redemption en Back to the Future 1,2 en 3.

Het jy enige reis-rituele - iets wat saamreis, iets wat jy doen?

Ek maak seker ek het altyd handeroom, sonbrandroom, Wet wipes, handsanitizer, kougom en water by my. Dagboek as ek iets wil journal. En goeie stapskoene, altyd goeie stapskoene.

As ek jou beste vriendin moet vra, wat sal sy van jou sê?

Sjoe. Umm... sag, sensitief, eerlik, laf en oop hart en altyd ’n oop huis. Sy maak ook baie, baie lekker tee.

Watter toekenning staan vir jou uit oor die jare en hoekom?

Die Fleur Du Cap was vir my so ’n groot hoogtepunt en natuurlik my eerste SAFTA-nominasie ook. Maar ek moet eerlikwaar sê, elke liewe toekenning en nominasie beteken so ongelooflik baie vir my. Dit is ’n eer en altyd lekker nuus vir jouself en die produksie.