Logo
Fluiters Slim
web uni tv guide

Fluiters

145Drama16VL

Fluiters: Die helde en die boewe

News
12 Maart 2016
Leer ken die karakters in die nuwe Deon Opperman-reeks Fluiters.
Fluiters Karakters

Vyf kollegas/vriende se suksesvolle IT-onderneming word weens ’n korrupte regeringsamptenaar gekelder. In ’n daad van vergeldende beregtiging, stig hulle ’n SecureDrop-webblad (waar fluiters bewyse van korrupsie kan lek sonder dat hulle identiteit verklap word).

Alles goed en wel, totdat hulle ’n dokument ontvang van iemand wat die skuilnaam “Leonardo” gebruik.

Lees meer oor Fluiters se storielyn hier.

Die beste stories neem die gehoor, saam met die hoofkarakters, na ’n wêreld wat hulle nog nooit gesien het nie – wat hulle dan sáám met die protagoniste ervaar, moet leer ken, en waarin die helde diep in hulle eie lewe moet gaan soek na die krag, vindingrykheid en moed om te oorleef.

Deon Opperman, skepper van Fluiters, sê elk van die hoofkarakters word fyn blootgelê, dus wat hulle dryf en hulle uniek maak – hulle unieke vrese, verwaandhede, swakhede, sterkpunte, en die veranderende verhoudings tussen die vyf van hulle.

“Met ander woorde, terwyl hulle met al die struikelblokke en probleme van die storie gekonfronteer word, is hulle terselfdertyd besig om ook te cope met die verwikkelinge wat tussen hulle as mense ontstaan – soos die karakters in Breaking Bad of Vikings, wat ons so goed leer ken het,” sê Opperman.

Leer ken die karakters van nader:

HELDE

Rudolf (Rudi) du Preez
Vertolk deur Jacques Bessenger



Uitvoerende hoof – B.Comm (Korporatiewe Finansies) MBA

Sterkpunte:

Diplomaties
Konserwatief
Tradisioneel
Teruggetrokke
Grasieus
Vredeliewend
Idealisties
Gasvry

Swakpunte:

Oppervlakkig
Versigtig
Egosentries
Besluiteloos
Onbetroubaar

Persoonlikheid – Versorger: ISFJ (Persoonlikheidstipe – Introversion, Sensing, Feeling, Judging) – Die Beskermer

Rudi is ’n beskermer. Hy is prakties, barmhartig en wil graag vir ander sorg en hulle teen die lewe se wreedhede beskerm.

Sy voete is plat op die aarde en hy geniet dit om tot die samelewing by te dra. Hy is standvastig en neem verantwoordelikheid vir ander. Só wil hy ook hê ander moet weet hy is betroubaar en dat hy dít wat van hom verwag word kan uitvoer. Take word deeglik en metodies uitgevoer, en Rudi sal nie ophou voor hy nie geslaag het nie.

Verhoudings is vir hom belangrik en hy wil graag hê almal moet goed met mekaar klaarkom. Hy is op soek na stabiele verhoudings en kom die beste oor die weg met dié wat hy weet hy kan oor die langtermyn vertrou.

Rudi respekteer tradisie en hou daarvan om te weet hoe dinge in die verlede gedoen is. Hy is lojaal teenoor gevestigde metodes en bly getrou aan die “regte” manier van dinge doen.

Die fokus is selde op hom, want hy hou nie daarvan om aandag na homself te trek nie. Hy vaar goed in verhoudings, maar hou beslis terug wanneer hy tussen mense is wat hy nie ken nie. Hy sal nie maklik persoonlike inligting oor homself deel nie. Sy fokus is sterk op sy omgewing en hy sal dikwels gesels oor wat hy eerstehands ervaar het.

Rudi luister graag en onthou spesifieke feite rondom mense.

Interessante feite:

Rudi glo in ’n hoër geestelike krag.
Hy kry kroniese hoofpyne.
Hy het die beste gevaar in sy MBA-klas.
Hy kyk graag TV-reekse (binge watch).
Hy is so te sê altyd in skuld gedompel.

Sterreteken – Weegskaal:

Rudi weet hoe om homself in ander se skoene te plaas en dinge uit ’n ander perspektief te beleef. Hy is die een wat dinge regstel en streef na ’n balans in sy lewe, sy omgewing en die lewens van sy naastes. Hy is sjarmant, elegant en dis maklik om van hom te hou. Hy is ’n uitstekende luisteraar en weet hoe om mense te kalmeer, maar soek waardering in ruil daarvan. Omdat hy so gemaklik voorkom, is dit maklik om te vergeet hoe intelligent hy werklik is. Hy hou van luukshede en spandeer graag geld om homself met mooi goed te omring. Hy voel maklik gevlei en is gepla met sy voorkoms.

Sandra ‘Sandy’ Roos
Vertolk deur Marisa Drummond



Bemarkingshoof – B.A. (Bemarking)

Sterkpunte:

Lojaal
Kalm
Stabiel
Passievol
Vindingryk
Oplettend
Dinamies

Swakpunte:

Versigtig
Tradisioneel
Obsessief
Agterdogtig
Manipulerend
Onbuigsaam

Persoonlikheid – Pragmatis: ISFJ (Persoonlikheidstipe – Introversion, Sensing, Feeling, Judging) – Die Inspekteur

Sandy is verantwoordelik en georganiseerd – sy skep en dwing graag orde af. Sy is netjies en agtermekaar, binne en buite, en is geneig om ’n spesifieke roetine te volg met enigiets wat sy aanpak. Sy is pligsgetrou en volg reëls en regulasies getrou.

Sy is standvastig en produktief, en hoewel sy ’n bietjie van ’n introvert is, is sy selde geïsoleerd. Sy weet waar sy in sy samelewing hoort en wil beter verstaan hoe sy kan deelneem. Sy hou daarvan om te weet wat die reëls van die spel is, en voorspelbaarheid tel vir haar meer as verbeelding. Sy maak staat op persoonlike ervarings om haar te lei en is gemaklik in haar bekende omgewing.

Sandy is hardwerkend en sal nie rus tot ’n taak afgehandel is nie. Sy is logies en metodies en hou daarvan om probleme met behulp van stappe op te los.

Sy steur haar min aan mode – vir háár moet ’n kledingstuk of item prakties wees. Sy is meer entoesiasties oor feitelike inligting as abstakte konsepte en verkies ’n stabiele werksomgewing met duidelike verwagtinge en min verrassings. Sy geniet spanwerk, solank dit duidelik is wie die opdragte gee.

Interessante feite:

Op hoërskool was sy onderhoofmeisie.
Finansiële sekuriteit is vir haar belangrik.
Dinge moet “volgens die boek” gedoen word – selfs etepartytjies.
Sy draf 10 km elke oggend om 05:45.

Sterreteken – Skerpioen:

Dit is moeiliker om Sandy te lees as wat mense mag dink. Sy lyk dalk koud en afgesonder, maar daar is geen tekort aan innerlike wilskrag en passie nie. Sy probeer altyd dieper delf om agter die kap van die byl te kom en kopspeletjies interesseer haar glad nie. Mense is ook baie bewus van dié feit.

Sy is geneig om beheer te neem, veral oor dié wat dit toelaat. Sy het baie respek vir Rudi, en behandel hom baie goed. Haar naastes weet sy kan ’n beheervraat wees, maar hulle weet ook sy moet beheer neem om haarself te laat veilig voel. Sy is baie trots en wil nie hoor dat sy verkeerd is nie.

Dirk Els
Vertolk deur Neels van Jaarsveld



Selfgeleerde rekenaar-ghoeroe (met kennis van programme soos Python, VBA en Tkinter)

Sterkpunte:

Onafhanklik
Buigsaam
Sosiaal
Entoesiasties
Vrygewig
Braaf

Swakpunte:

Dominerend
Veeleisend
Kort van draad
Selfsugtig
Impulsief
Ongeduldig

Persoonlikheid – Pragmatis: ISFJ (Persoonlikheidstipe – Extraversion, Sensing, Thinking, Perception) – Die Dinamo

Dirk is energiek en jaag opwinding na. Hy vaar op sy beste wanneer hy vure moet doodslaan – letterlik of figuurlik. Hy kan ’n situasie vinnig opsom en met praktiese oplossings vorendag kom. Hy is speels en snaaks, en blaas lewe in enige situasie.

Daar is nooit ’n saai oomblik met hom in die omtrek nie, omdat hy sy gehoor goed lees en vinnig kan aanpas om die gesprek interessant te hou. Hy raak nie maklik ernstig of emosioneel nie en hou daarvan om sy vaardighede in gevaarlike omstandighede uit te toets.

Hy wil dadelik resultate sien (langtermyn-oplossings interesseer hom nie) en hou mense dikwels op hul tone.

Interessante feite:

Hy het ná skool deur Europa en Suid-Amerika getoer.
Hy het nooit by die universiteit klaargemaak nie.
Hy het in Afrika as ’n IT-tegnikus gewerk.
Hy het ’n meisie swanger gemaak toe hy een aand in Pretoria gekuier het.
Hy het vir twee weke in ’n Deense tronk beland toe hy die grens met dagga probeer oorsteek het.
Op skool was hy ’n langafstand-kampioen.

Sterreteken – Ram:

Dirk hou daarvan om te dink sy lewe is opwindend en geniet die aandag wat hy by mense kry. Hy is van nature ’n goeie leier en hou daarvan om iets na te jaag (dis lekkerder om iets na te streef as om dit te kry). Hy is impulsief en dink nie voor hy praat of doen nie. Hy hou daarvan om nuwe dinge te probeer, wat verhoudings insluit. Hy is egter nie iemand wat omgekrap moet word nie. Sy kort humeur kan maklik vlamvat.

David Pietersen
Vertolk deur Wayne van Rooyen



IT-spesialis – B.SC (Hons) Rekenaarwetenskap

Sterkpunte:

Barmhartig
Diskreet
Doelgerig
Hardwerkend
Logies
Selfversekerd
Metodies
Aanpasbaar
Toegewyd
Verbeeldingryk

Swakpunte:

Oorsensitief
Besluiteloos
Selfbejammerend
Ontvlugtend

Persoonlikheid – Teoreties: INTJ (Persoonlikheidstipe – Introversion, Intuition, Thinking, Judgement) – Die Meesterbrein

David is gretig om probleme op te los en met innoverende idees vorendag te kom. Hy fokus op die wyse waarop hy sy omgewing analiseer en voel minder gemaklik met die onvoospelbaarheid van mense en hul emosies. Hy is selektief oor verhoudings met mense en omring homself met mense wat hom op ’n intellektuele vlak stimuleer.

Die wêreld is soos ’n skaakbord en David geniet dit om aan nuwe oplossings te dink en te verstaan hoe sisteme werk. Hy probeer altyd om homself te verbeter en handhaaf ’n hoë standaard vir homself en ander.

Hy kan baie reguit voorkom, maar dis meestal omdat hy die kleiner besonderhede uitlaat. Hy verwag van ander om sy wysheid raak te sien en vaar uitstekend is sy werk. Hy geniet dit om óf op sy eie óf in ’n klein groep te werk.

Interessante feite:

Hy is ’n alkoholis.
Sy rekenaar-wagwoord is: 1honestyopenmindednesywillingness2
Hy glo nie aan ’n hoër geestelike krag nie.
Hy het ’n beurs ontvang om verder te studeer.
Daivd is al vir vier jaar lank enkellopend.
Op hoërskool het hy gedink hy is ’n Bhoeddis.
Hy kan nie sonder sy rekenaar klaarkom nie.

Sterreteken – Vis:

David ervaar intense emosionele hoogte- en laagtepunte. Hy beskik oor die vermoë om mense se motiewe te verstaan. Hy is geneig tot dwelmmisbruik, veral omdat hy bang is vir verandering. Hy laat egter nie toe dat ander hom onder kry nie en staan maklik op vir homself. In sy vriendekring is David die sensitiefste van die lot, en is hy vasgevang in ’n droomwêreld. Hy is op soek na ’n vrou wat beheer kan neem, maar op ’n subtiele manier.

Nicolene ‘Nikki’ September
Vertolk deur Kim Syster



Sy bestuur die maatskappy se interne bedrywighede. Sy ken die maatskappy se finansiële storie en fokus ook op kliëntediens.

Sterkpunte:

Selfversekerd
Verantwoordelik
Vrygewig
Gee om
Lojaal
Aanmoedigend

Swakpunte:

Pretensieus
Melodramaties
Egosentries

Persoonlikheid – Versorger: ESFJ (Persoonlikheidstipe – Extroversion, Sensing, Feeling, Judging) – Die Verskaffer

Nikki is baie sensitief vir ander se behoeftes en is toegewyd. Sy gee nie net aandag aan ander se gevoelens nie, maar ook aan haar eie. Sy is gretig om mense tevrede te hou, maar ook vir hulle te sorg.

Tradisie is vir haar belangrik, en daarom kom haar vriende en familie eerste. Sy sien dikwels dinge as óf swart óf wit, en is nie skaam om mense se optrede te evalueer nie. Sy hou van samewerking en dink dit is slegs moontlik wanneer almal dieselfde reëls volg.

Sake kom eerste, dan plesier. Sy is produktief en georganiseerd, maar hou ook daarvan om stories oor die mense rondom haar te deel.

Interessante feite:

In haar vriendekring weet sy beter as almal hoe om stres te hanteer.
Sy glo in ’n hoër geestelike krag.
Sy is die enigste lid in haar familie wat ná skool verder gaan studeer het.
Sy is verlief op David.
Sy is mal oor haar werk.

Sterreteken – Leeu:

Nikki wil ’n leier wees, maar word ’n slaaf vir dié wat sy die meeste bewonder. Sy hou daarvan om dinge te doen soos wat dit gedoen behoort te word, maar kan soms ander se lewens beter as haar eie organiseer. Mense dink dalk sy is baasspelerig, maar sy is ook baie aanmoedigend en help sonder om gevra te word. Sy is ’n goeie vriendin, maar kan soms haar energie op die verkeerde mense mors.

Sy is passievol en getrou, maar ook baie sensitief. Sy is die koningin van haar eie koninkryk – of dit nou van haar ander helfte of haar werk is.

BOEWE

Marius Weyers, Fezile Mpela en Sandra Prinsloo vertolk die rolle van die SSA-agente.


Marius Weyers


Fezile Mpele